Wednesday 22 July 2020

Moenie ANC-meesterverhaal onderskat nie





Is ouers bewus van die potensieel indoktrinerende bewussynstransformasie van hul skoolgaande kinders? In sy artikel, "Die ander kant van die geskiedenis" (02.07), wys Flip Buys van Solidariteit daarop dat diegene wie se politieke verledesiening tot verpligte nasionale meesterverhaal gemaak word, die toekoms beheer. Sodanige verskuiwing het reeds plaasgevind in ideologiese verband.

Volgens Buys kriminaliseer die ANC-meesterverhaal wittes, en veral wit Afrikaners, se verlede sodat hulle   -  as "rassiste"  -  verdien om gestraf te word. Dié verhaal speel rasse, hoe ironies, teenoor mekaar af met swart as grootmoedig vergewensgesind en wit wat, misdaadontkennend, aan voorregte bly vashou.

Deur eie ervaring, waarneming en mediaberiggewing weet ons dat anti-wit sentiment sterk figureer in die ANC-meesterverhaal. Dié verhaal is nie ons almal se verledeverhaal nie.

Buys sê dié meesterverhaal weerklink daagliks in skole, die media, in wette en politieke toesprake. Die leerlingbevolking word dus ook blootgestel aan die indoktrinerende propaganda van die ANC-verhaal.

Gebreinspoeld krities kykende deur die ANC-verhaalbril na die eie en kultuurgenote se verlede, word die moontlikheid geskep om nie net tot fel veroordelende kritici van die eie mense getransformeer te word nie, maar ook slagoffers van kultuurvervreemding te word.

Die moontlikheid van die transformasie van 'n hele geslag van kinders tot die ontwikkeling van skuldgevoelens, is 'n werklikheid  -  om skuldig te pleit waar skuld selfs onaanwysbaar is  -  'n vorm van sielkundige teistering.

Die potensieel ideologiese transformasie van ons jeug, in wie se hande ons toekoms rus, durf nie onderskat word nie.





No comments:

Post a Comment