Wednesday 8 July 2020

Chinese invloed op Suid-Afrika wek kommer

China, tans skerp in fokus van die internasionale gemeenskap weens die Covid-19-pandemie, ervaar waarskynlik grimmige verleentheid.

In 2012 besoek ons Antigua, 'n Karibiese eiland. 'n Gids vertel dat hul gemoderniseerde lughawe en wêreldgehalte sportkompleks "geskenke" van China is. In ruil moet Antigua in alle VN-vergaderings pro-Chinees stem. China, soos die ANC, werf steun deur stemkopery.

Deur hulpverlening aan behoeftige lande infiltreer Chinese invloed strategies wêreldwyd. Volgens kenners is China tans besig met neo-kolonisering van Afrika, waaronder Suid-Afrika, as teikengebied.

Afriforum en Opinor het onlangs 'n verslag vrygestel oor negatiewe Chinese invloed in Afrika/Suid-Afrika. Chinese beleggings word gekenmerk deur ongunstige voorwaardes en gebrekkige deursigtigheid. China oefen sterk anti-demokratiese invloed uit op plaaslike politieke en ekonomiese instellings  -  Hongkong as voorbeeld.

Deur Chinese toedoen word ons eie natuurlike omgewing en biodiversiteit beskadig, ontbossing vind plaas, beskermde diersoorte gejag, waterbronne bedreig, lugbesoedeling vererger en visroof in SA-gebiedswater vind plaas.

China, voorheen as na die Rooi Gevaar verwys (toe bespotlik gemaak), het die ANC vanaf 1994 toenemend onder sy totalitaristiese, sosialisties-kommunisties imperialistiese vlerk ingetrek. Dit dwing ons om ons self af te vra waarom soveel van ons jong seuns dan, in die fleur van hul lewe, tevergeefs tydens grensdiens moes sterf ter bestryding van juis dié vyandelike ideologie waardeur ons land vandag  -  onder die vaandel van demokrasie  -  regeer word?

Die uitdrukking: met sulke (ideologiese) vriende het ons nie vyande nodig nie, geld hier.




No comments:

Post a Comment