Tuesday 23 November 2010

Bang beursies sal uit kerk padgee?

Iemand merk onlangs soos volg op: Die pad na die hel is geplavei ook met (dwaalleer-) predikante. Hieromtrent sê die Bybel baie duidelik in, onder meer, 2 Petrus 2:1,17: "...en so sal daar ook onder julle vals leraars kom...Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou."

In sy tyd reeds het Jeremia gesê: "...die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! (5:30,31) Hulle sê net: 'Alles is reg! Alles is reg! Maar niks is reg nie.' " (6:14)

Dat daar sodanige woelinge in NG Kerkgeledere is wat daarop dui dat alles daarbinne nie pluis is nie, is seker en gewis. Dit gebeur vandag maklik dat, sou daar op kommerwekkende dinge in dié kerk gewys word, jy summier daarvan beskuldig word dat jy "negatief" is. Kerkbode se Jean Oosthuizen verwys sarkasties op Kletskerk na diesulkes as " 'n Groepie godsdienstig-ver-regse fundamentaliste in die NG Kerk..."

Daar bestaan 'n ontkenningsindroom; daarom word lidmate ook nie aangemoedig om te vra na die ware toedrag van sake nie. Ek noem twee voorbeelde wat dit weerspieël.

Op 'n onlangse versoek van die Oos-Kaapse streeksinode aan gemeentes om kommentaar te lewer op hul dokument, "Parallelle Strukture Rondom Kerkhereniging", reageer slegs twee lidmate in 'n gemiddelde-grootte gemeente. Waarom só min? Om verskeie redes, een waarvan dat lidmate vanweë oningeligtheid nié in staat is om kommentaar te kán lewer nie   -   'n reeds gevestigde patroon waarmee die kerk homself tevrede stel?

'n Versoek om die boek (vroeg-Desember beskikbaar), "Die Trojaanse Perd in die NG Kerk  -  die kanker van evolusie en liberalisme", onder die aandag van lidmate te bring, word geweier. Daar bestaan dan glo reeds só baie "negatiewe" geskrifte oor dié kerk. So word lidmate daarvan weerhou om sélf te oordeel of sodanige kritiek geregverdig is of nie.

Bestaan die kommer dalk dat die waarheid lidmate, en hul beursies, kan laat padgee?

Friday 12 November 2010

Christenmartelare nog steeds gedenk?

Op Sondag 14 November word die vervolgde kerk van Jesus Christus wêreldwyd herdenk.

Tans bevind meer as 400 miljoen Christene hulself wêreldwyd onder 66 regerings wat hulle vervolg, en word nagenoeg 200 000 Christene jaarliks doodgemaak.

Die apostels was die eerste martelare. Die verhaal van Stefanus is goed bekend. Petrus is onderstebo gekruisig in Rome. Johannes die Doper is onthoof. Johannes is in kokende olie gedompel en ook na die eiland Patmos verban. Andreas is in Griekeland gekruisig. Philippus sterf 'n martelaarsdood in Klein-Asië.

Nathaniël is eers lewendig afgeslag en daarna onthoof. Thomas is doodgekap. Matteus is verbrand. Jakobus (die jonge) is gekruisig. Simon die yweraar is middeldeur gesaag. Matthias is gekruisig. In 2 Korintiërs 11:23-28 vertel Paulus van sy persoonlike ontberinge vir sy geloof in Jesus Christus.

Ignatius van Antiochië is deur keiser Trajanus ter dood veroordeel. Polycarpus van Smirna is deur wilde diere in 'n arena verskeur. Die Waldense is in hul duisende deur die Rooms Katolieke Kerk vermoor. Johannes Hus is in 1415 lewendig verbrand. In die nag van 24 Augustus 1572 (Bartholomeusnag) is duisende Protestantse Christene vermoor.

Gedurende die 20ste eeu het meer Christene vir hul geloof gesterf as in die voorafgaande 19 eeue. Minstens 28 miljoen Christene het in dié eeu vir hul geloof gesterf. Sedert 33 na Christus is ongeveer 43 miljoen Christene deur sekulêre regerings vermoor. Ongeveer 6 miljoen is deur Islam-regerings vermoor, terwyl ongeveer 4 1/2 miljoen Protestantse Christene deur Rooms Katolieke vermoor is.

Die doel is nie soseer om Christene dood te maak nie, as om hulle tot stilswye te intimideer en tot kompromiemaking te beïnvloed sodat hulle nie langer Christus se opdragte gehoorsamend sal uitvoer nie. Is daar enige ánder geloof ter wêreld wat tot dié mate vervolg is as wat Christene vervolg is? En word hulle nagedagtenis nog gereeld van ons kansels gedenk?

Wednesday 3 November 2010

Jansen : vreemdeling, of studentewerwer?

In sy artikel, "Oë gaan oop as jy uit jou kringetjie beweeg" (DB,02.11), skets prof. Jonathan Jansen 'n kontrasterende prentjie tussen SA en die VSA. Hiervoor gebruik hy die terugvoer van slegs drie van 71 eerstejaarstudente   -   na afloop van hul besoek aan "top-universiteite aan die Amerikaanse ooskus"   -   asof dié drie se ervaringe hoegenaamd verteenwoordigend van al 71 sou wees!

Die vermoede bestaan dat Jansen in sy artikel vooropgeset selektief met dié studente-terugvoer werk om sy eie versweë oogmerke daarmee te bereik.

Jansen het "...iets taamlik dramaties ontdek in die lewensveranderende ervarings van dié (drie) jongmense..."  tydens hul besoek aan die VSA. Jansen wou van dié drie weet wat "...die een ding in jou buitelandse ervaring (was) wat jou verander het?" Die antwoorde van dié drie studente beskou Jansen as "...die aangrypendste verhaal van veranderde lewens wat ek in 'n baie lang tyd gehoor het."

Die eerste student sê hy is bekeer van sy verafskuwing van gays en lesbiërs. Hy het sy vooroordeel teen diesulkes in die VSA ontdek en voel nou baie skaam daaroor.

Die tweede student het haar siening verander dat "...nie alle blankes...slegte mense (is) nie...", die resultaat van "...saamleef met en gekoester word deur 'n blanke gesin..."

Die derde student het sy siening verander dat probleme slegs deur te baklei en eise te stel, opgelos kan word, na probleemoplossing deur middel van logiese denkredenering.

Ek glo vir geen oomblik dat dié studente-ervaringe so uniek en eie is, en hul veranderde ingesteldhede slegs gewyt moet word aan VSA-blootstelling nie. Indien Jansen bereid is om navraag te doen, sal hy dieselfde "aangrypende verhale" van "veranderde lewens" ook in SA self aantref.

Is Jansen dus die spreekwoordelike "vreemdeling in Jerusalem", of is dit bloot 'n subtiele reklamefoefie met die oog op studentewerwing vir sy universiteit in 'n sterk mededingende universiteitsomgewing?