Friday 23 April 2021

Word ons Godsbeskouing geïnfiltreer?




Menings oor God as vrou het betrekking. Ons sou dié menings kon ignoreer as dit nie daarvoor was dat dit die Nuwe Testamentiese Bybelse waarheid daaromtrent ernstig aantas nie.

Dit is deur Jesus Christus self dat ons God as Sy, en ons, Vader leer ken. Enkele voorbeelde: Hy leer Sy dissipels om in die gebed God as Vader aan te spreek. In sowel Getsemane as aan die kruis spreek Jesus God as Vader aan. 

Christus sê hy vaar op na Sy Vader, en wys daarop dat in die huis van Sy Vader daar baie wonings is. Hy is bestem om langs Sy Vader op Sy troon te sit. In die Apostolicum verwys ons na God as Vader. Genoeg vir eers; daar is talle verdere voorbeelde.

Jesus bring groot duidelikheid oor die geslagtelikheid van God. Waarom dié weerstand om Christus se getuienis te verwerp? Wat is dan die probleem? Ag ons Sy getuienis as onbetroubaar met ons self as beterwetend? Watter soort persoon ag hom-/haarself 'n Christen en twyfel oor Jesus se uitsprake?

Die verdagmakende twyfel oor God se geslagtelikheid as dié van 'n vrou of "heilige prisma" bring die protestant in ware Christene na vore. Tas ons nie met dié valse beskouinge die eer van die Drieënige God aan nie? 

"New Agers" is aanhangers van die gewaande en okkultiese vroulike god(in) Gaia. Word ons Godsbeskouing deur "New Age"-denke geïnfiltreer?

Ignoreer gerus die twyfelsaaiers wat God as vrou voorstel.


Saturday 17 April 2021

Min insig ook aan taalmuntstuk se keerkant



Mag ek reageer op prof. PW van der Walt se "Min insig in US se taalproblematiek" (17.04) en ook op die ander kant van die taalmuntstuk van sy "min insig"-stelling wys?

Die US-skeepskaptein en sy bemanning wat meen hullle gaan hul studentevrag met hul akademiese potensiaal sukesvol vervoer deur daarop aan te dring om slegs in Engels te onderrig, en tot kampustaal te maak, en studente te verontreg wat al struikelende en wankelende met Engelse taalkrukke oor die weg moet kom, het self min insig in die deeglik bewese opvoedkundig-onderwyskundige verband tussen moedertaalonderrig en maksimale potensiaalontwikkeling. Ontkenning hiervan, verraai min insig.

Terloops, hoe, deur wie, om watter rede en met watter uiteindelike doel voor oë is die US se taalproblematiek geskep, bevorder en steeds lewendig gehou? Sal die professor ons nie asseblief "insigtelik"  daaromtrent inlig nie?

Monday 12 April 2021

"Beste stuurmanne" nie só oningelig nie




Prof PW van der Walt se skrywe (10.04) het betrekking. Met "akademiese betrokkenheid" as skeidslyn tussen US-dosente en taalkritici van buite, etiketteer hy laasgenoemdes as "beste stuurman staan aan wal"  -  wat "onrealistiese verwagtinge koester"  -  'n manier om te sê: ons weet; julle nie?

Kan die terugvoer van "bykans 200 studente...(oor) 'n paar modules", waarvan taal slegs 'n onderdeel van dié vraelys uitmaak, as statisties verteenwoordigend van die US-studentegemeenskap se taalmenings beskou word? Beslis nie. Ons weet ook dat statistiek tot voorafbepaalde uitkomstes gemanipuleer kan word.

Aanvullend hiertoe die volgende: ons weet Afrikaanssprekendes tree as "taaljintelmans" maar te gewillig akkommoderend op in gesprekke met Engelssprekendes deur na Engels oor te slaan. Hierdie bereidheid tot tegemoetkoming van nie-Afrikaanssprekendes leen sigself tot uitbuiting van Afrikaans. Dié kwaadwillige uitbuiting is selfs moontlik in tersiêre konteks.

Die taalpsige van die Afrikaanssprekende, een van toegeeflike inskiklikheid  -  nie by Engelssprekendes te vinde nie  -  vererger die kwesbaarheid van moedertaalsprekers van Afrikaans. Huiwerig om openlik voorkeur vir Afrikaans te toon, bestaan die wesenlike gevaar dat taalteenkanting tot  persoonlike benadeling mag lei. Aandrang op moedertaalonderrig is dus riskant.

Opleiding uitsluitlik in Engels van veral onderwysstudente maak dit, vooraf meewerkend ter voorbereiding, net soveel makliker vir 'n ANC-beheerde skoolstelsel  wat in die toekoms kan besluit op die volslae verengelsing van alle laer- en hoërskole tot 'n enkele eentalige onderwysbedeling.

Moenie die taalkritici van die US-taalbeleid  -  "beste stuurmanne"  -  sodanig onderskat om te wil dink hulle is totaal oningelig nie. 


Tuesday 6 April 2021

Geen einde in sig aan US-taalstryd


 

Destyds verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit (voorheen UPE), het 'n skrywe van my  -  'n bietjie meer as 18 jaar gelede  -  op Maandag 21-10-2002 in die Oos-Kaapse "Die Burger" onder die opskrif "Moenie taalverraad pleeg" verskyn. Na byna twee dekades blyk dit steeds relevant bydraend te mag wees tot die onverkwiklik tragiese US-taalstryd waarvan die einde nie in sig blyk te wees nie. Ek haal 'n gedeelte daarvan woordeliks hierin aan.

 "Die multidimensionaliteit en -funksionaliteit van 'n taal kan en mag nooit ontken word nie. Trouens dit word weerspieël in die diversiteit van legitieme invalshoeke van waaruit deelnemers aan dié taaldebat deelneem.

 Die kernkonteks van die US, soos ook by ander hoëronderwysinstellings, behoort gedefinieer te word as 'n onderrig-leer-konteks. Die wese van die US-taaldebat behoort te sentreer rondom die primêr opvoedkundig-onderwyskundige taalbehoefte van studente. Dit is binne dié konteks waar moedertaal innig verweef is met werklikheid, waarneming, verskillende denkvorme en -uitkomstes, betekenisgewing, retensie, denkontwikkeling en, uiteindelik, potensiaalontwikkeling.

 Tale dien as sleutels wat mensepotensiaal oop-/ontsluit, of nié oop-/ontsluit nie. In dié verband het Afrikaans hom reeds voldoende bewys as 'n sleuteltaal.

 Die US durf dus nie taalverraad pleeg teenoor almal vir wie die Afrikaanse taal 'n sleuteltaal was, is en sal wees in die ontwikkeling van hul potensiaal nie. Die US-taalbeleid moet nie toelaat dat Afrikaans ooit tot taalkarkas vir die taalaasvoëls gemaak word ten koste van die potensiaalontwikkeling van die Afrikaanssprekende jeug nie."