Monday 30 December 2013

Bid vir dié herders wat nog oor is

Die afgelope kersgety het ons weer eens self gelees, van die kansel gehoor en gesing van die skaapwagters in die Efrata-velde wat die Opperherder gevind het in 'n stal in Betlehem "wat vir my volk Israel 'n herder sal wees' (Mat.2:6b).

In Johannes 10 wys Jesus self vir ons op twee tipes herders. Van die goeie herders sê Hy dié gaan by die hek van die skaapkraal in; die skape ken en luister na sy stem; roep hul op hul name; loop voor en hulle volg hom; sy skape volg nie vreemde herders nie, maar hardloop van hulle af weg, en hy is bereid om sy lewe af te lê vir sy skape.

Die huurling-herder is geen herder nie; dit is nie sy eie skape nie; kom 'n wolf, hardloop hy weg; laat toe dat die wolf die skape vang en uit mekaar jaag, en bekommer hom nie oor hulle nie.

Vandag tref ons nog steeds dieselfde twee tipes   -   lidmate kan wel deeglik tussen hulle onderskei   -   onder ons eietydse predikante-herders aan: beroepsherders en geroepe herders. Soos Demas van ouds (2 Tim.4:10) val ook sommige moderne herders wêreldbekoring ten prooi. Maar dan is daar ook die steeds kleiner wordende groep van geroepe predikante-herders wat   -   soos koning Hiskia die profeet Jesaja versoek het: "Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is" (2 Kon.19:4b)   -   dieselfde versoek ook vandag tot ons rig. Laat ons dié herders in die nuwe jaar in ons gebede hierin ondersteun.




Monday 23 December 2013

Du Toit se kritiek nie ongegrond nie

Jannie du Toit (DB,19.12) maak beswaar teen "godslasterlike SMS'e op die TV uitgesaai...om Nelson Mandela God se tweede seun te noem...(en hy) betwyfel of hy by ons Hemelse Vader is." Marianne (DB,20.12) reageer en sê: "Dis veroordelaars soos jy wat Afrikaanse kerke 'n slegte naam gee."   -   'n ongemotiveerde stelling.

By geleentheid sê Mandela dat, na sy dood, hy onmiddellik navraag sal doen na die naaste ANC-tak en homself daarby aansluit. Vir geruime tyd is sy lidmaatskap van die SAKP ontken. Hy het aangevoer dat sy Christenskap onversoenbaar was met die ateïstiese kommunisme. Vandag is sy lidmaatskap van die SAKP 'n bewese feit   -   Christelik versluierde kommunisme?

Ek herinner my geen geleentheid wat Mandela, as Christen, die talle godslasterlike uitsprake en stellings van ANC-leiers, óf toe daar uit die skare in Engels geskree is: "Mandela is my god!", gerepudieer het nie. Vreemd vir 'n voormalige Christen ANC-leier, is dit nie?

Na sy dood verwys sy kultuurgenote na Mandela synde nou 'n baie belangrike voorvadergees te wees. Waar plaas dit hom in die oë van die tradisionele Afrika-gelowiges? Wat het plaasgevind by sy graf onmiddellik ná die beëindiging van die TV-uitsending waarin die wêreld nie mog deel nie? Kan dit dalk wees dat tipies Afrika-godsdienstige rituele   -   totaal onversoenbaar met die Christelike geloof   -   onder meer, uitgevoer is?

Ek vind Du Toit se kritiek beslis nie ongegrond nie. Dalk moet Marianne haar kritiek vir ons duideliker uitspel.                    (ngn)



Friday 20 December 2013

Moenie Small kruisig oor waarheid nie

Dit was vir baie van ons gou duidelik dat die media nie maklik kommentaar van 'n negatiewe aard oor wyle oudpres. Mandela sou meld óf publiseer gedurende die tien dae van rou wat na sy dood gevolg het nie, hoe onomstootlik waarheidsgetrou en korrek sodanige kommentaar ook al mag wees.

Dit is met die vaste wete dat geeneen van ons 'n mandaat ontvang het om die waarheid   -   op welke wyse en onder wattter omstandighede ook al   -   geweld aan te doen nie, dat ek die bekende digter, Adam Small, se "Die mense van Qunu is kwaad" (DB,16.12) gelees en vertolk het; iemand met 'n duidelike sin, agting en respek vir die waarheid.

Soos Small, soek talle Suid-Afrikaners na 'n balans in beriggewing wat gedurende dié tyd duidelik ontbreek het, 'n balans wat net deur waarheidgeweegde beriggewing bereik kan word. Small, 'n realis en waarheidsoeker, wys daarop dat "oordadigheid van lofuitinge doen afbreek...soveel gawes as wat Mandela gehad het, soveel foute het hy ook gehad...die praters verdrink in hul eie vloed...aanmatigende ANC-bog!"

Small weier om deur politieskorrek-gehipnotiseerde oë na die gebeure van die afgelope tyd te kyk, maar skroom nie om homself dapper aan waarheidskant te skaar nie. Hiervoor lig ek my spreekwoordelike hoed vir Small. Hy verdien ons respek. Baie dankie, Adam Small.

Charl Adams (DB,19.12) en Derek (DB,19.12), julle wat Small so lustig kritiseer   -   Adams sê "dat lesers se respek vir jou 'n knou weg het", en Derek sê: "verkrampte lesers...gaan nou almal op jou wa spring"   -   kritiseer op 'n indirekte wyse die waarheid waarvoor Small onbeskaamd gekies het. Moenie hom kruisig oor die waarheid nie. Ondersoek eerder jul eie sin en liefde vir die waarheid, en gun Small sy reg op 'n eie mening.                        (ngn)






Wednesday 18 December 2013

Is Afrikaners dan blind vir misleiding?

Uit talle monde word verneem van diepe teleurstelling met die NG Kerk. Na jarelange integrale deelwees van ons volk, dikwels inisiatiefnemend met Geloftedagfeesvieringe, keer dié kerk nou sy rug op die Afrikanervolk. Die kerkleierskap gee geruime tyd reeds blyke van sy dissosiasie en distansiëring van ons volk, maar nou het dit deurgewerk ook tot op gemeentevlak.

Verlede jaar nog kon feesvierende volksgenote, op 'n jaarlikse rotasiegrondslag, 'n Geloftedag-erediens by een van ons plaaslike gemeentes bywoon. Op ons gemeente-almanak word nou slegs vermeld dat sodanige byeenkoms in die Hoërskool Despatch-skoolsaal bygewoon kon word   -   nie meer in gemeenteverband nie.

Wat leer die Bybel ons van volke en volkwees? Deuteronomium 32:8 sê duidelik: "Toe die Allerhoogste...die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal." Begrensde volke is Godgewil. Ons lees dat Petrus by uitstek die apostel met opdrag vir sy Joodse volksgenote was, soos Paulus vir die nie-Jode. 

Die NGK-leierskap keer sy rug toenemend op hierdie Goddelike instelling deur die ontkenning van volkwees. Hulle laat hulle kenmerk aan 'n onbybelse anti-volkse gesindheid. Soos die reeds vernietigde NP, word ook die NG Kerk se denke deur anti-volkse sentimente onderlê. Net soos die NP, gaan ook die NG Kerk vernietiging tegemoet.

Die kerkleierskap skaam hulle vir hul volkse kerkverlede in die geselskap van hul nuwe SA-vriendekring. Steun kan daarom nie langer aan volkse aspirasies verleen word nie, dog dié kerk verwag volksteun vir sy wêreld-ekumeniese aspirasies ten einde deel te word van die Nuwe Wêreldorde se kerklike tentakel.

Vanuit kerklike geledere kan Afrikaners géén volksleiers   -   soos wyle dr.D.F.Malan   -   te wagte wees nie. Die huidige korps van beroepspredikante, beïnvloed deur hul kerkleiers, bind toenemend die naelstring tussen kerk en volk af. Is Afrikaners dan regtig só blind vir misleiding, dié keer deur kerklike leiers?




Friday 13 December 2013

Ouer garde se geheuespatsels van Mandela

Sal enige kritiese kommentaar oor oud-pres. Nelson Mandela, hoe onweerlegbaar waar ook al, in hierdie tyd deur die S.A. openbare media geduld word? Dit lyk baie onwaarskynlik, dog dit is egter 'n baie belangrike toetsvraag vir die onpartydigheid, billikheid en balans   -   te enige tyd én omstandighede   -   in beriggewing.

Dit is verkeerd en onaanvaarbaar om 'n glanspersoonlikheid, soos Mandela, sy glansoomblikke te ontneem, dog die grens van eerbetoon is lank reeds oorskrei en spoel oor na blote mensverheerliking waartoe die media fluks bydra.

Wat sommige van ons senior burgers   -   wat die verlede eerstehands beleef het en beslis veel beter ingelig is as die huidige geslag   -   egter pla, is die verstommende eensydigheid waarmee Mandela aan die wêreld voorgehou word asof hy nie ook 'n verlede het wat in skrille kontras staan tot die teenswoordige geprojekteerde beeld van hom nie. 'n Wanbalansige voorstelling hou die risiko en gevaar in dat dit 'n breinspoelende effek op ons eensydig ingeligte kinders en jongmense kan hê waardeur hulle van hul eie kultuur-   en volksgenote vervreem kan word.

Lesers kan my gerus reghelp, maar ek kan my geen geleentheid herinner wat Mandela die daad by sy populêrgeworde woorde van vryheid, vergiffenis en versoening gevoeg het, en na sy uittrede as staatshoof, die ANC-partyleiers aangespreek het oor die eskalerende misdaad, korrupsie en plaasmoorde in S.A. nie. As 'n intellektuele en belese persoon was hy sekerlik nié oningelig daaromtrent nie.

Dit moet ons ouer garde   -   jarelange koerantlesers en  -ondersteuners   -  nie verkwalik word dat ons oor geheuespatsels beskik van Mandela as 'n vroeëre aanhitser tot geweld, terreur en  -dade wat gelei het tot die dood en verminking van etlike S.A burgerlikes nie. Durf ons nalaat om ook húlle in dié tyd in herinnering te roep en ook húl nagedagtenis te eer?                    (ngn)




Monday 9 December 2013

Mandela-sterwe konfronteer ons met vrae

Ek het oor RSG verneem dat wyle Mandela as die grootste S.A. leier ooit gereken word. Ons besef dit is nou 'n hoogs emosionele tyd waarin rasionaliteit plek moet maak vir euforie, emosiegelaaide uitsprake en stellings rondom die persoon van Mandela. Dit is ook 'n tyd van erkenning aan dié wêreldikoon wat etniese, rasse en nasionale grense oorskrei. Daar is begrip vir die teenswoordige heldeverering. Dit kom universeel voor, en ons weet dat dit altyd net goeie mense is wat begrawe word.

Ek vermoed dat daar wittes sal wees   -   veral volkse Afrikaners   -   wat oor Mandela voel soos wat heelwat swartes oor wyle dr. Verwoerd voel. Dit impliseer die dekadelange uitgerekte konfrontasie tussen swart Afrika-nasionalisme en wit Afrikaner-nasionalisme. Dit blyk onvermydelik te wees dat Afrika-nasionalisme, gesteun deur die wêreldmening, uiteindelik dié stryd sou wen.

Die Mandela-sterwe konfronteer ons met talle vrae wat wag op antwoorde in die toekoms. Van dié vrae is óf Mandela, soos beweer word, gereken kan word onder die geledere van internasionale staatsmanne wat ook buite die eie landsgrense, soos 'n Jan Smuts as medestigter van die VVO, bygedra het tot die internasionale gemeenskap. Sou Mandela dieselfde bekendheid verwerf het indien S.A. kort ná WO2 gekapituleer en voor Afrika-nasionalisme geswig het? Hoeveel Afrika-bevrydingsleiers word vandag nog deur die wêreld onthou? Het die vorige bedeling nie die tyd "ryp gemaak" vir Mandela waarin hy as bevryder na vore kon tree nie? Is sy roem aan apartheid te danke?

Dié tyd konfronteer ook volkse Afrikaners met vrae soos: is dié volk se rol uitgespeel in S.A.? Wat het geword van ons bewese historiese drang na volksvryheid, -onafhanklikheid en -selfbeskikking? Gaan ons volksidentiteit behoue bly? Het ons nageslag nog 'n toekoms in S.A.?, en dergelike meer volksoorlewingsvrae.               (ngn)




Monday 2 December 2013

Godslastering én Nkandla kom uit kultuur

Met Ace Magashule, Vrystaatse premier, se "Woede vir ANC is woede vir God" (DB,26.11) en die Nkandla-debakel (DB,30.11), bly die ANC 'n voorste nuusmaker. Westerlinge reageer dikwels op ANC-leiers soos Magashule, Mantashe, Zuma én Mandela se godslasterlike opmerkings, én grondwetlik-uitdagende optredes, vanweë ontoereikende begrip van die onderliggende oorsprong as rede daarvoor.

Is daar enige aanwysbare verband tussen die ANC godslasterlike uitsprake en die Nkandla-knoeiery? Ek meen van ja. Beide is nie primêr 'n ANC "ding" nie, maar wel 'n tipiese Afrika-kultuurmanifestasie. Dit is 'n geval van botsing tussen die westerse-  en Afrikakultuur. Dit word sigbaar wanneer ons ons eng politieke bril verruil vir 'n kultureel omvattende een.

'n Swart Amerikaanse evangelis, dr. James David Manning, se opmerking: "Black people have a problem, a God problem, and only God can help them. They don't understand the world!", werp heelwat lig op die optrede van ANC-leiers, hul uitsprake en doen-en-late.

Soos wat die Bybel ons aardse lewe rig op 'n hiernamaalse bestaan, so probeer ons demokratiese grondwet ons rig op 'n vreedsame en harmonieuse ondermaanse lewe van saambestaan. Manning se opmerking impliseer dat Afrika nie oor 'n goeie begrip van beide beskik nie. Die ANC, as spreekbuis van die Afrika-kultuur, ervaar derhalwe kultuurvreemde probleme met sowel die Bybel as die grondwet komende primêr vanuit die westerse kultuur.

Multikulturalisme is daarom die ideologiese sinteseringspoging tussen die westerse (tese) en Afrika-kultuur (antitese). Hierdie ideologie misluk egter in die daarstelling van 'n vreedsame en harmonieuse samelewingsbestel, ongeag die ooreengekome grondwet. Dié mislukking is toe te skryf aan die hardnekkige ontkenning van Godgewilde kultuurverskille tussen mense, en die galaktiese afstande tussen kulture vanweë hul onderskeie mens-, lewens-, wêreld-  en Godsbeskoulike verwysingsraamwerke wat dien as lewenskaart en -kompas. ANC-godslastering en Nkandla-geknoei kom primêr uit dié kultureel-bepaalde Afrika-verwysingsraamwerk.









Monday 25 November 2013

Hond gered Waarom nie ook S.A. red nie?

Suid-Afrikaners is aangegryp deur die dramatiese redding van 'n drenkeling-hond uit die gevaarlike watergevulde oop myngat by Kimberley. Dié redding is te danke aan die opmerksaamheid van 'n toeris en tydige poging aangewend deur diegene bereid om dié hond van 'n gewisse waterdood te red.

Hierdie insident, met verskillende onderskeibare rolspelers en positiewe uitkoms, kan simbolies goedskiks op verskeie terreine van ons alledaagse lewe van toepassing gemaak word oor die hele spektrum vanaf ons eie indiwiduele lewens, tot ons nasionale lewe wat in groot gevaar verkeer en dringend redding vereis.

Wie wil die gat van lieg en bedrieg, korrupsie, moord, doodslag, misdaad, geweld, verkragting, pandemiese armoede, ellende, stakings, brandstigting, vernietiging van bestaande infrastruktuur, breindrein-emigrasie en algemene verval en agteruitgang ontken waarin ons S.A. nasionale lewe verval het? Opvallend is dat redding vanuit dié toestand slegs vanuit 'n hoëre posisie bokant dié gat moontlik is en nié vanuit die gatdiepte self nie.

Waar is die skerp "toeris"-waarnemer wat betyds die drenkelingposisie van ons nasionale lewe kan raaksien, en veral húlle met die nodige wilsingesteldheid om dit uit dié gat weer na omhoog te lig? Laasgenoemdes impliseer by uitstek stemgeregtigde kiesers wat S.A. vanaf die grondwetlik hoër grondvlak   -  D.V. in 2014 met steunverlening aan hoërgrondkandidate   -   uit die huidige dieptegevaar kan bevry. 

Die teenswoordige drenkelingposisie waarin ons nasionale lewe tans verkeer, is slegs reddend omkeerbaar indien S.A.-kiesers die stembus korrektief gebruik as reddingstou vir hierdie doel. 'n Belangrike vraag is egter of dié besef, én die wil daartoe, tot dié noodsaaklike redding by die meerderheid van kiesers aanwesig is.



Monday 18 November 2013

Oor AS-afgevaardigdes en AS-besluite

Lidmate wil weet hóé predikante-afgevaardigdes na 'n algemene sinode (AS) aangewys word. Is sulke afgevaardigdes waarlik verteenwoordigend van die meerderheidsoortuigings van ringspredikante,  -kerkrade en  -lidmate? Die potensiële bestaan van uiteenlopende oortuigings oor kerkaangeleenthede behoort tog seker in die AS-samestelling weerspieëling te vind? Raak dit dan nie die geldigheid van AS-besluite nie? Is AS-afgevaardigdes, daarom, tegelyk ook meerderheidsverteenwoordigers?

Lood Oliver (Kerkbode, 14.11) worstel met dieselfde vraag. Hy sê: "Argumentshalwe gaan daar een predikant uit 'n ring na die algemene sinode toe. Hy of sy gaan praat en stem namens sowat agt gemeentes. En in hierdie agt gemeentes is daar waarskynlik 'n hele aantal lidmate wat vir   -   en dalk meer wat téén   -   'n bepaalde saak is."

Vir so ver Oliver weet, vergewis predikante-afgevaardigdes hulself nie vooraf oor die meerderheidsgevoel van predikante en lidmate oor bepaalde sake nie. Afgevaardigdes praat en stem dan waarskynlik volgens persoonlike oortuigings. Vind afgevaardigde-deelname dus plaas in opdrag van ringspredikante,  -kerkrade en  -lidmate? Dieselfde vraag geld ook die kontekste van ringe en kerkrade, aldus Oliver.

Oliver wys ook op die jarelange spanning in die kerkreg tussen die afdwingbaarheid van AS-besluite op gemeentes enersyds, en andersyds dat kerkrade "baas op eie plaas' is. Ons weet reeds die kerkleierskap propageer 'n "nuwe" en "anderse denke" oor kerkaangeleenthede. Oliver sê dit raak die AS se "nuwe manier" van besluitneming: "Ons besluit sus en só   -   maar as jy nie daarmee gemaklik is nie, mág jy anders daaroor besluit." Dié keuse-karakter van AS-besluitneming word juis weerspieël in onlangse besluite oor Satan en Belhar.

Hóé kan 'n toegelate verskil in keusestellende besluitneming volgens 'n ja-én-nee benadering kerklidmate tot eensgesinde geloofseenheid in Christus saambind? Christus het gesê: Laat julle ja ja wees, en julle nee nee. Meer as dit gesê, kom van die Bose (Mat.5:37).                   (ngn)






Wednesday 13 November 2013

McBride moet ANC-diktatuur help vestig

Na dese bestaan daar géén twyfel meer oor hóé laag die ANC se korruptheidsvlak reeds gedaal het nie. Ek verwys na die ANC se aanbeveling van Robert McBride as nuwe hoof van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod). Spotprenttekenaar, Fred Mouton (DB,13.11), wys tereg daarop dat McBride self ondersoek is vir moord, wapenhandel, bedrog, aanranding, dronkbestuur en dwarsboming van die gereg. Watter minagting toon die ANC nie hiermee vir die SA-grondwet nie, en wat 'n skande bring hy oor homself deur te heul met iemand met só 'n rekord. Só 'n party dwing geen respek af nie en spel niks goed vir ons as landsburgers nie.

Wat anti-ANC-gesindes as skandes en vergrype beskou, is egter doelbewuste strategiese oorwegings by ANC-partyleiers ten einde van die huidige "demokratiese" bedeling ontslae te raak en 'n tipiese Afrika-eenparty diktatuur te vestig. Hieromtrent moet ons géén illusies hê nie. Afrika en diktatorskappe is sinoniem, en SA en die ANC-leierskap is geen uitsondering nie. Met 'n tweederde-meerderheid kan die ANC die grondwet konstitusioneel omverwerp.

In navolging van sy roetekaart onderweg na alleenheerskappy, word dit duidelik hoe die ANC persone identifiseer en in posisies plaas wat hom dienstig sal wees in die verwesenliking van sy ideaal as 'n diktatoriaal-alleenheersende party. As resente simptome wat dien as voorbeelde van ANC-magshonger en die minagting vir ons "demokrasie"   -   waaraan lesers ruimskoots verder kan toevoeg   -   is die gewraakte muilbandwet, weerhouding van die Nkandlaverslag en die wetsontwerp op gelyke indiensneming. 

Haas elke lewensterrein van ons nasionale saambestaan word rysmierend deur die ANC binnegedring, oorgeneem, en vestig hy sy mag aldaar minagtend vir ons "demokratiese" grondwetlike bedeling. McBride, in wese self korrup, moet daarom die reeds korrupte ANC-element verder versterk en sorgdra dat die SAPD finaal ondergeskik, dienstig aan en beskermend teenoor die ANC sal wees.              (ngn)




Monday 11 November 2013

Nou tyd vir kerklik-interne selfkritiek

Gwede Mantashe se vergelyking van die ANC-alliansie met die Goddelike Drie-eenheid regverdig kritiek (DB,04.11). 'n Relevante vraag is egter of, veral, die kerk self in 'n onaanvegbare posisie verkeer om na buite te kritiseer terwyl dit self intern aan kritiek onderhewig is.

Ontbreek dit nie die kerk aan eerlike en noodsaaklike selfondersoekende kritiek nie? Soos voorheen lewer die kerk ook nou weer kritiek op godslasterlike opmerkings van buite die kerk wat ons   -   vanuit vorige ervarings   -   reeds wéét dat dit periodiek vir propagandistiese verkiesingsgewin misbruik word.

Daar is skerp gereageer vanuit die kerk op Mantashe se opmerkings, maar waarom vind ons nie dieselfde soort reaksie ook binne die kerk self oor ontwikkelende tendense daarbinne waaromtrent die kerk homself blootstel aan kritiek nie? Waarom nie die hand ook in eie kerklike boesem steek oor sy hantering van kwessies soos dié oor Satan, voorhuwelikse saamwoon, die gay-aangeleentheid, evolusie-invloede in die kerk, en onmin oor die Belharbelydenis en voorgenome kerklike eenwording nie?

Verwag die kerk dat Mantashe en die ANC positief op sy kritiek sal reageer? Reageer die kerk positief op interne kritiek teen homself ingebring? In aansluiting hierby sê Derek van Rensburg (BY,09.11) : "...kerke het hul geloofwaardigheid ingeboet en ons pak verniet die skuld op ateïste, skeptici, die media en ander buite-kerklike instansies." Wat kerklidmate en DA-ondersteuners tans met mekaar in gemeen het, is 'n gebrek aan vertroue in hul onderskeie leierskorpse.

'n Tydige en deeglike kerklik-kritiese selfondersoek het, in die lig van heersende kwessies in die kerk wat daartoe lei dat duisende lidmate die kerk verlaat   -   'n lidmaatreaksie waarvoor die kerk aanspreeklikheid moet aanvaar vanweë sy hantering van sulke kwessies   -   dringend noodsaaklik geword. Die tyd vir die toepassing van kerklik-interne selfkritiek het aangebreek.








Monday 4 November 2013

Is voorhuwelikse saamwoonseks Bybels?

Net so omstrede, én onbybels, as wat die NG Kerk se Algemeen Sinodale (AS) 2011-besluit oor Satan is, is ook die besluit oor voorhuwelikse saamwoon wat lui: Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.

Hierdie besluit getuig ooglopend van kwasi-vroomheid en blatante misleiding deur "Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit" as regverdigende verskoning voor te hou vir "die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak...ook wat die seksuele betref..." Ek noem dit 'n sinodale vrypas vir seksuele "eksperimentering"   -  en deuropening ook vir gays. Slaag die eerste nie-bindende "eksperiment" nie, waarom dan nie opvolg met voortgesette "proeflopie-eksperimente" nie? Beoog die AS 'n saamwoon-register om dié seksueel voorhuwelikse praktyk te moniteer? Die moontlikheid bestaan dat hierdie "eksperimente" deur blote wellus gedryf kan word. Waarom sal skuldgevoelens en gewetenswroeging ter sprake kom as ons kerkleiers sélf dié huwelikspraktyk sanksionerend goedgekeur het? Is dit, wat die AS goedkeur, dan nie tugwaardige gedrag nie? Indien wel, is die AS self dan nie ook tugwaardig nie?

Emeritus-teoloog prof. Johan Janse van Rensburg sê hiermee erken die kerkleierskap onbevestigde huwelike, weerspreek hulle die besluit van 2007 oor homoseksualiteit, en dat dié saamwoon-besluit ernstige regs-  en sosiologiese implikasies inhou.

Op sommige kanselklede staan geskryf: "So spreek die Here". Moet dit nie verander na: "So spreek die NG Kerkleiers" nie, want spreek die Here werklik só oor Satan en voorhuwelikse saamwoon en "eksperimentele" seks daarbinne?                       (ngn)




Wednesday 30 October 2013

Verskil Boeremag en EFF wesenlik?

Hoewel nie in alle opsigte identies nie, vind ek 'n interessante parallel tussen die beplande oogmerke van die pas veroordeelde Boeremaglede (DB,30.10) en Julius Malema se "Economic Freedom Fighters (EFF)" en húl beplande oogmerke. Alhoewel van teenoorgestelde aard wat elkeen se beoogde uitkoms betref   -   anti-swart versus anti-wit   -   vind ek 'n merkwaardige ooreenkoms tussen dié twee groeperinge se direk teenoorstaande ideale.

Onder die opskrif, "Civil war talk from the EFF", skryf Phillip Ronbeck in die "Financial Mail" van 25-30 Oktober 2013 dat, met die stigting van Malema se EFF-party, verskeie rassisties-haatgevulde baniere en plakkate   -   met sterk anti-wit sentimente   -   vertoon is, soos; "To be a revolutionary you have to be inspired by hatred and bloodshed", en "Honeymoon is over for whites." Malema sê verder: "white people must learn to share...then we can kiss. Black man and white women...(and) the EFF's biggest enemy is white minority capital."

Ronbeck beweer dat, te oordeel aan hierdie en soortgelyke uitsprake, EFF-ondersteuners ongetwyfeld wittes haat, en vra dan, sou dié party aan bewind kom, óf grootskaalse menseregte-geweld gepleeg sal word soos om Afrikaners in konsentrasiekampe te plaas en/of 'n Kristallnacht teen hulle van stapel te stuur? En sal ander minderheidsgroepe hierná geteiken word? is Ronbeck se verdere vraag.

My eie vraag is óf daar in essensie 'n wesenlike verskil is tussen die geheime onkonstitusionele Boeremag, enersyds, en die openlik uitgesproke "konstitusionele" EFF, andersyds, wat betref hul ingesteldheid teenoor die verskillende rassegroepe in S.A. en hul toekomsvisie vir elkeen van dié groepe. Die Boeremag het/wou die ANC se voor-1994 metodes en strategie, wat nou onkonstitusioneel is, óók vir bevryding gebruik. Dit wil egter lyk asof dieselfde grondwet Malema toelaat om sy haatgevulde partypolitieke visie openlik te propageer. Is sy aanhitsende optrede tot rewolusie dan toelaatbaar deur die grondwet, of óók strafbaar? (ngn)






Friday 25 October 2013

Lidmate moet krities let op kerkbesluite

Die omstrede 2011-NG Kerkbesluit oor Satan, waarvolgens predikante en lidmate nou sélf mag besluit oor sy bestaan as persoon al dan nie, is reeds welbekend. Hiermee maak dié kerk Bybelse waarhede tot keuse-aangeleentheid, 'n dwaalleer-simptoom van 'n valse kerk wat tot verdeeldheid lei.

Volgens dr. Paul M.Elliott van "Teaching the World Ministries", glo 52% "American Evangelicals" en 66% Baptiste nie aan Satan as 'n persoon nie. Dit is 'n duidelike verwerping van wat die Bybel ons van Satan leer. Dit blyk dat die NG Kerk dié neiging navolg in ook sy bewustelik moedswillige ontkenning (2 Pet.3:5) van dié Bybelse waarheid.

Maar watter getuienis lewer die Bybel sélf oor Satan? Deur God geskape, beklee Satan aanvanklik 'n uitsonderlike hemelse posisie. Vanweë sy hoogmoed en opstand teen God, word hy uit die hemel gewerp en word hy vyand nommer een van God, Sy Woord en Sy kinders.

Bybelname vir Satan verskaf vyf kategorieë van inligting oor hom: 1. sy ontstaan, 2. sy wesensnatuur, 3. as vernietiger, 4. vriend van, en heerser oor die wêreld, en 5. die aartsvyand van Christengelowiges. Jesaja (14:12-17) en Esegiël (28:11-19) verskaf simbolies-indirekte verwysings na Satan se ontstaan, hemelse status, hoogmoed, rebellie, val en verdoeming soos wat dit ook aansluiting vind by Openbaring (12:7-12) en Jesus self (Luk.10:18).

Die Bybel verwys 55 keer na Satan as 'n God-opponerende wese; die Nuwe Testament 34 keer na hom as duiwel en leuenaar. Hy word ook genoem: die Bose, slang, moordenaar, draak, Abaddon/Apollion, dief, god en owerste van die wêreld/lug, Beëlsebul (duiwelaanvoerder) en misleier/verleier.

Ongeag al hierdie Bybelse waarheidsgetuienis tot hul beskikking, verantwoord kerkleiers en sinodes nie meer hul besluite daaraan nie. Aan geloofswaarhede word 'n opsionele keuse-karakter verleen. Meelewende lidmate moet wakker skrik en krities daarop let óf kerklike besluitneming wel nog Bybelfundeerd is.






Monday 21 October 2013

Wat bepaal ons respek vir die kerk?

Ilse Bigalke se Brandpunt, "NG Kerk dwing só nie respek af" (DB,17.10), impliseer die vraag: Wie se respek? ,met die antwoord: Die wêreld daarbuite s'n. Waarom respekteer die wêreld dan nie dié kerk volgens Bigalke nie?

Die sekulêre media versterk graag die gedagte by kerklidmate dat die kerk hom vir oorlewing na die wêreld moet skik. Die noodsaaklike onderskeiding tussen kerk en wêreld vervaag algaande relativerend; veral die kerk se unieke en primêre taak waartoe hy geroepe is. Voorbeeld: beide kerk en wêreld word gekonfronteer deur mense se materiële armoede. Hierdie tipe armoedeverligting is egter nié die kerk se primêre taak nie, maar is gestuur om in mense se geestelike armoede    -   in hul honger en dors na God, Sy Woord en reddende genade   -   te voorsien. Materiële armoedeverligting is sekondêr ondergeskik hieraan.

Die kerk word vandag, openlik én subtiel, uitgedaag tot die omruiling van sy primêre (vertikaal Goddelike) en sekondêre (horisontaal menslike) roeping ten einde dienstig te word aan die wêreld. Die wêreld verloor sy (pseudo-)respek vir kerke wat hiertoe weier. Dié gepolariseerde kerk (God)-wêreld (Satan)-verhouding is een van intense spanning wat ontlont moet word deur kerk (tese) en wêreld (antitese) "versoenend" tot 'n wêreldkerk (sintese) te verenig. Hiervan begryp joernaliste, soos Bigalke, waarskynlik bloedweinig.

Met haar verwysing na die kerk se "ruggraatloosheid" (wat nie die kerkspel heeltemal volgens wêreldreëls wil speel nie); dat die kerk "ongrondwetlik" optree en 'n "bloedneus' in die konstitusionele hof sal kry, kyk Bigalke vanuit 'n wêreldlik eensydig kritiese perspektief na die kerk van Jesus Christus.

Op die vraag: Wat bepaal ons respek vir die kerk? ,antwoord ons: Die absolute gehoorsaming van God en die waarheid van Sy onfeilbare Woord, en nié aan mens en wêreld nie. Slegs dit dwing ware respek af vir die kerk; nie pseudo-respek vir 'n wêreldnavolgende kerk nie.





Thursday 17 October 2013

Satan en die nuwe NGK-godsdiensgietvorm

In haar "Los liewer die duiwelse debatte" (DB,16.10) sê Mariska Spoormaker vir die NG Kerk en sy leierskap: "Los jul duiwelse debatte en gaan saai eerder Goddelike liefde in grondvlak-gemeenskapswerk." Benewens die satiriese aard van haar skrywe, wonder 'n mens deur watter gesagsbasis haar voorstel onderlê word.

Sommige teoloë en kerkleiers se ontkenning van Satan as 'n persoon is 'n dodelike dolksteek na die hart van die kerk, 'n geloofsinstelling gevestig op belydenisskrifte in ooreenstemming met die waarheid van die Woord van God. Die Bybel vertel ons van Satan: sy opstand teen God en uitwerping uit die hemel; van gevalle engele (nou demoniese wesens) wat hom gevolg het; van Satan as aanklaer van die gelowiges voor God; van die finale oordeel wanneer hy in die poel van vuur gewerp sal word. Hierdie voorbeelde getuig almal van die handelinge deur, van en met 'n "persoon" en nié 'n vae, bose entiteit nie. 

Sommige teoloë en kerkleiers beweer dat Satan geen persoon is nie, maar wel 'n bewussynsmatig mensbedinkte entiteit. Hieroor glimlag Satan selftevrede. Meer nog: hiermee word 'n satanies verdagmakende skadu oor die Woord van God sowel as Jesus gewerp.

Indien Satan, as Lucifer, voorheen in die hemel dan wel 'n persoon was, waarom dan nie ná sy val nog steeds 'n persoon nie? Jesus self getuig ondubbelsinnig van Satan. Ontkenning van Satan as persoon maak nie net alleen die Bybel tot leuenaar nie, maar ook Christus. Hoe kry kerkleiers dit reg om te bely: "U woord is die waarheid" (Joh.17:17) en dan, daarnaas én gelykstaande daaraan, hul eie "waarhede" daaromtrent in sinodale besluitneming te formuleer? Dit is mos verrraderlike huigelary!

Kerkleiers blyk tans besig te wees om, aan die hand van kerklike transformasie, godsdiens binne die NG Kerk in 'n nuwe "ons-weet-beter-as-die-Bybelouteur-self" vorm te giet.




Wednesday 16 October 2013

Kaptein verdwyn, maar skip vaar voort

Ek gee dr.Fourie   -   "Rektor praat vir héle UV" (VB,15/10/2013)   -   volkome gelyk wanneer hy sê: "Prof. Jansen probeer die hele (afgelope taal-) debakel oor die boeg van spraakvryheid gooi en dan word apartheid en rassisme aan die hare bygesleep. Almal wat hom kritiseer, is skielik hierdie 'kru en onverdraagsame' mense, Afrikaners, rassiste!" Fourie plaas ongetwyfeld die vinger op die wond.

Indien ons sou vra na die grootste gemene deler in die meeste van prof. Jansen se uitsprake, sal ons waarskynlik vind dat dit   -   presies soos wat Fourie dit óók raaksien en uitwys   -   handel oor die Afrikaners, dog telkens in 'n ongunstige lig gestel. 

Om dié stelling te staaf, hoef daar nie ver en wyd na voorbeelde gesoek te word nie. Ek verwys slegs na twee. Bekom gerus en lees die resensie wat in "Rapport" (2009) verskyn het oor sy boek getitel "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past". Lees gerus ook die UV-module, UFS 101 geïnisieer deur prof. Jansen, en vergewis uself oor die aard en strekking van die inhoud daarvan.

Hier in die Oos-Kaap geniet die UV (sekondêr?) nuusdekking vanweë prof. Jansen (primêr?) se uitsprake. Behoort dit nie andersom te wees nie? Behoort prof. Jansen (sekondêr) nie veel eerder nuusdekking te geniet vanweë UV-prestasies (primêr) onder sy rektorskap nie? 

Wie van die UV of prof. Jansen is, op die lange duur, die waardevolste en onmisbaarste in landsbelang? 'n Skeepskaptein verlaat sy skip by aftrede, dog die skip vaar steeds voort en vervoer sy vrag sonder hom.




Monday 14 October 2013

Aan wie wil NG Kerk homself "weggee"?

Meer paslik kon Neels Jackson seker nie die huidige gebeure in die NG Kerk beskryf het as met sy beeld van dié kerk as 'n skip wat besig is om te draai   -   " 'n diepliggende omkeer by die NG Kerk...waarin die kerk homself wil 'weggee' "(DB,14.10)   -   en só van (geïmpliseerde) rigting en bestemming wil verander nie.

Op sy verhoorafwagtende skeepsreis na Rome, waarsku Paulus die skeepskaptein en bemanning   -   vanweë vooruitgesiene ramp, skade en lewensverlies   -   om nié die reis voort te sit nie. Die stuurman en skeepseienaar word egter méér vertrou as Paulus en vaar die storm in om daarbinne te vergaan (Hand.27:9-11). Op soortgelyke wyse laat die huidige NG Kerk-"skeepslui" hulle ook nie waarsku teen die toenemende inskeping van sekulêre vrag op dié skip nie. Goedbedoelde en tydige waarskuwings, soos in Paulus se geval, word afgemaak as fundamentalisties, liefdeloos en selfs rassisties.

Dit is so dat Christus Sy Kerk na die wêreld stuur om hulle wat vir Sy Koninkryk bestem is, daarheen te lei. Hy waarsku egter teen die misleiding van wolwe in skaapsklere wat Sy kudde wil verniel. Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis spel daarom juis ondubbelsinnig die só noodsaaklike kenmerke van die valse kerk teenoor die ware kerk duidelik uit vir lidmate van dié kerk.

Die omdraaibeweging van 'n kerk wat homself wil "weggee", is rede tot groot kommer wanneer in gedagte gehou word dat dié kerk   -   wat die Bybel betref   -   die skeppingsverhaal toenemend bevraagteken en aan evolusie wil toedig; beweer dat die Bybel slegs maar net mense se woorde oor God is (organiese vertolking) en nié deur God Self geïnspireer is nie (meganiese interpretasie); wat Jesus se uitsprake oor die bestaan van Satan verwerp; wat nié die Bybelse uitsprake oor die "gay"-verskynsel meer wil aanvaar nie; en so kan verdere voorbeelde vermeerder word. Aan wie wil dié kerk homself "diepliggend weggee"?






Tuesday 8 October 2013

Gaan Jansentaktiek slaag, óf boemerang?

Prof. Jonathan Jansen is bekend vir sy omstrede openbare uitsprake. Sy jongste uitlating dat Afrikaanse skole   -   en Afrikaans as onderrigmedium   -   moet verdwyn (DB,02.10), is slegs een van vele; almal met 'n gemeenskaplike doel. Dat Jansen 'n vendetta teen wit Afrikaners voer, is reeds oorbekend. Om die geheue hieromtrent te verfris, kan die resensie van sy boek, "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past" (2009), wat in 2009 in "Rapport" verskyn het, herlees word.

Dié boek bied insig in Jansen se siening van, en benadering tot, wit Afrikaners wat hy brandmerk as "onredbare rassiste". Met 'n reeds grootliks getransformeerde openbare bestel, verskans Afrikanernasionalisme   -   volgens Jansen   -   sigself nog in wit kerke, skole en universiteite waar Afrikaners hul ras, taal en kultuur verdedig.

Jansen se sentrale vraag is hóé die "oorwonne" wit Afrikanergemeenskap beweeg kan word om versetloos "tuis te voel" binne die SA-transformasie-agenda. Hy gebruik sy ervaring by die UP as gevallestudie van hoe dit gedoen kan/moet word. Jansen sien die Afrikanerkultuur as onhervormbaar. Direkte konfrontasie daarmee moet egter vermy word. Subtiliteit is die wagwoord, daarom moet elemente van dié kultuur geïdentifiseer word wat as instrumente vir taal-, denk-, kultuur-  en ideologiese transformasie kan dien. 

Jansen sien Afrikaans as 'n instrument om ander buite te hou ter wille van wit bevoorregting. Swart studente, met 'n voorkeur vir Engels, vloei skole en universiteite in groot getalle binne. Dié demografiese verskuiwing verander dié kontekstuele spelreëls dramaties   -   'n groter demokratiese aandrang om Engels. Vir Afrikaners, as "voorwaardelike pragmatiste", is standaarde en bepaalde waardes baie belangrik, dus : behou eersgenoemde in ruil vir Engels as onderrigmedium. Só kan Afrikaners se lojaliteit behou, én hulle steeds dieper die transformasiekamp binne gedryf word.

'n Belangrike vraag is : sal Jansen uiteindelik met sy "Jakkals nooi vir Gansie"-taktiek slaag, óf die teendeel bereik   -   groter taal-, kultuur-, rasse-  en nasionale spanning en polarisasie teweegbring?         (ngn)








Wednesday 2 October 2013

Slegs die realiste sal oorleef

Ná vyf jaar besoek ons weer familie in Limpopo, 'n reis wat ons aan die platteland van vyf provinsies blootstel. Opsigtelik veel het op ons roete verander. Vanweë naamsveranderinge ry ons by Bloemfontein by 'n afrit verby wat ons na ons oornagvriende moes neem. Dié afrit heet nou Walter Sisulu; ons weet dit nie. Nog afritname het verander na Nelson Mandela, Raymond Mhlaba, Bram Fischer en Kenneth Kaunda, prominente kommunistiese en/of sosialistiese leiers.

Dié name, ideologies geassosieer met sosialisme-kommunisme, sou ook veel kon verklaar van ons waarnemings, veral ten opsigte van die kleiner plattelandse dorpies en die toestand waarin hulle tans verkeer. Hophuis-woonbuurtes het oornag soos paddastoele verrys waarvan die meeste van die inwoners waarskynlik werkloos is. Wat is 'n kind   -   komende uit dié massabehuising,  -werkloosheid,  -aanwas en  -onderwys   -   se kanse op 'n gelukkige en suksesvolle toekoms? 

Ons ry deur een van die vele klein plattelandse dorpies. Die tennisbane is met bossies en graspolle oorgroei. Dieselfde geld waarskynlik ook die vroeëre rugbyvelde, atletiekbane, golfbane asook begraafplase. Die vroeëre sportkultuur en  -infrastruktuur lyk tot niet, waarskynlik vanweë blanke ontvolking vanweë regstellende aksie. Wat het geword van professionele inwoners soos mediese dokters, verpleegpersoneel, onderwysers, predikante, polisie, bank-  en poskantoorpersoneel en munisipale amptenare? Die spore van regstellende aksie is hier duidelik te sien; 'n veranderde kulturele leefwyse is die nuwe maatstaf.

Die dorpsdam van my vrou se grootworddorp is dolleeg; 'n waterkrisis dreig. Geen voorafbeplanning is gedoen nie. Geboue lyk erg verwaarloos. Meestal bejaardes, en kwesbare weduwees, woon nog daar. Hoe lank nog voordat voedselproduserende boere die handdoek ingooi, hul plase verruil vir kusdorpe en hul kinders oorsee 'n heenkome gaan soek?

In hierdie duidelik plattelandse verval is daar nie plek vir óf die optimis (die glas is halfvol) óf die pessimis (die glas is halfleeg) nie, maar alleen vir die realis. Slegs die realiste sal oorleef.




Thursday 12 September 2013

Hou grense van welvoeglikheid in gedagte

Die skrywe, "Hou maar mieliestronk byderhand..." (DB,11.09), het my regtig laat gril, maar dalk oorreageer ek. Soos Jeffreysbaai se strandhonde-bôlliedebat vroeër vanjaar, handel ook dié skrywe oor bôllie   -   dié keer oor mensebôllie. Die skrywer het dit teen die "onverantwoordelike manier" van die gebruik van Die Burger as toiletpapier deur die skrywer van "Maak eers seker daar is voldoende papier" (DB,09.09).

Volgens die jongste skrywer moes die vroeëre skrywer na "ander oplossings gesoek het voordat Die Burger met soveel minagting...en so verfoeilik behandel (is)." Dié skrywer sê verder: "Mense wat voorsorg tref, loop altyd met 'n mieliestronk of twee in die baadjiesak (of handsak)...Selfs 'n baadjiepunt of 'n stukkie onderklere...(en) selfs 'n selfoon...kan die ding doen." Hy verwag " 'n onvoorwaardelike verskoning aan Die Burger" van die 09.09-briefskrywer. Watter "ongure" beelde roep dié voorgemelde verwysings nie op nie!

Is dit die skrywe van 'n grapjas met 'n besondere (galge-)humor oor mensebôllie, óf is dié persoon ernstig? Dié onderwerp getuig nie juis van goeie smaak vir openbare meningsruiling nie. Hoewel, na my mening, skrywes oor (mense-)bôllie nie die papier werd is waarop dit gedruk word nie, mag ander daaromtrent dalk van my verskil. Maar werklik: die eerste brief daaroor laat my nie soveel gril nie; die tweede brief daaroor laat my allerverskrikliks gril. 

Laat ons, ter wille van ons lesers   -   en ook ons self   -   die grense van welvoeglikheid in gedagte hou, en nie die standaard van briefinhoude onder verdenking plaas nie.              (ngn)




Tuesday 10 September 2013

Kies Christus bo wetenskap en verstand

Marius Krige (VB,9/9/2013) se Bybel-uitdagende bewerings verdien ons ernstige aandag. Hy beweer: "(die Bybel is) antieke geskrifte met 'n wêreldbeeld wat totaal verskil van die huidige; ons leef in 'n eeu van rede waar ons niks kan glo as dit nie argeologies/wetenskaplik bewys kan word nie; die mens...(is) nie 'n aparte uitverkore wese nie; God het nie 'n spesiale verhouding met die mens nie..." Hierdie is duidelik die taal van 'n bekeerling tot die evolusiegeloof. Hoe lyk diesulkes se uiteinde?

Krige se bewerings stem baie ooreen met dié van Thomas Paine in sy driedelige boek, "Age of Reason" (1794,1795,1807). Hierin val ook Paine die Bybel en die Kerk aan met sy rasioneel-fundeerde kritiek. Vir hom was die rede/verstand verhewe bo God. Paine sê: "My own mind is my church."

Vra ons na die sterfbed-ervaring van Paine, dan word die aandag vinnig daarop gevestig dat hy   -   soos ook Charles Darwin   -   nié 'n sterfbedbekering deurleef het nie, dog gerapporteer dat hy, sterwende, sou gesê het: "I would give worlds if I had them, that the Age of Reason had never been published. O,Lord,help me! Christ, help me! No, don't leave; stay with me! Send even a child to stay with me; for I am at the edge of Hell here all alone. If ever the Devil had an agent, I have been that one."

Krige, ek   -   en elke ander Christengelowige   -   het 'n plig om jou te waarsku op grond van wat Esegiël 33:8 ons opdra: "Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie...sal Ek jou verantwoordelik hou vir sy dood." Krige, sal jy nie maar dié waarskuwing ter harte neem en Christus, die Eienaar van beide verstand én wetenskap, en Sy Woord betyds aanvaar nie?          (ngn)






Monday 9 September 2013

Vier lente met voëlkroeg en -restaurant


Lente is hier   -   ten minste op die almanak   -  en die natuurlewe ontwaak uit sy winterslaap; ook die voëllewe. "Ons" seisoenale swaeltjies is terug in hul nes by die agterdeur. Ook 'n kwikkie sit haar broeise sit by die agterdeur. Instink dryf hulle na dié stiller agterdeur-omgewing.

Aan straat- en voordeurkant het my vrou 'n voëlkroeg en -restaurant, ongeregistreer by die SAID, ingerig. Sy beweer die genotvolle akoesties-visuele "inkomste" gegenereer uit dié kroeg-restaurantbedryf, is nié belasbaar nie. Om onveiligheidsredes, egter, hou die blitskatpatrollie 'n voortdurend wakende oog oor dié omgewing.

Ek voorsien die bruinsuikerwater aan die boomtakgeleë "kroeg" op trapleerhoogte; my vrou die kos aan die "restaurant" in 'n houthuisie op 'n besemstok onder 'n boom. Hier kom eet en drink ons voëlvriendjies gratis, verniet en pasella. Daar is die dominante en ook die ondergeskikte besoekers wat eers hul beurt moet afwag. Kroeggevegte is geen vreemde verskynsel nie. Die fynbesnaarde sober duiwe besoek egter nie die kroeg nie; net die restaurant.

Kroegklante bestaan hoofsaaklik uit byevangers, vinke, suikerbekkies en kraalogies   -   in volgorde van dominansie. Klaar gedrink, beweeg hulle na die "geselsboom" hoog in die takke bokant die "restaurant", en kan dan geluister word na, veral, die "vinkesender" se solo-, duet- en kwartet-"uitsendings" vir al wat ore het. Al verstaan ek geen kwetter daarvan nie, streel dit die oor met terapeutiese effek. 

'n Terugflitsende skuldgevoel bly nie uit nie: hoe dikwels het ek nie, as laerskoolseun, met bonsende hart oor 'n windbuksloop na dié vriendjies gekyk nie? Die wilde-kanarie in G.A.Watermeyer se "Ballade van die bloeddorstige jagter" herinner my daaraan met sy: "Ek kelk die sonlig in my keel en rym die rondebessie ryp; met kinderhand het hy, het hy die fluite uit ons bors gegryp." Eina, wilde-kanarie, die waarheid maak seer.


Monday 2 September 2013

SA media gaan selektief om met waarheid

"Beeld" (30.08) berig oor 'n UP-filosofiedosent, dr. Louise Mabille, wat in 'n skrywe die vraag gevra het "waarom babaverkragting 'n kulturele fenomeen onder die swart bevolkingsgroepe is". Dr. Piet Croucamp, 'n UJ-dosent, bekend vir sy deelname aan "SABC"-debatvoeringe, beskuldig Mabille   -   in 'n beswaarmakende skrywe aan die UP   -   van "blatante rassisme en haatspraak". Mabille het bedank en vertrek binnekort na die buiteland. Indien dit wat Mabille beweer akademies-getoets waar is, intimideer Croucamp haar dan  nie? Kan hy bewyse aanvoer tot die teendeel?

Liewe genugtig! Sodra iets gesê/geskryf word wat feitelik waar is aangaande énige rassegroep wat as sodanig bewysbaar is, dan word die rassisme/haatspraak-kaart uitgepluk. Só sal ons nooit van dié euwel ontslae raak nie. Is dit rassisme/haatspraak om te rapporteer wanneer 'n swart/wit persoon 'n wit/swart persoon vermoor het terwyl dit met 'n hofuitspraak bewysbaar is? Bevorder media-verswyging nie die euwel van rassisme/haatspraak nie? Wie se belange word só gedien: die SA-burgers s'n, of die ANC?

Waarom moet SA-burgers via die buitelandse nuusmedia, soos vanuit die VSA, verneem van 69 aanvalle, 101 slagoffers, 20 moorde en 20 plaasaanvalle op wittes  vanaf 1 tot 31 Mei vanjaar, terwyl dit deur die SA-media verswyg word? Dit is mos duidelik agterdogwekkend.

Ons weet lank reeds dat, veral die Afrikaanstalige media, intern gemuilband word, 'n mediagedragstipe wat aan die Goebbels-era van die Duitse Nazi-bewind herinner. Hoeveel joernaliste, wat ook maar hul taak om den brode uitvoer, se taak word nie hierdeur striemend bemoeilik nie? Hulle moet hul taak uitvoer volgens opdragte afkomstig van die mediabase en  -magnate wat die heersende SA-beeld bepaal en voorskryf volgens 'n versweë agenda. Die media vertolk en hanteer daarom sekere waarhede selektief as "ongevoelig" teenoor sekere persone en/of groepe in SA. Dr.Mabille is 'n slagoffer daarvan.           (ngn)




Monday 26 August 2013

Stakerseise plunder ekonomiese sektore

Die jaarlikse stakingseisoen het begin. Hoewel die oorsake kompleks is, is ANC-sosialistiese parasitering op die SA ekonomie, volgens my lekemening, 'n belangrike rede daarvoor. Vanweë ANC-onvermoë om sy verkiesingsbelofte van   " 'n beter lewe vir almal" (lees: swartes) te realiseer, stel hy die SA ekonomie bloot aan plundering deur die werkersgemeenskap om sodoende hul voortgesette steun te behou.

Die ANC-leierskap stel self die voorbeeld vir plundering; waarom dan nie ook die volgelinge nie? Met die uitdeel van eenmalige kospakkies word die stemme   -   met 'n leeftydsduur van tot vyf jaar   -   van hul ondersteuners geplunder, dikwels vir persoonlike gewin soos die ontmaskerde geval van Dina Pule en haar simpatiseerders duidelik uitwys. Diegene wat reeds "goue handdrukke" ontvang het, is verdere voorbeelde van plunderaars.

Met 'n ANC-geskepte "beter lewe vir almal"-omgewing, gaan die massas skuld aan op ongekende wyse, want só word dié verkiesingsbelofte mos vervul. Met onvereffenbaar geakkumuleerde skuld, én 'n onversadigbare drang na nog méér, móét geld iewers gevind word. 

Geskooldheid, kwalifikasies en produktiwiteit is lank nié meer maatstawwe vir vergoeding nie. Soos vele ander ANC-kaders, het veral Julius Malema die onnodigheid van dié kriteria vir rykword "bewys". Die ANC-gesanksioneerde geldbron wat getap moet word, is sektore van die SA ekonomie soos die mynbou-, vervaardigings- en landbousektore deur absurde bo-inflasiesyfers looneise daaraan te stel.

Hoe lank nóg kan die SA ekonomie, wat ook die onbeheerde bevolkingsaanwas en toestroming van buitelanders moet dra, die onrealistiese looneise van tot 60%   -   waar slegs 6% realisties moontlik is   -   verduur voordat dit, saam met die voosbelaste verbruikers na wie loonverhogings uiteindelik deurwerk en inflasionêr benadeel word, in duie stort? Stakings skaad ons beeld as stabiele beleggingsomgewing en voer ons verder na die armoedeafgrond, dog vir die ANC blyk die ekonomiese gans net nooit op te hou met goue eiers lê nie.         (ngn)






Thursday 22 August 2013

Verkiesings niks anders as rassesensusse

Volgens die berig, "Onderwys: SA steek sleg af" (DB,21.08), het Collins Chabane   -   minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en  -evaluering   -   die ANC-regering se ontwikkelingsaanwysers vir 2012 in die parlement bekend gestel. Daarvolgens vaar SA pateties in vergelyking met ander Afrikalande wat selfs nog minder aan onderwys bestee. Die uitwerking daarvan in die vorm van verval en agteruitgang van ons breë samelewing word, onder meer, weerspieël in prof. Nico Koopman se Godsdiens Aktueel-artikel, "Skole van hel sê iets van ons gemeenskap" (DB,21.08).

Chabane se verslag het egter ook die terreine van dienslewering, gesondheidsorg, korrupsie en werkloosheid ingesluit. In sy, "Nuuskommentaar: Gaan Suid-Afrika vooruit of die kreeftegang?" (Maroela Media, 21.08), sê Phillip Bruwer: "Die minister het, verstaanbaar, in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing hard probeer om 'n algemene prentjie van vooruitgang...aan te bied."

Volgens die DA moet gelet word op wat gebeur het sedert pres. Zuma aan bewind is. Wat die internasionale korrupsie-persepsieïndeks betref, het SA die afgelope twee jaar veertien plekke teruggesak. Ook op die internasionale persvryheidsindeks het SA teruggesak. Verdere indekse waarop SA terugsak, is die geweldsindeks, die indeks vir mislukte state, asook die innovasie-indeks.

Met Zuma se bewindsoorname in 2008 het die regstreekse investering in SA R100 291 miljard beloop. In 2012 het dit afgeneem tot R1 673 miljard. In dieselfde tydperk het tou-opgooiende werksoekers met meer as 'n miljoen toegeneem. Chabane erken daarom "dat die armoedevlak in die land...tot 52% van die land se bevolking toegeneem het."

Selfs met hierdie sleutelgat-scenario van Zuma is die boodskap duidelik: sy tyd, én dié van sy "Bring my masjiengeweer"-liedjie, is verby, dog swart kiesers stel hul vertroue in die ANC bó enige ander party. Bruwer beweer dit is duidelik dat daar twee teenoorstaande persepsies van waarheid in SA bestaan as gevolg waarvan verkiesings eintlik niks anders as rassesensusse word nie.




Monday 19 August 2013

Botman se beginpunt vir 'n SA-identiteit

In sy "Ons is allereers tog Afrikane" (DB,19.08), besin prof. Russel Botman oor ons nasionale identiteit, 'n begrip wat hy erken "veelkantig, kompleks en omstrede (is)...(en) 'n persoonlike én 'n groepsdimensie (het)." Hy beskou die Grondwet as "welmenend" in dié verband, omdat dit die "ongeregtighede van ons verlede" sowel as "ons diversiteit" erken. Botman beskou die "bestanddeel (van) inklusiwiteit" as baie belangrik, en haal die Nasionale Ontwikkelingsplan aan wat sê: "Ons self het die reëls gemaak waarvolgens ons wil hê ons moet leef."

Omdat Botman 'n geskoolde teoloog is, verwag ek dalk te veel van hom om hom ook as Christengelowige oor die (ideale) SA-identiteit uit te spreek. Hy erken die kompleksiteit, omstredenheid en die persoonlike en groepsdimensies van ons SA-identiteit, dog ek sou graag wou sien dat hy ook vanuit 'n Bybelsfundeerd Christelike perspektief dieper daarin delf.

Ek self kan nie my ware identiteit vind elders as binne die kern van my wese as mens nie, en vir my is Christus daardie kern (persoonlike dimensie van identiteit). Maar nou is almal nie Christene nie, dog ons is almal mense. So, wat is 'n mens dan? Iemand het gesê: 'n mens is 'n kenbare dog misterievolle wese wat dinge kan transendeer, dit wil sê bokant die sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge kan uitstyg. Dit is juis hierdie transendentale dimensie van ons menswees wat ek graag sien Botman (as teoloog) deel van sy "inklusiwiteitsbestanddeel" sal maak, dog om begrypbare redes dit baie moeilik sal vind. Nietemin bly dit 'n uitdaging.

Hoewel ek myself nie as 'n "Afrikaan" beskou nie, maar wel as 'n Christen-Afrikaner (die persoonlike én groepsdimensie), neem ek wel deeglik kennis wanneer Botman sy siening aanbied as " 'n nuttige beginpunt vir ons SA identiteit", met die hoop dat dié identiteit mettertyd ook die transendentale dimensie daarvan sal erken en verreken.




Wednesday 14 August 2013

Die stand van waarheid in SA wek kommer

Toe Buddy Holly op 3 Februarie 1959 in 'n vliegongeluk sterf, sou dit Don McLean tot sy "American Pie"-liedjie inspireer waarin die bekende gedeelte, "The day the music died", voorkom. Dié liedjie dien tegelyk as metafoor vir die einde van 'n musiekera, en as allegorie vir 'n nuwe hoofstuk in die Amerikaanse volksgeskiedenis. 'n Tydperk van onskuld eindig; 'n periode van groot onsekerheid breek aan.

Ek vind hierin 'n treffende ooreenkoms met ons eie SA-situasie sedert 1994  -   'n era is beëindig; 'n nuwe breek aan. Elkeen is geregtig op 'n mening. So sien ek 'n ooreenkoms tussen "The day the music died" en 'n toenemende waarheidskuheid met die klimaatskepping vir 'n SA-leuenkultuur. My indruk is dat die grense tussen waarheid en leuen toenemend vervaag, en mense vind dit skynbaar aanvaarbaar.

Die "nuwe waarheid" wat skoolkinders moet "ontdek"   -   oor die menslike ontstaan (Bybelbotsend) asook ons SA-geskiedenis   -   kwel blykbaar nie predikante en kerkleiers nie, hulle wat juis hul waarheidstoerusting aan die Bybel ontleen en as wagters op die waarheidsmure waarskuwend moet waak.

Reeds vanaf die sondeval is die leuen in 'n onafgebroke stryd gewikkel met waarheid. Ook SA word gekenmerk deur dié stryd, dog nêrens hoor of lees ek dat leiers, selfs kerkleiers, hul kommer uitspreek oor die heersende aanslag op waarheid en die gesagsondermyning daarvan nie. Die toestand waarin die huidige SA waarheidsbewussyn verkeer, is kommerwekkend.

Die toename in misdaad, korrupsie, verkragting en moord is nié die manifestasies van 'n nasionale waarheidstrewe nie. Die weg na waarheidsoeke word blokkeer deur struikelblokke soos intimidasie, politieke korrektheid, die rassekaart, toesmeerdery, sloerende vertragingstaktiek en doodsdreigemente. Finaal gespeen van die waarheid, sal ons eerlang ons eie "The day truth died in SA" as elegie kan sing.







Monday 5 August 2013

Kerkordelike fluitjie vir Belhar geblaas

In rugby word 'n drie, gedruk vanaf 'n vorentoe aangee, nie toegeken nie. Om so 'n ongeoorloofde drie erken te kry, sou die ondenkbare wysiging van rugbyreëls vereis. Die Belharaangeleentheid is analoog hieraan. Aanvaarding daarvan vereis die wysiging van Artikel 1 van die NGK se Kerkorde.

Dr.Henrietta Klaasing, kenner van die kerklike funksionering, wys daarop dat die Vrystaatse streeksinode onlangs die korrekte kerkordelike weg rakende Belhar aangewys het. Slegs indien Artikel 1 eers gewysig word, kan Belhar deel van die bestaande belydenisskrifte word. Hiervoor word 'n voorgestelde nuut-geformuleerde Artikel 1 benodig.

Sodanige voorgestelde wysiging moet dan deur tweederdes van alle gemeentelike kerkrade, tweederdes van alle streeksinodes, sowel as  deur die algemene sinode (AS) met 'n tweederde meerderheid goedgekeur word. Dán eers word die legitieme aanvaarding van Belhar 'n moontlikheid; nié voor die tyd nie.

Dr.Klaasing se verduideliking strook met die inhoud van 'n skrywe   -   gedateer 29 April 2013   -   van dr. Johann Ernst, Aktuarius:Algemene Sinode en van die Algemene Taakspan Regte (ATR), aan dr.Kobus Gerber, algemene sekretaris van die AS, dat laasgenoemde sinode se 2011-besluit oor Belhar "nie anders vertolk (kan) word as 'n voorneme om die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag te maak nie."

Waarom, dan, het vroeëre streeksinodes   -   Wes- en Suid-Kaapse én Oos-Kaapse   -   nie ook, onderskeidelik, die korrekte kerkordelike weg vir Belhar aangewys nie? Soos die Vrystaat, ken hulle tog seker ook dié kerkordelike vereiste? Vir diegene wat so spoedeisend met die "Belharbal" onder die kerklike arm na die belydenisse-doelgebied hardloop, sê die ATR van die AS: Kom terug! Die kerkordelike fluitjie het vir Belhar geblaas! Waarom blaas dié fluitjie nou eers, agtien maande ná die 2011-sinodesitting?      (ngn)






Thursday 1 August 2013

En as kaartehuis ineenstort, wat dan?

Dit kom voor of Pansegrouw (VB,01/08/2013; VB,24/07/2013) sarkasme tot debatstyl gemaak het oor 'n aangeleentheid van 'n veels té ernstige aard om ligsinnige sarkasme as bondgenoot daarby te betrek. Dit is jammer.

Nie Pansegrouw óf ek kan met sekerheid sê wat die toekoms oor die "lang messe-bloedbad" inhou nie; onsekerheid wat ons tot beskeidenheid behoort te stem. Myns insiens lê ons verskil in die potensiële moontlikheid (ek) óf dan die nié-moontlikheid (Pansegrouw) daarvan opgesluit.

Pansegrouw meen: "verweer teen 'n bloedige rewolusie is genoeg mense wat ietwat en meer sal verloor in so 'n situasie". Hieruit blyk dat hy sy gerusstellende toevlug in geakkumuleerde materiële besittings (waardes) vind. Hy vind verdere geborgenheid in " 'n maatskaplik-ekonomiese middelklas" waarvan die groei " inderdaad (fluks) is en die wittes in getalle en koopvermoë verby (steek)."

Die aanname waarop Pansegrouw se materiële toevlugsoord berus, is van kapitalistiese aard. Kan hy vir ons sê of mense, wat oor vele geslagte heen aan 'n sosialistiese groeps-  en kommunale bestaan blootgestel was en deel van hul "vesel" geword het, oornag in 'n enkele geslag tot privaatbesit en kapitalisme "bekeer" kan word waardeur alle spore van sosialisme uitgewis is?

Dan, as 'n blyk van getemperde bravade, sê Pansegrouw: "Die gevaar van 'n bloedige rewolusie bestaan. Dit broei moontlik in die onderklas van werklose, brandarm jong mense sonder kwalifikasies en hoop"   -   'n verrassende erkentenis en ommekeer.

Met hierdie terugkrabbelende erkenning as agterdeur, sê Pansegrouw; " 'n Mens kan net duim vashou die nuwe middelklasse besef dit..." En indien hulle dit nié besef nie, Pansegrouw, en nié op kapitalisme "ingekoop" het nie en jou kaartehuis ineenstort, hoe dan gemaak?













Monday 29 July 2013

Plakkaat propageer twyfelagtige verslag

Nadat ek "Verslag ontbloot (wit) mites oor plaasaanvalle" (DB,29.07) in "Die Burger" gelees het, lees ek   -   op pad dorp toe   -   die plakkaat "Mites oor plaasmoorde blootgelê" teen 'n lamppaal. Ek vind dit meer as net gewoonweg interessant.

Ek kan my nie herinner wanneer laas daar 'n "Die Burger"-plakkaat teen lamppale verskyn het wat kom vanuit sy weeklikse "Boeke"-rubriek nie. Ek vind dit vreemd, en besef dat dié plakkaat beslis 'n bepaalde boodskap aan alle lesende verbygangers moet oordra. En die boodskap?   -   plaasaanvalle op wittes is bloot mites. Ek vind dit as van 'n subtiel propagandistiese aard.

Onder die begrip "mite" verstaan ek, volgens die HAT, 'n fabel of 'n storie sonder grond. Is dit wat "Die Burger" propagandeer, gebaseer op Sean Christie se verslag waarin die resensent erken dat "daar 'n geweldige gebrek aan inligting en konsensus is"; dat daar belangegroepe is wat dit eens is "dat die aanvalle weens rashaat is en wit mense is die teiken"; "Christie se beskrywing ... is soms misleidend" en sy verslag "beklemtoon die noodsaaklikheid vir meer inligting" ?

Ongetwyfeld is dit 'n amateuragtige verslag wat nié met erns bejeën kan word nie. Ek vind dit daarom onbegryplik dat soveel ooglopende prominensie aan so 'n hoogs twyfelagtige verslag verleen kan word. Hiermee het "Die Burger" se oordeel hom in die steek gelaat. Dit is duidelik dat dié verslag die moontlikheid van sensasiewekking en misleiding in hom omdra. Ek vind dié plakkaat daarom as onsensitief teenoor vele van "Die Burger"-lesers en 'n jammerte.






Saturday 27 July 2013

Kerk volhard op sy nuwe ingeslane weg

Heftige teenkanting ten spyt, blyk die NG Kerk obsessief te wees om die Belharbelydenis deur te stoomroller. Kerkleiers soek naarstiglik na weë en middele daartoe. Dit is die indruk verkry uit "NG Kerk 'het moontlik 'n formule vir Belhar-angel' " (DB,25.07). "Voorstel bring nuwe hoop vir eenheid in kerke" (DB,26.07), wek die indruk dat met "formule" eintlik "konsensus" bedoel word waaromtrent "sleutelmense (kerkleiers) met uiteenlopende standpunte reeds hul instemming daarmee (met konsensus) getoon" het.

Konsensus oor 'n saak waaromtrent Christengelowiges diepgaande verdeeld is? Hou die Bybel vir ons voor dat konsensus deel van God se Wil en werkswyse is vir Sy kerk? Stel Hy die voorbeeld deur  konsensuele ooreenkomste met ander (af-)gode te sluit?

Die NG Kerk se fokuspunt verskuif geleidelik vanaf God (vertikaal) na die mens (horisontaal). Bybelse gesag word vervang deur die gesag van lidmate (mense) wat "vry" is om sélf te kan kies. Die geëmansipeerd verhumaniseerde kerk bind sy naelstring aan Skrifgesag af. So word by die laaste algemene sinodesitting besluit dat lidmate nou sélf kan besluit oor die bestaan van Satan, dus: óf jy glo die Bybel, óf jy verwerp wat die Bybel oor Satan sê. Dieselfde strategie word nou gevolg ten opsigte van Belhar   -   mense spreek die laaste woord, nie die Bybel nie.

Gaan die NG Kerk voorkant toe potensiële aangeleenthede waaromtrent lidmate óók diepgaande verdeeld is   -   soos homoseksualisme, evolusionisme en spiritistiese mistisisme   -   ook op dieselfde konsensus-grondslag hanteer? Hoe tegelyk ironies én tragies dat die NG Kerk, wat beweer dat hy eenheid nastreef, homself weerspreek deur juis "inhuisige" verdeeldheid te kies tot vertrekpunt vir sy toekoms.

Die NG Kerk se geloofwaardigheid kom onder ernstige verdenking by sy lidmate. Die gevolg is die vervreemding van 'n aansienlike getal van sy lidmate, waarvan die duisende wat dié kerk reeds verlaat het, getuig. Ten spyte daarvan hou die NG Kerkleierskap hardnekkig vol op hul nuwe ingeslane weg.




Wednesday 24 July 2013

Nag van lang messe nié 'n volkseie versinsel

Ek lees met belangstelling Trichardt Pansegrouw se "Nag van lang messe is 'n volkseie projeksie" (VB,24/07/2013), en lees iets van 'n volksonvriendelikheid daarin. Benewens sy scenario-skets, bestaan daar egter meerdere scenario's oor dié onderwerp waarvan hy met vrug kennis kan neem.

Gedurende die tyd van die Russiese Glasnost en die val van die Berlynse Muur, was dit uiters onwaarskynlik dat 'n SA-bloedbad die steun van die internasionale gemeenskap sou geniet het. Natuurlik het Mandela dit geweet.

Die SAW was tóé die sterkste in Afrika, die SAP 'n formidabele mag, daar was parate hulpdienste soos die brandweer- en ambulansdienste, die kommandostelsel op die platteland was funksioneel, en die burgery beter gewapend. Die "bloedbad" kón effektief teengestaan word.

Mandela het dit wel deeglik besef en sy rewolusionêre kaarte styf teen sy bors gehou. Met 'n gety wat teen internasionale kommunisme begin draai het, het hy die "bloedbad-bluf" geroep en daarin geslaag om sy vrees-geïntimideerde teenstanders met dié bloedbad verlammend gyselaar te hou en uiteindelik dié sielkundige "geveg" te wen, en daarmee die "oorlog".

Ek dink daar wag vir Pansegrouw 'n ontnugterende verrassing wat betref die "nag van lang messe". Met die ANC in volle beheer van die SANDF, SAPD, vernietiging van die landelike kommandostelsel en burgerlike ontwapening, lyk dié "nag" beslis na 'n veel groter waarskynlikheid as die vóór 1994-bloedbad. Ek verseker Pansegrouw dat dié "nag" beslis nié 'n "volkseie" maaksel en/of versinsel is nie.

Ek wil hoop dat tyd Pansegrouw as korrek en vir my verkeerd sal bewys.








Mandela laat geweld-in-tandem na

Op my vroeëre vraag óf geweld deel van Mandela se nalatenskap is (DB,08.07), het ek enkele skrobberings as reaksie daarop gekry. Ek kyk egter daarby verby en volg die Bybelse raad van soek en jy sal vind. So vind ek by dr. Peter Hammond   -   bekende Christengelowige skrywer van Christelike artikels en stigter van Christenorganisasies   -   'n sinvolle antwoord.

Hammond wys daarop dat Mandela met sy ondertekening van die "Termination of Pregnancy Bill" op 01-02-1997 verantwoordelik is vir die aborsie (moord) van reeds meer as 'n miljoen babas. Hy dekriminaliseer prostitusie, en sekswinkels en pornogarfie floreer. Verkragtingsyfers styg dramaties. Gedurende sy termyn vind meer as 100 000 moorde plaas. Met sy verjaarsdae gooi hy die tronkdeure vir rampokkers oop. Onder Mandela verloor die Rand 80% van sy waarde; ons nasionale skuld verdubbel; 2.8 miljoen werksdae gaan verlore, en "The Economist" beskryf sy termyn as 'n "failure".

Uit hierdie paar voorbeelde blyk Mandela se geweld teen lewe (aborsies en moordtoename), teen ons sedelike lewe (prostitusie en pornografie), teen veiligheid van vroue (verkragtingstoename) asook sy finansieel-ekonomiese geweld (Randverswakking en buitelandse skuld) vir sigself te getuig. Al hierdie vorme van geweld is steeds met ons, geweld wat Mandela nalaat.

Hierdie geweld kan gesien word as geweld-in-tandem. Waarom? Het hy nie die geweld teen sedelikheid laat toeneem nie, het die verkragtingsgeweld nie toegeneem nie, en so ook nie die aborsiegeweld as uitvloeisel van verkragting nie.

Of ander saamstem met Hammond   -   en die antwoord op my vraag wat ek by hom vind   -    is irrelevant vir my, want saamstem met mekaar hieromtrent sal ons nie. As volwassenes hoef ons ook nie rusie te maak vanweë ons verskillende sieninge nie. Demokrasie akkommodeer verskille. Vir myself   -   en dalk andere ook   -   het ek egter 'n rasioneel-sinvolle antwoord gevind in 'n tyd waarin irrasionaliteit en emosies hoogty vier.




Monday 22 July 2013

Optrede teen barbarisme nie 'n prioriteit

Nog 'n weldoenermens word vermoor (DB,16.07). Lizelle le Roux van Molteno word die soveelste slagoffer van brute barbarisme. Vir die gekondisioneerde geweldvose samelewing waarskynlik maar net nóg 'n statistiese inskrywing en 'n gou vergete hopie grond.

SA bevind hom in die knelgreep van brutale barbaarsheid. Die dag waarop daar ja gestem is vir sosialisme-kommunisme   -   onder die misleidende vaandel van die westerse demokrasie   -   het die potensiaal tot 'n terugkeer na voorbeskawingse barbarisme daarmee saam herontwaak.

Het stilbly, anderpad-kyk, volgehoue toegewings en allerlei verskonings vir barbaarse gedrag die SA-burgery enigsins gebaat, in die waan dat dit sigself sou uitwoed en daarna tot vrede en veiligheid sou lei? Hoegenaamd nie! Inteendeel, dit gaan van kwaad tot erger soos weerspieël in stygende moordstatistiek. Voorgemelde strategie word as swakheid vertolk en terdeë uitgebuit, aangehelp deur 'n rewolusionêr klimaatskeppende omgewing deur die ANC daartoe berei.

Ons behoort in die lig van Albert Einstein se kontekstueel toepaslike woorde: "The world will not be destroyed by those who do evil, but by those who watch them without doing anything", ons apatiese ingesteldheid teenoor barbaarse gruweldade in 'n demokratiese samelewing, ernstig te heroorweeg. Vir so lank as wat die nasionale wil daartoe ontbreek om van optrede teen barbarisme 'n prioriteitsaak te maak, vir so lank sal dit met verwoestende gevolge voortwoed, en steeds 'n daaglikse lewensbedreigende gevaar vir alle landsburgers bly.              (ngn)






Saturday 20 July 2013

Media se geloofwaardigheid bevraagteken

'n Afwesigheid van balans kenmerk beriggewing oor Mandela. Eensydigheid van mediadekking is ooglopend. Pogings om ook Mandela se ander sy in die openbaar te stel, word, figuurlik gesproke, afgesny met die sekel en plat geslaan met die hamer op die dorsvloer van die voortgesette rewolusie waarvan dié twee stukke gereedskap simbole is.

Lesers is bewus van dié koerante wat die SA Perskode se waardes van waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid onderskryf, maar word beswaarlik in beriggewing oor Mandela weerspieël. Mense is in gesprekke eens oor die nie-geloofwaardigheid van die media.

Kan ons nog die media vertrou met die waarheid, of het dit in dienstige knegskap van die voortslepende rewolusie verval? Lesers het begrip vir die moeilike taak van die media, maar waarom dan verbind tot aanvaarde waardes as dit nie konsekwent as riglyne dien nie? Dit maak dié waardes bespotlik.

Ons Bybelse opdrag is om aan die keiser te gee wat hom toekom. Drapeer Mandela daarom in dié lofgewaad wat hom regverdiglik toekom, maar let ook op dié tydperk toe dié keiser "kaal" was. 

Sedert Mandela se ondertekening van die "Termination of Pregnancy Bill" van 01-02-1997 is reeds meer as een miljoen babas wettig met belastingsbetalersgeld geaborteer (vermoor). Sy dekriminalisering van prostitusie lei tot pornografie en sekswinkels. Verkragtings neem dramaties toe.

Meer as 100 000 word in sy termyn vermoor. Met sy verjaardagvierings laat hy gewapende rowers, verkragters en moordenaars vry. Onder Mandela verloor die Rand 80% van sy geldwaarde; deur stakings gaan 2,8 miljoen werksdae verlore, en ons nasionale skuld verdubbel. "The Economist" beskryf sy termyn as 'n "failure".

Hierdie is maar slegs enkele voorbeelde van sy nalatenskap waaromtrent die media swyg en ons "gelukkig" mee moet saamleef. Dié swygsaamheid stoot die vraag na die media se geloofwaardigheid sterk na vore.     (ngn)



Wednesday 17 July 2013

Eens gevestigde geweld word onbeheerbaar

Kan ek en ds.Grigor dalk feitelik saamstem betreffende die volgende, óf in goeie gees daaromtrent verskil: eerstens,dat die voor- en na-Robbeneilandse Mandela nie identies is nie, maar wel aansienlik van mekaar verskil, en, tweedens, dat die voor-Robbeneilandse Mandela 'n prominente geweldstigter was wat, deur die gebruik van ekstreme geweld, die destydse regering omver wou werp? Indien ons kan, mag ons vorder.

Ongeag die "tegniek" wat ek dan, volgens ds.Grigor (DB,17.07), in my aanvanklike vraagstelling sou gebruik het, bly die vraag egter steeds onveranderd, naamlik: is geweld deel van die Mandela-nalatenskap?

Dalk kan ons bly vorder as ek my nalatenskapsgedagte uitbrei en kwalifiseer as synde Mandela se groot invloed op die aanwending van geweld in SA, asook op die volgehoue voortsetting daarvan, met ander woorde, wat hy nalaat deur sy voorbeeld en invloed wat hy vroeër op sy volgelinge uitgeoefen het ten opsigte van geweld. 

Het ons (ook Mandela) altyd en volkome beheer oor die invloed wat ons   -  bewustelik óf onbewustelik   -   uitoefen op mense? En kan ons dié invloed soos 'n ligskakelaar willekeurig aan- en afskakel? Ek dink beslis nie so nie. Presies dieselfde beginsel geld ook vir die voortbestaan van Mandela se voor-Robbeneilandse geweldsinvloed. Dit is hierdie deel van sy nagevolgde vroeëre invloed, waaroor hy nié beheer het nie, wat ek sien as sy nalatenskap van geweld. Woorde eens gespreek, is nié herroepbaar; dade ook nie uitwisbaar. Ons praat van "gedane sake het geen keer".

Kon Paulus volkome daarin slaag om die invloed van sy voorbeeld as vervolger van Christus se kerk, ná sy Damaskus-ervaring, totaal uit te wis, of het sy vroeëre voorbeeld oorblyfsels nagelaat van sy eertydse vervolging van Christene? Slaag Mandela dan beter hierin as selfs die Bybelse Paulus? Is dit dan só moeilik om Mandela se onvermoë tot beheer oor die invloed van sy vroeëre geweldspropagering te begryp as sy nalatenskap van geweld?                     (ngn)




Friday 12 July 2013

Wat is 'n "algemeen gelowige volk"?

Noudat Terblanche opgeklaar het (VB,12/07/2013) dat hy met "gelowige volk" Christen-gelowiges bedoel   -   in sy vorige brief spel hy dit nie só duidelik uit nie   -   bied dit geleentheid vir 'n vraag of twee aan hom.

Sal Terblanche vir ons verduidelik wat dit beteken om "oor die algemeen 'n gelowige volk" te wees in terme van die Christelike geloof? Wat van 'n "besonder gelowige volk" en 'n "uitsluitlik gelowige volk", asof daar "trappe van geloof" in God bestaan?

As ons dink aan God se uitverkiesing van oud-Israel as Sy Verbondsvolk, wat lees ons van dié God-Verbondsvolkverhouding: 'n "oor die algemeen", 'n "besonder" of 'n "uitsluitlik" gelowige volk volgens Sy eise? Ek dink laasgenoemde. 

Kan die geloofslewe van énige volk gekwantifiseer word tot "oor die algemeen"? Laat die Bybel ons toe om gekwantifiseerd met ons geloof in God om te gaan, hetsy as indiwidu óf as volk? 

Geloof in God is allesopeisend, nie net breukdele of persentasies nie. Dit is juis ons Christen-gelowiges se probleem dat ons slegs een-uur-Christene op 'n Sondag wil wees, en die ander 167 ure per week vir ons self opeis, dus breukdeel- of persentasie-gelowiges. Dit geld ook enige volk, soos die Afrikaners én die Xhosas.

Wil Terblanche nie maar vir ons sê waarom hy juis die Xhosas as 'n "oor die algemeen gelowige volk" vir ons lesers voorhou nie? Het dit dalk enigiets verlangs te doen met die persoon van die siek wêreld-ikoon, Nelson Mandela   -   'n Xhosa-stamlid   -   ten einde aan sy beeld 'n indirekte Christelike kleur te gee? Net Terblanche kan ons hiermee help.                (ngn)




Thursday 11 July 2013

Poging om vraagstellingsreg te ontneem

Ek het goeie begrip vir Otto Terblanche se lofrede vir Mandela in sy, "Mandela skuif Afrikaners nie langs kantlyn" (DB,11.07), waaromtrent ek hom ook veel gelyk kan gee. Dit is egter uiters noodsaaklik   -   as teenvoeter vir misleiding én ter wille van die waarheid   -   om duidelik te onderskei tussen 'n vóór-  en 'n ná-Robbeneiland Mandela. Terblanche skets vir ons die ná-Robbeneiland Mandela wat nié die Mandela-era as geheel in 'n gebalanseerde perspektief stel nie.

Met die oog op dié twee onderskeibare Mandelas, het ek dit (let wel in vraagvorm; nié in aanklagvorm) in my skrywe, "Geweld deel van Mandela se nalatenskap" (DB,08.07), gehad oor die vóór-Robbeneiland Mandela, en toe die vraag gestel óf die geweld van dié Mandela-fase ons verlaat het   -   óf Mandela dus daarin geslaag het om dié geweld te beëindig   -   en of hy dit nie kon/wou doen nie, en daarom as nalatenskap steeds met ons is. Intussen lees ek dat die oud-SAP-brigadier, R.Palla, geweld as Mandela-nalatenskap bevestig (DB,11.07).

Ek beskou my vraag nie as 'n onredelike vraag nie. Vanwaar dan die rewolusionêre geweld wat ons vandag in vele vorme steeds beleef as dit dan nie 'n voortsetting is van die vóór-Robbeneiland Mandela-era, wat hy nie kon/wou beëindig nie   - nou gekamoefleer deur die mooiklinkende "amptelike" Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR)?

Dit is my grondwetlike reg om dié waarheidsoekende vraag aangaande Mandela te mag vra, 'n reg wat ds. Pierre Grigor (DB,09.07) en Conrad (DB,10.07) my duidelik nie gun nie, maar my wil ontneem.




Tuesday 9 July 2013

Grigor se boelie-scenario bevooroordeeld

Dominee Pierre Grigor se brief (DB,09.07), in reaksie op my skrywe (DB,08.07), het betrekking. Hy het nog nóóit in die briewekolom reageer op enige van my vele vorige briewe oor kerklike aangeleenthede nie. Daarom vind ek sy kommentaar op my skrywe oor die Mandela-nalatenskap besonder vreemd. Is dit onredelik om van 'n predikant te verwag om blyke te gee van sy besorgdheid oor Mandela se sieleheil   -   so naby aan sy einde   -   eerder as oor sy nalatenskap?

Grigor simpatiseer openlik met Mandela waarvoor hy 'n bevooroordeelde "boelie"-scenario skets met die vorige regering as die "boelie", en Mandela die onskuldige verontregte. Was dit nie vir hierdie "boelie" nie, was SA bes moontlik lankal reeds 'n satellietstaat van die kommunistiese meesters agter die Ystergordyn en die Berlynse Muur tydens die Koue Oorlog. Kan ds. Grigor daarmee identifiseer?

In 'n bewysstuk, voorgelê tydens sy Rivoniaverhoor, skryf Mandela dat die verdrukte massas gelei en begeester word deur die SAKP-beleid; dat die kapitalistiese samelewing vernietig en deur sosialisme vervang sal word. Dié oorgang kan nie geskied deur hervormings nie, maar deur rewolusie.

Het Mandela se gevangenskap nie 'n rehabiliterende uitwerking op hom gehad sodat hy as 'n ouer, ryper, meer realistiese en gematigde ANC-leier die gevangenis verlaat het nie? Is dit dalk die Grigor-fokuspunt? In April 2001 rapporteer "Die Burger" Mandela se KKNK-toespraak dat hy "tydens sy gevangenisperiode...tot die gevolgtrekking gekom (het) dat Afrikaners se vrees dat hulle nie onder 'n swart regering sal kan oorleef nie, een van die belangrikste redes vir apartheid is   -   en dat dié vrees gevolglik weggeneem moet word"   -  'n wonderlike insig!

Sal Grigor, motiverend, vir ons sê óf Mandela toe wel   -   ook deur sy nalatenskap   -   'n bedeling geskep het vir die verwydering van geregverdigde vrese by wittes?                   (ngn)




Monday 8 July 2013

Mandela nie só 'n sterfbed toegewens nie

Waarmee kan die intens volgehoue nuusdekking, nasionaal én internasionaal, oor die uitgerekte Mandela-siektesage vergelyk word   -   met 'n opspraakwekkende natuurramp soos 'n verwoestende aardbewing of tsoenami? Wat my, as Christengelowige, besonder opval van ons nasionale beriggewing, is die voortdurende oproepe om gebed vir Mandela wat my met dié vrae laat: tot wie gebid, en waarvoor gebid?

Anders as in die vorige bedeling durf Christene   -   vanweë 'n veranderde grondwetlike bestel   -  nie langer in die openbaar daarop aanspraak maak dat die God wat húlle aanbid, die enigste en ware God is nie. Dit tas humanistiese menseregte aan en gee aanstoot. Ek vind dit tragies dat vele Christene hulle hierin berus en só Christus se laaste opdrag, om al die nasies tot Hom te lei, as't ware verloën. Dié opdrag sluit nie Mandela uit nie.

Die vraag waarmee Christene gekonfronteer word, is: gaan Mandela mét of sónder Christus sterf? Die antwoord op dié vraag   -   waaromtrent waarskynlik verreweg die meeste onseker is, ek inkluis   -   is bepalend waarvóór Christene vir Mandela moet bid. In dié opsig sien ek graag dat kerkleiers hulself betyds vergewis van Mandela se geantisipeerde sterwe as 'n sterwe-in-Christus, al dan nie. Durf enige kerk, ook die NG Kerk (weinig bekeringspreke, wel baie van naasteliefde), sy plig in dié verband versuim?

As Christengelowige transendeer ek beriggewing oor Mandela se gesondheidstoestand, en wonder ek oor waar hy hom   -   soos ekself iewers in die toekoms   -   nadoods sal bevind. Mandela se toestand help ons juis om wéér te besin oor die nadoodse. Vir my sal dit die mees tragiese en finaal onomkeerbare van die hele Mandela-sage wees indien hy sónder Christus sou sterf. Geskiedskrywers getuig van skrikwekkende sterfbedervarings van historiese figure soos Voltaire en Stalin, iets allerverskrikliks wat ek géén mens toewens nie; ook nie vir Mandela nie.                  (ngn)






Friday 5 July 2013

Is geweld deel van Mandela-nalatenskap?

Vanweë oorvloedige bewyse daartoe sal weinig Suid-Afrikaners waarskynlik ontken dat S.A. 'n deur geweld gekenmerkte land is, geweld wat 'n verskeidenheid van vorme aanneem in haas elke domein van ons nasionale lewe. Selfs in die buiteland is ons beeld een van gewelddadigheid soos onlangs bevestig deur die werping van ontlasting in die Kaapstadse lughawegebou; selfs ook hier op Uitenhage in die omgewing van die munisipale kantore tydens die ontwrigtende staking van munisipale werkers.

Kan hierdie algemene geweldsverskynsel heeltemal losgemaak word van die persoon van die tans kritiek-sieke Mandela? Ek lees dat Mandela reeds tydens wyle P.W.Botha se termyn vrygelaat kon word mits hy geweld en gewelddadigheid sou afsweer, maar hy wou nie. Geweld en doodslag is sinoniem aan sosialisme-kommunisme. Selfs toe hy in F.W.de Klerk se termyn vrygelaat is, was dit sonder die afswering van geweld.

'n Charismatiese leier, soos Mandela, het 'n geweldige groot invloed op volgelinge. Toe keiser Konstantyn die Grote hom tot die Christendom bekeer en dié kerk tot staatskerk gemaak het, is sy voorbeeld deur duisende heidene as pseudo-bekeerdes gevolg tot nadeel van die volgehoue suiwerheid van dié kerk en sy leer. Op soortgelyke wyse is die Mandela-era, al het hy nie amptelik geweld afgesweer nie, gekenmerk deur die pseudo-verwagting van 'n vreedsame en geweldlose toekoms. Na sy vertrek van die polities-staatkundige toneel het geweld egter ontploffend geëskaleer terwyl Mandela self daaroor geswyg het. Watter verskil sou dit nie kon maak aan alle landsburgers se lewenskwaliteit indien Mandela vanaf die begin 'n sterk anti-geweld standpunt ingeneem en konsekwent daarby gebly het nie.

Sal die geskiedenis geweld uitwys as deel van die Mandela-nalatenskap? Ons is geregtig om dié vraag te vra.








Saturday 29 June 2013

Deel teoloog in Mandela-beeldbouprojek?

Ek kan nié prof. Kobus Kok, UP-teoloog, se Godsbeskouing van Jesus Christus   -   soos verwoord in "Aspekte van Mandela 'herinner aan Jesus' " (DB,27.06)   -   onderskryf nie. Alhoewel hy te kenne gee dat hy nié Jesus en Mandela gelyk stel nie, tref hy tog, vir homself, vergelykbare ooreenkomste tussen hulle waarvolgens, na my mening, Christus se Godsbeeld in gedrang kom.

Kok beweer dat beide Jesus en Mandela "die diepgaande vermoë gehad (het) om diegene te vergewe wat teenoor hulle oortree het." Dit is 'n opportunisties oppervlakkige uitspraak. Kan die aard en omvang van Mandela se vergewing hoegenaamd vergelyk word met die aard en omvang van Jesus se vergewe? Beslis nie!

Kok sê verder: "Jesus was ook volledig mens." Dit is waar, maar maak dit Christus en Mandela hoegenaamd vergelykbaar met mekaar? Ongetwyfeld nie! Jesus was die sondelose mens; Mandela, soos ook ek, nié.

Impliseer Kok dat Jesus slegs maar 'n profeet was tussen ander voorafgaande profete wanneer hy sê: "Sy opstanding uit die dood onderskei Hom van ander profete"? Kok noem "leiers soos Moses, Jesus, Gandhi, Martin Luther King en Mandela..." in dieselfde asem, en wys op "die lyding wat ander mense hulle aandoen." Kan enige sterfling, soos Mandela, se lyding vergelyk word met dié van Jesus? Beslis nie!

Ek dink dat enige poging tot 'n vergelyking   -   van watter aard ook al   -   tussen 'n sterflike mens met sy sondige natuur, soos Mandela, en 'n onsterflike en heilige Goddelike Wese, soos Jesus, nie toelaatbaar behoort te wees binne enige Christelik teologiese denkraamwerk nie. God sê dan self: "Met wie kan jy My vergelyk...wie kan 'n vergelyking met My deurstaan?" (Jesaja 46:5). Jesus is óók God!

Hoewel verskillende menings oor Kok se siening van Jesus en Mandela bestaansreg het, is een daarvan dat Kok waarskynlik graag deelneem aan van die laaste Mandela-beeldbouprojekte.