Saturday 28 March 2009

Nóg 'n dodelike vigs-epidemie

Die Unisa emeritus-professor, J.J.Pienaar, vroeër van die UPE, vestig die aandag op nóg 'n heersende dodelike vigs-epidemie wat hy die Vernietigende Integriteits Gebrek Sindroom noem.

Pienaar sê : "Waar vigs 'n fisiese aanslag op menselewens het, rig hierdie verskynsel hom teen die sosiale, maatskaplike en geestelike welsyn en...kan dit selfs 'n beskawing ten gronde rig...(en) die gesin, die skool, die staat, die maatskappy en selfs die kerk (kan nie) daaraan ontkom nie."

Integriteit kom van "integer" wat beteken : opreg, onbesproke, onkreukbaar, onomkoopbaar, onskendbaar, onaantasbaar en regskape. Iemand wat oor integriteit beskik, is daarom eerlik, betroubaar, onomkoopbaar en wyk nie af van die waarheid nie. Ons samelewing word gekenmerk deur 'n tragiese, grootskaalse gebrek aan integriteit; afwesig juis by hulle in gesagsposisies   -   soos in regeringsposte   -   wat as integriteitsmodelle moet dien.

Pienaar sê 'n gebrek aan integriteit lei tot omkoopbaarheid, werkskuheid, leuenagtigheid en korrupsie. Hy beweer : "Hierdie siek, integriteitslose bestel gee aanleiding tot die veelsbesproke krisisbestaan waaraan ons almal uitgelewer is," soos die elektrisiteits- en energiekrisis, misdaad-, onderwys-, gesondheids-, grond-, voedsel-, water-, sedelikheids- en geloofskrisis.

Pienaar skryf hierdie krisistoestand toe aan die verdringing van die Christelike geloof deur die liberale humanisme van die nuwe bestel. Hy sê dat Goddelike gesag in die samelewing, staat, skool en, "in sommige opsigte selfs die kerk", prysgegee is.

Hierdeur is integriteit onberekenbaar geskaad. Die oplossing vir dié dodelike vigs-epidemie lê in die terugkeer na die onvervalste Skrifwaarhede; nie in getalle-meerderhede nie, "want die waarheid plus een is 'n meederheid", sê Pienaar.

Thursday 26 March 2009

Onderwysowerheid skep krisispotensiaal

Prof. Jonathan Jansen se artikel, "So kan onderwyskrisis in SA nóú getakel word" (DB,24.03.2009), plaas die huidige onvergenoeglike onderwyskrisis opnuut in fokus vanuit die invalshoek van 'n onderwyserstekort.

Dié krisis is baie meer kompleks as net 'n onderwyserstekort. Jansen beweer egter geensins dat die onderwyskrisis simplisties is nie.

Vir geruime tyd reeds ervaar ons 'n ernstige krisis in die onderwys wat 'n geweldig nadelige uitwerking op alle samelewingsfere het. Daar is egter meerdere invalshoeke van waaruit die geheel van onderwyskrisisse beskou kan word.

Een so 'n krisis-invalshoek is dié van die invoering van die evolusieleer op skool, tans in sy embrionale stadium, met uiteindelik potensieel vernietigende gevolge vir ons samelewing. Ek motiveer dié stelling.

In 1957 lanseer Rusland die eerste mensgemaakte satelliet, "Sputnik". In die ruimtewedloop het dit die VSA met paniek vervul. Die verklaring hiervoor was dat Russiese skoolkinders in die evolusieleer onderrig is; vandaar dat hulle die ruimtewedloop kon wen.

In 1959 vind die honderdjarige herdenking van die verskyning van Darwin se "The Origin of Species" plaas. In 1959 bewillig die Amerikaanse kongres een biljoen dollar op versoek van president Eisenhower vir die "promotion and publication of the new science of Evolution".

In die vyftigerjare van die vorige eeu bevat Amerikaanse skoolhandboeke tussen 2000 en 3000 woorde oor die evolusieleer; in 1961 bevat dit 26 819 woorde en in 1963 bevat dit 33 089 woorde daaroor.

In 1963 word gebed in Amerikaanse skole verbied; voorhuwelikse seks onder die jeug neem geweldig toe; seksueel-oordraagbare siektes neem met 385% toe; buite-egtelike geboortes styg met 100%; swangerskappe groei met 553% en aborsies neem toe met 453%.

Sedert 1963 neem voorhuwelikse saamwoon met 725% toe; die egskeidingsyfer styg aansienlik; geweldsmisdaad styg met 995%; skolastiese prestasies daal dramaties, terwyl selfmoord onder die jeug toeneem.

Die vraag is: Waarom skep ons eie onderwysowerheid, met evolusie-onderrig op skool, potensieel nuwe samelewingskrisisse?                (ngn)

Wednesday 25 March 2009

Wag daar ook op Zuma 'n Gilboa?

Die Burger se voorbladopskrif van 19 Maart 2009, "God staan by ANC", verwys.

In dié berig word Zuma aangehaal as sou hy gesê het : "Wie op dees aarde kan teen ons wees as God aan ons kant is?"

Ek verneem graag van Zuma waarop hy dié sekerheid vestig dat die God van die Bybel wel aan die ANC   -   met sy skrikwekkend-korrupte rekord   -   se kant is. As die ANC-rekord tot dusver, sy struggle-fase daarby inbegrepe, aan Bybelnorme gemeet sou word, hoe sal dit lyk?

En hóé lyk die geselskap van kerkleiers wat hulle in Mafikeng om Zuma geskaar het : Is húl geloof in die God van die Bybel bo enige verdenking?

"Kerkleiers het...beloof om die ANC se boodskap met dieselfde ywer te versprei as waarmee hulle God se Woord verkondig."

Sulke uitsprake dui daarop dat alle grense uitgewis word tussen ANC-politiek en dié kerkleiers se Woordverkondiging. Is dit nie skokkend en arrogant nie   -  beslis on-Bybels?

Ware volgelinge van die God van die Bybel sing nie opruiende liedjies waarin gevra word "Bring my masjiengeweer" nie, maar wend hulle tot God se wapenrusting (Efesiërs 6). Hulle gee ook nie kenne dat hulle in eie krag sal bly regeer tot met Christus se wederkoms nie.

By geleentheid is gevra : "Is Saul ook onder die profete?" En Zuma? Dis mos duidelik dat   -   omgekeerd   -   die kerkleiers (profete) onder die invloed van ANC-politiek (Zuma) is. Saul het, on-Bybels, die heks van Endor geraadpleeg en uiteindelik op Gilboa gesterf deur in sy eie swaard te val.

Sal die Here diegene wat Sy Naam ydellik en bespottend gebruik, ongestraf laat bly? Wag daar ook vir Zuma 'n "Gilboa" ná sy misbruikmaking van God se Naam, kerk en kerkleiers?

Monday 23 March 2009

Kan Christene dan twee Here dien?

Ek lees met teleurstelling Realistiese Christen se brief, "Die kerk en die evolusieleer" (DB,18.03.09).

Dit is 'n goeie voorbeeld van hoe misleiding Christene se oordeel kan vertroebel en verstand kan verduister ten einde hulle verlore te laat gaan.

Die briefskrywer se stellings is voorbeelde van die tipe luciferiese denke waarmee kerklidmate gebombardeer word, want, soos in die paradys, saai Satan steeds twyfel oor God se Woord.

Realistiese Christen sê : "...evolusie maak meer sin as die skeppingsverhaal in Genesis...(wat) tog maar die een of ander tyd deur die mens 'versin' (is)" ; "As 'n mens die 'storie (van Adam en Eva) letterlik moet aanvaar, kan jy maar aan Vader Krismis ook glo."

"Job en Jona...is...bloot verhale" ; "Evolusie...is nie 'n ateïstiese teorie nie..." en "Waarom maak die kerk nie vrede daarmee nie?"

As Christengelowige distansieer ek myself volkome van dié aangehaalde stellings, en sidder ek dat daar dalk geestelike leiers op ons kansels mag wees wat in Realistiese Christen se oortuigings mag deel. Op grond waarvan sê die briefskrywer "evolusie is nie 'n ateïstiese teorie nie" ? Hoeveel Christene moet nóg slagoffers van die evolusie-leuen word?

Satan haat God met 'n passie soos min; daarom haat hy ons   -   na God se beeld en as Sy verteenwoordigers geskape   -   óók met 'n intense haat, en val hy ons aan met sy misleidende leuens.

Hitler het gesê dat as jy 'n leuen lank genoeg en dikwels genoeg vertel, sal mense jou later begin glo.

Wil Realistiese Christen nie sê of hy/sy na kosmiese, chemiese, planetêre, organiese, makro- of mikro-evolusie verwys nie, en sê of Christene twee H(h)ere gelyktydig mag dien?

Wednesday 18 March 2009

Afguns lei tot kritiek op Buchan

Onder die titel van "Our times and their lessons", in die boek The Bible Under Attack, sê Iain Murray dat elke kerkhistoriese tydperk deur opvallende eienskappe gekenmerk word, 'n verskynsel wat elke Christengelowige derhalwe oproep om na die eietydse geloofskwessies te vra.

Een sodanige eietydse geloofskwessie sentreer rondom Angus Buchan, 'n "eenvoudige boer" wat daaraan herinner dat Jesus Sy volgelinge juis uit "ongeleerdes", soos vissermanne, en nié Skrifgeleerdes nie, gekies het.

Die jongste aanslag van verdagmaking teen die geestelik-geïnspireerde Buchan-boodskappe kom van dr. Sarojini Nadar wat beweer dat "...Angus Buchan se boodskap 'kan lei tot geweld deur mans teen vroue'"  (DB,10.03).

"Geleerde" geesgenootlikes van Nadar, soos proff. Christina Landman en Amanda Gouws, het ook al gal gebraak teen Buchan. Het ons nie hier te make met 'n "geleerd-geestelike beterweterigheid", én afguns jeens 'n eenvoudige, ongeleerde boer wat derduisende Christene biddend rondom die Woord byeenbring nie?

Murray beweer dis gevaarlik om nié kwessies soos bogenoemde te beoordeel nie, maar te verkies om "saam te dryf" met die stroom sonder om te besef waarheen.

Murray wys daarop dat die aanwesigheid, en rampspoedige gevolge, van die Liberalisme in Protestantse kerke vir geruime tyd geen geheim meer is nie. Dit het ons kerkdenke binnegesypel, veral deur die "verintellektualisering" van die teologiese denke, waardeur die "nie-intellektueel" bedoelde evangeliewoord baie Christengelowiges aantrek na Buchan se opreg-eenvoudige boodskappe.

Die Liberalisme het 'n radikaal-anderse Bybel- en Godsbeskouing. Dus moet die Bybel aangepas word by die moderne mens en samelewing, in plaas van andersom. Sodoende word veral nie-Christene gepaai en word wêreldinvloed moontlik vir die liberale kerk.

Murray noem bogemelde "vermomde ongeloof" wat tot 'n geestelike katastrofe lei indien besef word hoeveel leë kerkgeboue in Europa vandag vir ander doeleindes gebruik word.

By ons gebeur dieselfde; daarom vind ons eie "geleerde geestelikes" 'n sondebok in Buchan.

Monday 2 March 2009

Taaldifferensiasie erken wese van mens

Dawie se artikel, "US se taalbesluit bring dié uitdagings" (DB,28.02.2009), verwys.

Sy volgende opmerkings dien as vertrekpunt: "PMO (parallelmedium-onderrig) behels...afsonderlike onderrig in Afrikaans en Engels...(en) Doeltreffende kennisoordrag is tog die eerste vereiste vir akademiese uitmuntendheid."

Indien ons almal sou saamstem dat "akademiese uitmuntendheid" resulteer as gevolg van "doeltreffende kennisoordrag", dan plaas dit die kwessie van "afsonderlike onderrig in Afrikaans en Engels", buite die bereik van ideologiese taalaggressie.

Die opvoedkundig-onderwyskundige verantwoordbaarheid van "afsonderlike onderrig in Afrikaans en Engels"   -   indien ons daaronder "moedertaalonderrig" verstaan, en soos ook wêreldwyd deur UNESCO gepropageer   -   moet net nie deur verpolitisering en/of akademiese laksheid gekelder word nie.

Volgens Dawie moet die US (Universiteit van Stellenbosch) besin oor "die koste van PMO", want "tweetaligheid is duur", en PMO mag nié navorsing   -   waardeur uitmuntendheid bevorder word   -   teenwerk nie. Hy sien ook swarigheid dat "kulturele kruisbestuiwing...in die slag sal bly".

Maksimale potensiaalontwikkeling, deur middel van taalgedifferensieerde (lees:moedertaal) onderrig, en navorsing behoort mekaar beslis nié teen te werk nie, maar eerder aanvullend en ondersteunend tot mekaar te staan.

Kruisgesubsidieerde navorsingsgegenereerde fondse behoort gedeeltelik teruggeploeg te word in taalgedifferensieerde onderrig as die "gans wat die goue eier lê" waarby navorsing ongetwyfeld baat. Langs dié weg ontstaan 'n interafhanklike wisselwerking tussen belegging in taalgedifferensieerde onderrig en fondsgenererende navorsingsuitsette.

In ons ANC-geteisterde, taalimperialistiese samelewing is taaldifferensiasie, binne tersiêre konteks, wenslik én haalbaar. Taaldifferensiasie erken én respekteer die wese van die student as méns, dít waarop elkeen regmatiglik aanspraak kán maak volgens sy/haar grondwetlike regte.

Of  "kulturele kruisbestuiwing" wel 'n eerste-orde uitset van 'n demokratiese en intellektueel-gedrewe tersiêre instelling behoort te wees, is debatteerbaar. Die vraag is of dit nie eerder 'n natuurlike "newe-produk" behoort te wees   -   soos buite-voorlesinglokaalse informele vergestalting in ongedwonge, spontaan-vrywillige menseverhoudings   -   binne 'n stabiele kampusomgewing nie.                           (ngn)