Monday 26 August 2013

Stakerseise plunder ekonomiese sektore

Die jaarlikse stakingseisoen het begin. Hoewel die oorsake kompleks is, is ANC-sosialistiese parasitering op die SA ekonomie, volgens my lekemening, 'n belangrike rede daarvoor. Vanweë ANC-onvermoë om sy verkiesingsbelofte van   " 'n beter lewe vir almal" (lees: swartes) te realiseer, stel hy die SA ekonomie bloot aan plundering deur die werkersgemeenskap om sodoende hul voortgesette steun te behou.

Die ANC-leierskap stel self die voorbeeld vir plundering; waarom dan nie ook die volgelinge nie? Met die uitdeel van eenmalige kospakkies word die stemme   -   met 'n leeftydsduur van tot vyf jaar   -   van hul ondersteuners geplunder, dikwels vir persoonlike gewin soos die ontmaskerde geval van Dina Pule en haar simpatiseerders duidelik uitwys. Diegene wat reeds "goue handdrukke" ontvang het, is verdere voorbeelde van plunderaars.

Met 'n ANC-geskepte "beter lewe vir almal"-omgewing, gaan die massas skuld aan op ongekende wyse, want só word dié verkiesingsbelofte mos vervul. Met onvereffenbaar geakkumuleerde skuld, én 'n onversadigbare drang na nog méér, móét geld iewers gevind word. 

Geskooldheid, kwalifikasies en produktiwiteit is lank nié meer maatstawwe vir vergoeding nie. Soos vele ander ANC-kaders, het veral Julius Malema die onnodigheid van dié kriteria vir rykword "bewys". Die ANC-gesanksioneerde geldbron wat getap moet word, is sektore van die SA ekonomie soos die mynbou-, vervaardigings- en landbousektore deur absurde bo-inflasiesyfers looneise daaraan te stel.

Hoe lank nóg kan die SA ekonomie, wat ook die onbeheerde bevolkingsaanwas en toestroming van buitelanders moet dra, die onrealistiese looneise van tot 60%   -   waar slegs 6% realisties moontlik is   -   verduur voordat dit, saam met die voosbelaste verbruikers na wie loonverhogings uiteindelik deurwerk en inflasionêr benadeel word, in duie stort? Stakings skaad ons beeld as stabiele beleggingsomgewing en voer ons verder na die armoedeafgrond, dog vir die ANC blyk die ekonomiese gans net nooit op te hou met goue eiers lê nie.         (ngn)






Thursday 22 August 2013

Verkiesings niks anders as rassesensusse

Volgens die berig, "Onderwys: SA steek sleg af" (DB,21.08), het Collins Chabane   -   minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en  -evaluering   -   die ANC-regering se ontwikkelingsaanwysers vir 2012 in die parlement bekend gestel. Daarvolgens vaar SA pateties in vergelyking met ander Afrikalande wat selfs nog minder aan onderwys bestee. Die uitwerking daarvan in die vorm van verval en agteruitgang van ons breë samelewing word, onder meer, weerspieël in prof. Nico Koopman se Godsdiens Aktueel-artikel, "Skole van hel sê iets van ons gemeenskap" (DB,21.08).

Chabane se verslag het egter ook die terreine van dienslewering, gesondheidsorg, korrupsie en werkloosheid ingesluit. In sy, "Nuuskommentaar: Gaan Suid-Afrika vooruit of die kreeftegang?" (Maroela Media, 21.08), sê Phillip Bruwer: "Die minister het, verstaanbaar, in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing hard probeer om 'n algemene prentjie van vooruitgang...aan te bied."

Volgens die DA moet gelet word op wat gebeur het sedert pres. Zuma aan bewind is. Wat die internasionale korrupsie-persepsieïndeks betref, het SA die afgelope twee jaar veertien plekke teruggesak. Ook op die internasionale persvryheidsindeks het SA teruggesak. Verdere indekse waarop SA terugsak, is die geweldsindeks, die indeks vir mislukte state, asook die innovasie-indeks.

Met Zuma se bewindsoorname in 2008 het die regstreekse investering in SA R100 291 miljard beloop. In 2012 het dit afgeneem tot R1 673 miljard. In dieselfde tydperk het tou-opgooiende werksoekers met meer as 'n miljoen toegeneem. Chabane erken daarom "dat die armoedevlak in die land...tot 52% van die land se bevolking toegeneem het."

Selfs met hierdie sleutelgat-scenario van Zuma is die boodskap duidelik: sy tyd, én dié van sy "Bring my masjiengeweer"-liedjie, is verby, dog swart kiesers stel hul vertroue in die ANC bó enige ander party. Bruwer beweer dit is duidelik dat daar twee teenoorstaande persepsies van waarheid in SA bestaan as gevolg waarvan verkiesings eintlik niks anders as rassesensusse word nie.




Monday 19 August 2013

Botman se beginpunt vir 'n SA-identiteit

In sy "Ons is allereers tog Afrikane" (DB,19.08), besin prof. Russel Botman oor ons nasionale identiteit, 'n begrip wat hy erken "veelkantig, kompleks en omstrede (is)...(en) 'n persoonlike én 'n groepsdimensie (het)." Hy beskou die Grondwet as "welmenend" in dié verband, omdat dit die "ongeregtighede van ons verlede" sowel as "ons diversiteit" erken. Botman beskou die "bestanddeel (van) inklusiwiteit" as baie belangrik, en haal die Nasionale Ontwikkelingsplan aan wat sê: "Ons self het die reëls gemaak waarvolgens ons wil hê ons moet leef."

Omdat Botman 'n geskoolde teoloog is, verwag ek dalk te veel van hom om hom ook as Christengelowige oor die (ideale) SA-identiteit uit te spreek. Hy erken die kompleksiteit, omstredenheid en die persoonlike en groepsdimensies van ons SA-identiteit, dog ek sou graag wou sien dat hy ook vanuit 'n Bybelsfundeerd Christelike perspektief dieper daarin delf.

Ek self kan nie my ware identiteit vind elders as binne die kern van my wese as mens nie, en vir my is Christus daardie kern (persoonlike dimensie van identiteit). Maar nou is almal nie Christene nie, dog ons is almal mense. So, wat is 'n mens dan? Iemand het gesê: 'n mens is 'n kenbare dog misterievolle wese wat dinge kan transendeer, dit wil sê bokant die sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge kan uitstyg. Dit is juis hierdie transendentale dimensie van ons menswees wat ek graag sien Botman (as teoloog) deel van sy "inklusiwiteitsbestanddeel" sal maak, dog om begrypbare redes dit baie moeilik sal vind. Nietemin bly dit 'n uitdaging.

Hoewel ek myself nie as 'n "Afrikaan" beskou nie, maar wel as 'n Christen-Afrikaner (die persoonlike én groepsdimensie), neem ek wel deeglik kennis wanneer Botman sy siening aanbied as " 'n nuttige beginpunt vir ons SA identiteit", met die hoop dat dié identiteit mettertyd ook die transendentale dimensie daarvan sal erken en verreken.




Wednesday 14 August 2013

Die stand van waarheid in SA wek kommer

Toe Buddy Holly op 3 Februarie 1959 in 'n vliegongeluk sterf, sou dit Don McLean tot sy "American Pie"-liedjie inspireer waarin die bekende gedeelte, "The day the music died", voorkom. Dié liedjie dien tegelyk as metafoor vir die einde van 'n musiekera, en as allegorie vir 'n nuwe hoofstuk in die Amerikaanse volksgeskiedenis. 'n Tydperk van onskuld eindig; 'n periode van groot onsekerheid breek aan.

Ek vind hierin 'n treffende ooreenkoms met ons eie SA-situasie sedert 1994  -   'n era is beëindig; 'n nuwe breek aan. Elkeen is geregtig op 'n mening. So sien ek 'n ooreenkoms tussen "The day the music died" en 'n toenemende waarheidskuheid met die klimaatskepping vir 'n SA-leuenkultuur. My indruk is dat die grense tussen waarheid en leuen toenemend vervaag, en mense vind dit skynbaar aanvaarbaar.

Die "nuwe waarheid" wat skoolkinders moet "ontdek"   -   oor die menslike ontstaan (Bybelbotsend) asook ons SA-geskiedenis   -   kwel blykbaar nie predikante en kerkleiers nie, hulle wat juis hul waarheidstoerusting aan die Bybel ontleen en as wagters op die waarheidsmure waarskuwend moet waak.

Reeds vanaf die sondeval is die leuen in 'n onafgebroke stryd gewikkel met waarheid. Ook SA word gekenmerk deur dié stryd, dog nêrens hoor of lees ek dat leiers, selfs kerkleiers, hul kommer uitspreek oor die heersende aanslag op waarheid en die gesagsondermyning daarvan nie. Die toestand waarin die huidige SA waarheidsbewussyn verkeer, is kommerwekkend.

Die toename in misdaad, korrupsie, verkragting en moord is nié die manifestasies van 'n nasionale waarheidstrewe nie. Die weg na waarheidsoeke word blokkeer deur struikelblokke soos intimidasie, politieke korrektheid, die rassekaart, toesmeerdery, sloerende vertragingstaktiek en doodsdreigemente. Finaal gespeen van die waarheid, sal ons eerlang ons eie "The day truth died in SA" as elegie kan sing.







Monday 5 August 2013

Kerkordelike fluitjie vir Belhar geblaas

In rugby word 'n drie, gedruk vanaf 'n vorentoe aangee, nie toegeken nie. Om so 'n ongeoorloofde drie erken te kry, sou die ondenkbare wysiging van rugbyreëls vereis. Die Belharaangeleentheid is analoog hieraan. Aanvaarding daarvan vereis die wysiging van Artikel 1 van die NGK se Kerkorde.

Dr.Henrietta Klaasing, kenner van die kerklike funksionering, wys daarop dat die Vrystaatse streeksinode onlangs die korrekte kerkordelike weg rakende Belhar aangewys het. Slegs indien Artikel 1 eers gewysig word, kan Belhar deel van die bestaande belydenisskrifte word. Hiervoor word 'n voorgestelde nuut-geformuleerde Artikel 1 benodig.

Sodanige voorgestelde wysiging moet dan deur tweederdes van alle gemeentelike kerkrade, tweederdes van alle streeksinodes, sowel as  deur die algemene sinode (AS) met 'n tweederde meerderheid goedgekeur word. Dán eers word die legitieme aanvaarding van Belhar 'n moontlikheid; nié voor die tyd nie.

Dr.Klaasing se verduideliking strook met die inhoud van 'n skrywe   -   gedateer 29 April 2013   -   van dr. Johann Ernst, Aktuarius:Algemene Sinode en van die Algemene Taakspan Regte (ATR), aan dr.Kobus Gerber, algemene sekretaris van die AS, dat laasgenoemde sinode se 2011-besluit oor Belhar "nie anders vertolk (kan) word as 'n voorneme om die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag te maak nie."

Waarom, dan, het vroeëre streeksinodes   -   Wes- en Suid-Kaapse én Oos-Kaapse   -   nie ook, onderskeidelik, die korrekte kerkordelike weg vir Belhar aangewys nie? Soos die Vrystaat, ken hulle tog seker ook dié kerkordelike vereiste? Vir diegene wat so spoedeisend met die "Belharbal" onder die kerklike arm na die belydenisse-doelgebied hardloop, sê die ATR van die AS: Kom terug! Die kerkordelike fluitjie het vir Belhar geblaas! Waarom blaas dié fluitjie nou eers, agtien maande ná die 2011-sinodesitting?      (ngn)






Thursday 1 August 2013

En as kaartehuis ineenstort, wat dan?

Dit kom voor of Pansegrouw (VB,01/08/2013; VB,24/07/2013) sarkasme tot debatstyl gemaak het oor 'n aangeleentheid van 'n veels té ernstige aard om ligsinnige sarkasme as bondgenoot daarby te betrek. Dit is jammer.

Nie Pansegrouw óf ek kan met sekerheid sê wat die toekoms oor die "lang messe-bloedbad" inhou nie; onsekerheid wat ons tot beskeidenheid behoort te stem. Myns insiens lê ons verskil in die potensiële moontlikheid (ek) óf dan die nié-moontlikheid (Pansegrouw) daarvan opgesluit.

Pansegrouw meen: "verweer teen 'n bloedige rewolusie is genoeg mense wat ietwat en meer sal verloor in so 'n situasie". Hieruit blyk dat hy sy gerusstellende toevlug in geakkumuleerde materiële besittings (waardes) vind. Hy vind verdere geborgenheid in " 'n maatskaplik-ekonomiese middelklas" waarvan die groei " inderdaad (fluks) is en die wittes in getalle en koopvermoë verby (steek)."

Die aanname waarop Pansegrouw se materiële toevlugsoord berus, is van kapitalistiese aard. Kan hy vir ons sê of mense, wat oor vele geslagte heen aan 'n sosialistiese groeps-  en kommunale bestaan blootgestel was en deel van hul "vesel" geword het, oornag in 'n enkele geslag tot privaatbesit en kapitalisme "bekeer" kan word waardeur alle spore van sosialisme uitgewis is?

Dan, as 'n blyk van getemperde bravade, sê Pansegrouw: "Die gevaar van 'n bloedige rewolusie bestaan. Dit broei moontlik in die onderklas van werklose, brandarm jong mense sonder kwalifikasies en hoop"   -   'n verrassende erkentenis en ommekeer.

Met hierdie terugkrabbelende erkenning as agterdeur, sê Pansegrouw; " 'n Mens kan net duim vashou die nuwe middelklasse besef dit..." En indien hulle dit nié besef nie, Pansegrouw, en nié op kapitalisme "ingekoop" het nie en jou kaartehuis ineenstort, hoe dan gemaak?