Tuesday 28 June 2011

ANC kan uit Britse voorbeeld leer

'n Ekonomiese beraad, gereël deur "The Times" vir 20-21 Junie en bygewoon deur meer as 'n honderd vooraanstaande sakeleiers en politici   -   waaronder die premier, David Cameron, èn opposisieleier, Ed Miliband   -   het verlede week groot prominensie in die plaaslike pers geniet. Die doel daarvan was dat sakeleiers en politici gesamentlik nuwe idees vir ekonomiese groei kon genereer, terwyl die tema daarvan was om die "Groot" weer in "Groot Brittanje" terug te plaas.

'n Kort memorandum is na afloop van die beraad geformuleer waarin die volgende vyf prioriteitsvereistes vir Britse ekonomiese groei uitgestippel en aan die regering gestuur is: investering in wetenskap, wiskunde, ingenieurswese en tegnologie deur verbetering van die onderwysstelsel; wysigings aan die belastingstelsel; beter beplanning van die nasionale infrastruktuur; groter beleggings in kleiner en middelslag sakeondernemings, en beter beplanning en regulering van die plaaslike regeringstelsel.

Die Britse demokrasie het ook plek vir kritiek. So verwys Andrew Lloyd Webber in 'n brief na "rubbish services in everything from health to education", en "a Third World Heathrow airport" met sy 1231 vlugte per dag met meer as 76 000  werknemers wat jaarliks 65 miljoen passasiers hanteer.

Stel jou voor dat die media in S.A., wat met soveel vyandige agterdog deur die ANC bejeën word, 'n soortgelyke beraad tussen regerings-, opposisie- en sakeleiers sou reël; dat kritiek erkenning sal geniet; dat die doel is om almal in S.A. se belange te dien en nie net die van die ANC nie; dat die beginsel van 'n interafhanklike en samewerkende vennootskap tussen die openbare en private sektore erken en toegepas word.

'n Mens wonder of ANC-leiers en -amptenare wat die buiteland besoek, hoegenaamd daarop ingestel is om enigiets tydens hul reise te leer tot die voordeel van S.A., en of hulle dit slegs as "'n lekker tyd" geniet op belastingbetalerskoste. Die ANC kan uit die Britse voorbeeld leer.

Tuesday 21 June 2011

Belydenis neem nie bekentenisse in ag

Wyle prof. Willie Jonker, voormalige teoloog, word onthou vir sy belydenis   -   tydens die 1990-Rustenburgse kerkeberaad   -   dat apartheid sonde is. Met hierdie belydenis het Jonker, sonder opdrag van die kerk, die verbrokkeling van gevestigde sekerhede binne die Afrikanergemeenskap en sy kerk van stapel gestuur. Met die oog op die uiteindelike vernietiging van die Afrikanervolk, is dit juis die taal wat sy vyand wou hoor.

Ferdie Mulder, vroeër deur die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria sowel as deur die NG Kerk geskors en nou 'n doktorale student aan die Universiteit van Radboud te Nijmegen in Nederland, vertel soos volg van sy gesprek op 15.06.11 met prof. Tom Wright, teoloog verbonde aan die Universiteit van St Andrews hier in Engeland: "Professor Wright told me that his grandfather was a lieutenant in the Boer War and wrote several letters in his time there to his father. What struck him was the English's deep rooted racism against the Afrikaners at the end of the 19th and beginning of the 20th century. Significantly, (and to my surprise) he added that the British helped the process of apartheid  because of what happened during the Boer War."

Kan die legitimiteit van die Jonkerbelydenis daarom werklik volledig erken en onvoorwaardelik aanvaar word sonder om ook 'n bekentenis soos dié van prof. Wright, en dergelike bekentenisse, in aanmerking te neem? Waarom moet ook sy eie kerk die Afrikaner alleen in die apartheids-beskuldigdebank plaas? Hoe ironies daarom die verskil in gesindheid teenoor die Afrikanervolk tussen Wright, 'n Engelsman, se volkserkennende bekentenis teenoor Jonker, 'n Afrikaner, se volksmiskennende belydenis. Die toekoms sal wel beslis oor die uitsprake van Jonker en Wright.







Thursday 9 June 2011

Maak gerus jou eie afleiding hieruit

Stoffel J., op presies watter gesagsgronde moet ek my aan jou arrogante eis: "T.C.Breitenbach, beantwoord eenvoudig De Lange (DB,27.05) se vraag:Belhar (en ander lense!) ter syde, is jy ten gunste van die hereniging van die NGK en die VGK? Ja of Nee?" (DB,04.06). Wat 'n kru, pistool-teen-die-kop ultimatum! Dit noem ek verwaand.

Soos De Lange, soek ook jy jou antwoord op die verkeerde plek   -   by mense, en nié in die Bybel self nie. Jeremia (17:5) waarsku ons só: "Daar rus 'n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel..."

Ek verskaf die titels van sommige van my skrywes sedert 2005 oor dié aangeleentheid soos deur Brieweblad geplaas. Vind dan self jou antwoord daarin.

Wêreldse kragte ondermyn kerk (01.09.05); Is kerkdenke nog Skrifdenke? (26.10.06); Boesak paar geloof, ideologie (06.09.07); NG Kerk volg politieke model (15.09.07); 'n Geestelike eenheid (12.10.07); 'n Teologiese revolusie (18.10.07); Eenheid nie sonder risiko (13.11.07); Verdeeldheid knou kerk (31.01.08); Filosofie en die kerkeenheidsdebat (11.10.08); Babelse verwarring oor Skrifbeskouing (18.10.08); Doen wat God voorskryf (22.10.08); Belhar-man en/of Godsman? (29.10.08); Suiwerheid van teologie is op spel (03.12.08); Boesak span sy seile na die wind (23.12.08); Wêreldkerk, of gekerstend? (11.02.09); NG Kerk moet die politiek laat staan (01.04.09); Kerkfoefie rondom belydenisskrifte (08.04.09); Vertolk gebeure vanuit die Skrif (06.01.10); Antichris kom eintlik uit die kerk (19.02.10); Kerkleiers, teoloë se optrede vreemd (24.02.10); Vrae oor NG Kerk se dwaalpraktyke (02.03.10); Predikante se opleiding kwel (11.08.10).

Stoffel, waarskynlik beskik jy   -   soos ook sovele ander   -    oor 'n baie eng verwysingsraamwerk betreffende die aangeleentheid van kerkeenheid en -hereniging. Jy ontmasker jouself as sodanig deur jou aandrang om 'n simplistiese ja- of nee-antwoord. Maak daarom ook jou eie simplistiese afleiding uit die voorgemelde brieftitels.                   (ngn)




Monday 6 June 2011

Negatiewe kritiek het ook 'n keerkant

Marianne oordeel dat haar vroeëre kritiek (DB,26.05) teen my skrywes onvoldoende is. Aanvullend daartoe sê sy: "Dis teen jou hoogdrawende taalgebruik wat ek dit het" (DB,02.06). Marianne, ek reageer nie self op jou kritiek nie. Ek laat ander lesers dit doen. Laat my dus toe om, aan die hand van lesersvoorbeelde, ook op keerkantperspektiewe betreffende jou kritiek te wys.

Monica sê: "Hannes Slabbert en T.C.Breitenbach, jul taalgebruik is puik en jul kommentaar kleur die prent nog mooier in" (28.06.08). Jannie du Toit sê: "En is dr.Breitenbach se bydrae 'n bietjie bo jou vuurmaakplek, daarom al die woordeboeke wat jy benodig?" (01.07.08). Genl. Muller sê: "Ek het groot waardering vir dr.T.C.Breitenbach se inhoudvolle briewe" (02.08.08). Moni sê: "Dr. B., dit is wonderlik om Afrikaans te lees wat onverstaanbaar is vir die gewone lesende persoon. Ek is skaam dat ek my taal so verwaarloos het" (24.09.09). Barkhuysen sê: "Goeiemôre aan mnre. Hannes Slabbert, E.C.Botha en T.C.Breitenbach. Julle skryf lekker verstandige briewe" (06.04.10). Karin sê: "...ek bewonder T.C.Breitenbach se moed om te sê wat baie mense wil, maar te bang is" (09.04.10). Wessel sê: "T.C.Breitenbach, jou menings verteenwoordig dié van baie wit Afrikaners. Jy verwoord dit net beter as wat ons kan" (19.04.10). Moni sê: "Breitenbach, jou taalgebruik is puik. Jou skrywes dui op deeglike dink en navorsing. Hou so aan" (03.05.10). Karin sê: "Marianne, los T.C. uit! Ek kyk soggens eerste of hy nie 'n brief in het nie" (04.06.11).

Marianne, hierdie kommentare van lesers stem my tot dankbaarheid én nederigheid, en is bedoel om jou daarop te wys dat jou negatiewe kritiek ook wel 'n positiewe keerkant het. Ek wonder of dieselfde kommentatore gaan saamstem met jou opmerking: "T.C.Breitenbach, jy vlei jouself. Jou storie laat my koud."