Wednesday 31 October 2012

NG Kerk hou lidmate oningelig oor Belhar

Dit is met groot eenstemmigheid dat ek Frans Swanepoel se brief, "Predikante bang om oor Belhar te praat" (DB,31.10), lees, sowel as met waardering teenoor "Die Burger" vir die plasing daarvan. Swanepoel wys op "predikante wat deur die sinodes voorgesê word", dat die NG Kerk reeds duisende lidmate oor Belhar verloor het, en dat predikante lidmate graag oningelig oor Belhar wil hou. Swanepoel is korrek; dit is presies ook my indrukke.

Beide die swart "dogterskerk" (NGKA) én die Indiër-"dogterskerk" (RCA) van die NG Kerk aanvaar nie Belhar nie. Kovilan Moodley van die RCA sê die volgende van Belhar:  Belhar handel oor 'n maatskaplike euwel en ideologie (apartheid) in 'n sosiale en politieke konteks;  Belhar is bloot 'n verklaring en nié 'n belydenisskrif nie;  Belhar kon nie die skeuring tussen die vroeër eengeworde NGKA en die VGKSA voorkom nie;  geskeidenheid kan nie as sonde beoordeel word soos wat Belhar sê nie;  wie is Belhar se arbiter as dit kom by "geregtigheid"?;  Belhar verkondig 'n sosiale evangelie;  dat "God op 'n spesiale manier aan die armes se kant is", het géén Bybelse gronde nie;  Belhar gaan selektief met die Bybel om;  Belhar roep lidmate op om gay-lidmate se regte te verdedig;  die kern van Belhar is "eenheid", nie Jesus Christus nie, en Belhar het die potensiaal (word reeds bewys) om diepe verdeeldheid te veroorsaak.

Moodley se kritiek op Belhar is slegs dié komende vanuit die Indiër-"dogterskerk". Daar is nog 'n veel wyer spektrum van kritiek komende vanaf oud-moderators, teoloë en predikante uit die "moederkerk" self. Swanepoel is reg. Die heersende NG Kerk-strategie is: hou die lidmate oningelig oor Belhar.




Tuesday 23 October 2012

Onderskei tussen intelligensie, wysheid

Manie se reaksie (DB,23.10) op my brief (22.10) verwys. Met sy stelling: "Dit is ook 'n bewese feit dat geleerdheid nie noodwendig van jou 'n intelligente mens maak nie", laat Manie blyk hoe hy die verband tussen geleerdheid en intelligensie sien.
 
Net twee opmerkings daaromtrent. Indien ek Manie se "geleerdheid" mag vertolk as die weerspieëling van die bereiking van 'n bepaalde kennisvlak   -   graad 1 tot 12 op skool, 'n B.A.- of M.Sc.-graad, en 'n doktorale kwalifikasie dui immers telkens op 'n bereikte kennisvlak   -   gee hy by implikasie daarmee te kenne dat die moontlikheid bestaan dat dit tot verhoogde intelligensie mag lei ("nie noodwendig", met ander woorde dit sou ook kon). Ek wil van hom verskil deur te beweer dat dit net mooi andersom die geval is. Intelligensie is 'n voorwaarde vir die vlak van "geleerdheid" wat 'n indiwidu kan bereik, met ander woorde, daar is 'n direkte verband tussen intelligensie en "geleerdheid". Sonder 'n bepaalde minimum hoeveelheid intelligensie is "geleerdheid" nie moontlik nie.
 
'n Tweede opmerking is dat Manie waarskynlik met sy "intelligente mens" 'n "wyse of verstandige mens" bedoel. So, indien hy sou sê dat "geleerdheid nie noodwendig van jou 'n wyse of verstandige mens maak nie", stem ek met hom saam. Intelligensie en wysheid/verstandigheid is nie sinonieme begrippe nie. In die lig hiervan kom Manie se stelling oor geleerdheid en intelligensie verdag voor.
 
Hoofsaak is: Marnewick is reg oor die Boeremaglede se hoë vlakke van intelligensie   -   en verdien daarom nie Manie se kritiek nie   -   dog die wysheid of verstandigheid van hulle optrede kan wel aan kritiek onderwerp word. Manie tref nie dié onderskeid nie.
 

Monday 22 October 2012

Mislei, bedrieg NGK lidmate oor Belhar?

Ek lees in Lukas 11:11-12 : "Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?" Nog nooit; dis ondenkbaar! En tog, die vraag: Is dit nie juis wat in die NG Kerk ten opsigte van die Belharbelydenis (BB) aan't gebeur is nie? O, ja, daar is beslis 'n ooreenkoms.
 
Vanaf die BB se ontstaansmoment word na dié dokument as 'n "belydenis" verwys, aanvanklik deur die NG kerk verwerp, maar in onlangse jare deur die kerkleiding aanvaar, en wat dan ook sterk druk uitoefen op NG-lidmate om dieselfde te doen. Uit deeglike ondersoeking van die BB blyk dit egter onteenseglik dat dit hoegenaamd nié aan enige van die kriteria beantwoord waaraan 'n belydenisskrif moet voldoen nie. Verder is bevind dat dit 'n protesskrif vanuit die vroeë 1980's teen apartheid was en waarvan   -   omdat apartheid lank reeds afgeskaf is   -   sy rakleeftyd reeds verval het. Die hoogste kerklike status wat daaraan toegeken kan word volgens die navorsers, is dié van 'n ekumeniese verklaring, maar beslis nie dié van 'n belydenisskrif nie.
 
Moet lidmate nou glo dat die huidige BB-drywende kerkleiers nie hiervan bewus is nie? En gee hulle nie nou 'n slang en 'n skerpioen wanneer om vis en 'n eier gevra word nie? Is lidmate nie daarom geregverdig om te vra of ons hier met misleiding en bedrog te doen het nie? As ek 'n donkie/muil te koop sou aanbied, maar voorgee dis 'n perd, is ek mos besig met misleiding en bedrog, dan nie? Dit kom dus voor of die NG Kerk presies daarmee besig is ten opsigte van die BB.              (ngn)
 
 
 
 

Friday 19 October 2012

Om dooie perd te skop verg nie heldemoed

C.J.Marnewick (DB,17.10) en Manie (DB,18.10) se skrywes het betrekking. Manie se galbraak teen die Boeremaglede as Afrikaner-volksgenote mis Marnewick se argument totaal en al. Marnewick betoog nie primêr om die kenmerke en kwaliteite van die veroordeelde Boeremaglede soos wat Manie wil impliseer nie. Nee, Manie gaan selektief te werk en maak van Marnewick se brief 'n handige stok om mede-Afrikaners mee te slaan.
 
Marnewick sê tog duidelik dat " 'n Afrikaner in die polisie die vermeende Boeremaglede...moedswillig en kwaadwillig in 'n lokval gelei het" , en dit in 'n doelbewuste verraderlike en kruiperige daad ten einde homself in 'n gunstige lig in die oë van sy ANC-base te stel? Dit is laakbaar en verfoeilik. Dit herinner Marnewick dan ook aan die verraad van sommige Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog teenoor die eie volksgenote. Sommiges is gefussileer daarvoor.
 
Vanweë dié Afrikaner SAPD-lid se bekentenis van sy eie, én die SAPD, se aandeel aan die polisielokval wat hulle vooraf vir die veroordeelde Boeremaglede gestel het, regverdig ongetwyfeld 'n herondersoek van die aanvanklike aanklag en 'n herverhoor in die lig van hierdie bekentenis.
 
Manie, wil jy nie maar jou bril van haastige veroordeling van jou eie mense   -   jy noem jouself mos 'n Afrikaner   -   afhaal en dit verruil vir een met realisme-lense nie? Marnewick wys juis op "Afrikaner-politici wat ... hul eie mense verraai en om die bos gelei het." Wees konsekwent en spreek jou ook daaromtrent uit. Om 'n dooie perd te skop, verg geen heldemoed nie.
 
 
 

Tuesday 16 October 2012

'n Sombere onderwyswerklikheid

In sy voordrag voor die SA Instituut vir Rasseverhoudinge op 27.09.12, kyk prof. Jonathan Jansen na die onderwyskrisis in S.A. en wys op gevaarlike skuiwe wat plaasgevind het binne die nuwe onderwysbedeling en die negatiewe implikasies daarvan vir ons land.
 
In die Noord-Kaap sluit die Olifantshoek-gemeenskap die skole vir meer as drie maande vanweë hul eise om 'n teerpad, en die burgemeester se bedanking. Sodoende word kinders die enigste roete om aan armoede te ontsnap, ontneem. Waarom? Vir dié gemeenskap   -   soos vir vele ander   -   het die onderwys sy waarde heeltemal verloor.
 
Persone soos Malema, asook die eise van stakende mynwerkers   -   en allerlei ander werkers   -   het openbare "bewyse" geword dat materiële welvaart sónder 'n onderwyskwalifikasie moontlik is. Nog 'n skuif is dié van toenemende sentralisering van die onderwysgesag vanaf plaaslike gemeenskappe na die provinsiale en/of nasionale regering met die vergrote moontlikheid van magsmisbruik. Gevolglik het hofsake teen onderwysowerhede noodsaaklik geword.
 
Die Oos-Kaapse onderwyskrisis vroeër vanjaar is 'n bewys dat die ANC-regering sy gesag oor van sy ondersteuners verloor het toe die minister van basiese onderwys, sowel as 'n presidensiële besoek, die kinders nie op skool kon terug kry nie. So verskuif die onderwysgesag van binne na buite die skool.
 
Die ANC se verskoning dat sy goedbedoelde onderwysbeleid slegs implementering kortkom, is volgens Jansen 'n illusie. Die gaping tussen beleid en praktyk is onrealisties. Beleid word getoets aan praktyk. Goeie bedoelinge alleen herstel nie die vertrouensverlies in die onderwys nie.
 
Jansen sê deur die voorbeeld van volwassenes leer kinders om te protesteer deur juis daardie noodsaaklikhede vir onderwys   -   soos boeke, skoolgeboue en biblioteke   -   te vernietig. Voorwaar 'n sombere onderwyswerklikheid.
 
 
 
 
 
 

Thursday 11 October 2012

Mag die waarheid oor Belhar seëvier

Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NG Kerk se "Kerkbode", berig in "Kerkbode Aanlyn" (02.10) oor die pasverskene boek, "Belhar geweeg", soos tydens die Aardklopfees te Potchefstroom bekend gestel. In dié boek sê agtien "gesiene kerkleiers en ander bekendes waarom hulle gekant is teen die Belydenis van Belhar...waarvan daar nie in die media en in populêre gesprekke gehoor word nie." Die openbare debat word tans deur 'n wanbalans gekenmerk waarin die pro-Belhariste die anti-Belhariste met venyn behandel.
 
Twee oud-moderators van die NG Kerk, proff. Piet Strauss en Pieter Potgieter, is mede-skrywers van "Belhar geweeg". Dit blyk dat die huidige NG Kerk-leierskap aanvaarding van die Belharbelydenis spoedeisend najaag, dog in gebreke bly om 'n deurtastende kritiese evaluering daarvan te onderneem en vir die selfstandige oordeel van lidmate beskikbaar te stel.
 
Volgens Oosthuizen verwelkom die huidige moderator, prof. Nelus Niemandt, "die verskyning van die boek as deel van die groter gesprek oor die Belydenis van Belhar...(en) dit is 'n goeie ding as alle kante van die debat helder en duidelik verwoord word."
 
Myns insiens moet "Belhar geweeg" gesien word as 'n gehoorsamende Bybelse opdraguitvoering soos verwoord in "Knoop die stryd aan vir die waarheid" (Psalm 45:5b), terwyl Paulus se vraag aan die Galasiërgemeente, "Het ek (ons) dan nou julle vyand geword deurdat ek (ons) die waarheid aan julle voorhou?" (4:16), tot die pro-Belhariste gerig moet word.
 
'n Belangrike vraag is óf "Belhar geweeg" 'n kentering by die pro-Belhar kerkleiers, predikante en lidmate   -   óf 'n skerper skeidslyn tussen die pro- en anti-Belhargesindes   -   tot gevolg gaan hê. Mag die waarheid oor Belhar seëvier.                   (ngn)
 
 
 
 
 

Monday 8 October 2012

Is alles pluis, of gebeur vreemde dinge?

In "NG Kerk wil dalk nuwe naam hê" (DB,05.10), word berig: "Een nuwe verenigde gereformeerde kerk met 'n nuwe naam word in die vooruitsig gestel in 'n ooreenkoms wat tussen die kerkleiers van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk opgestel is. Die dokument is op die algemene sinode van die VGK bespreek..." In die NGK-verklaring, "Besluite oor kerkhereniging: Algemene Sinode Oktober 2011", lees ek die volgende: "Daar is 'n aantal sake waaroor saam onderhandel moet word as die voorbereidende proses aan die gang kom. Dit sluit in...die naam van die kerk...Ons is bewus daarvan dat (dit) ...baie sensitief en emosioneel van aard is en dat die onderhandelings hieroor met baie wysheid, oorleg en sensitiwiteit hanteer sal moet word."
 
Dit laat NGK-lidmate met vrae soos: Het die NGK-leierskap langs kerklike weg aan lidmate kennis gegee dat die "voorbereidende proses" van "onderhandeling" tussen die NGK en die VGK aan die gang is, en dat voorsien word om 'n "dokument" op te stel tydens die VGK se 2012-sinodesitting en dit daar te "bespreek"? Vreemd? Het die NGK-leierskap 'n tweederde lidmaat-mandaat om nou reeds, uiters voortydig, oor naamsverandering te "onderhandel"? Waarom word die NGKA en die RCA   -   twee belanghebbende partye (beide verwerp die Belharbelydenis!)   -   nie ook vanuit die staanspoor by dié "onderhandelings" betrek nie? Tog vreemd. Praat die NGK-moderator namens die NGK (of homself) wanneer hy sê dat hy "met graagte onder die leierskap van die VGK...(sal) dien" (DB,02.10)? Ook vreemd.
 
Vir lidmate, afhanklik van sekulêre koerantberigte vir inligting oor so 'n krities-belangrike kerkaangeleentheid, klink die kerkleiding se begripsaanwending van wysheid, oorleg, sensitief en emosioneel, baie vreemd. Is alles pluis, of gebeur daar vreemde dinge?
 
 
 
 
 
 

Thursday 4 October 2012

Erken DA wel die Afrikaanssprekende stem?

Ek reageer op P.Mackenzie (DB,04.10) wat beweer: "Dianne Kohler-Barnard kan nie Afrikaans praat nie...en nie omdat sy nie wil nie." Ek verskil van hom. Só eenvoudig is dié taalinsident nie. Hy kritiseer Jaco van Uitenhage (DB,02.10) wat sê: "Ná Dianne Kohler-Barnard se opmerking dat sy nie Afrikaans sal praat nie, kan sy maar my en baie ander se stem vergeet."
 
Mackenzie sê "Dat sulke kleinlikhede 'n besprekingspunt moet word, is belaglik." 'n "Kleinlikheid" vir iemand, soos Jaco en vele ander, vir wie sy/haar taal so belangrik is? Nee, Mackenzie, ek dink jy onderskat mense se taalgevoelens.
 
Beide Jaco en Mackenzie reageer op "Die Burger" (29.09) se beriggewing: " 'Oor my dooie ligaam. Ek praat eerder Spaans.'  Só het Dianne Kohler-Barnard ... in die parlement gereageer op 'n versoek om Afrikaans te praat. Sy is ...gevra om dele van haar toespraak ... in Afrikaans te herhaal. 'Ek praat nie Afrikaans nie, maar is bereid om eerder Spaans te praat.' " Spaans praat in 'n SA-taalkonteks? Maak dit enigsins sin, of spreek dit eerder boekdele van haar gesindheid jeëns Afrikaans?
 
Ek vereenselwig my met Jaco se reaksie sowel as Michelé O'Connor (DB,29.09) se opmerking: " Dalk moet senora Kohler-Barnard net bietjie in die gang af stap en vir die DA-navorsers vra hoeveel Afrikaanssprekendes vir die DA gestem het..."  'n Uitstekende vraag   -   watter persentasie DA-ondersteuners, landswyd, is wél Afrikaanssprekend? Sal die DA steeds die amptelike opposisie wees sónder die erkenning van die Afrikaanssprekende stem?