Monday 14 November 2005

Besnuif die volle stank

AS leek weet ek dat, indien ’n bundel wit lig deur ’n glasprisma beweeg, dit volgens ’n opties-fisiese wet in ’n meerkleurige spektrum van “reënboogkleure” opgebreek word. Hierdie kompleks saamgestelde kleureband vertel my iets van die onontkenbaar tydlose waarheidsamestelling van wit lig.

Die vraag ontstaan of historiese waarheid nie ook op ’n soortgelyke wyse, soos die waarheid­saamgestelde kleureband van wit lig, wetmatig kompleks en geskakeerd aaneengeskakel is tot ’n groter historiese geheel nie. Is dit histories toelaatbaar om slegs één historiese tydsgreep, as geskakeerde onderdeel, uit te lig en “los te dink” van die historiese geheel? Is daar nie oorsaaklike verbande tussen voorafgaande en opeenvolgende tydsgreeplike gebeure in die historiese verlede nie? Indien wel, behoort sulke verbande aangetoon te word as ’n histories-wetenskaplike noodwendigheid.

Dr. Leopold Scholtz se goed beredeneerde artikel “Moenie apartheidstank oor wettige saak giet nie” (DB, 28/10), stoot voorgemelde vrae na vore. Ek meen die begrip “apartheidstank” verwys na ’n besondere tydsgreep as onderdeel van die tydsgreeplike geheel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Is dit billik om die “stank”-gedagte slegs van toepasing te maak op die 1948-1994-tydsgreep as ’n onderdeel van die Suid-Afrikaanse historiese geheel? Wat van die voorafgaande en daaropvolgende tydsgrepe? Ruik alles vóór 1948 en ná 1994 welriekend?

In die lente van 1902 besoek J. Ramsay MacDonald, latere eerste minister van Groot-Brittanje, Suid-Afrika na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog. In What I saw in South Africa, September and October 1902, stel hy sy indrukke te boek. Hierin sê hy: “Ek het oor honderde myle . . . die pad bestrooid gesien met die beendere van perde en beeste, en die stank van verrrottende vleis op die veld gevoel . . .” Inderdaad ’n onwelriekende (letterlike) stank veroorsaak deur oorlog. En nou: Indien daar van (figuurlike) “apartheidstank” gepraat mag word, mag daar dan ook van die (figuurlike) “stank” van kolonialisme en imperialisme gepraat word as historiese tydsgreep-onderdeel van die groter Suid-Afrikaanse historiese geheel? En wat van die hede? Ruik die golf van korrupsie oor ons land en die sterwende Afrikaanse taal aan ons tersiêre instellings welriekend en aangenaam?

Dit gaan nie hierin om ’n ontkenning van Scholtz se tydsgreeplike “apartheidstank” nie, maar wel om die erkenning dat die Suid-Afrikaanse geskiedenisgeheel waarskynlik ook deur ander “stankperiodes” gekenmerk word. Laat ons dus, aangespoor deur ons liefde vir historiese waarheid, die totale Suid-Afrikaanse verlede billik “besnuif”, en nie selektief doeldienlik nie.

Saturday 29 October 2005

Brief oor US-taalstryd wen R200

PORT ELIZABETH. – Die brief onder die opskrif “ ’n Skuif na Engelstaligheid” deur dr. T.C. Breitenbach van Port Elizabeth is vandeesweek se wenbrief.

Hier verwys die skrywer na die artikel “Aan wie behoort die US en Afrikaans?” (DB, 14/10) deur Leopold Scholtz. Hy skryf dat die voorheen eksklusiewe volkskriterium vir toelating tot die US moes plek maak vir die kontemporêre inklusiewe taalkriterium. Verder meen hy die US het dus verskuif van ’n volksinstelling na ’n taalinstelling, en tans begin dit verskuif van ’n Afrikaanstalige nasionale instelling na ’n Engelstalige instelling. Hy meen dat dit in die toekoms kan verskuif van ’n Engelstalige nasionale instelling na ’n Engelstalige internasionale instelling.

Hy skryf ook dat die gesindheid van elk van dié taalpartye implikasies inhou vir die toekoms van Afrikaans.

Die skrywer wen ’n geskenkbewys van R200 van Pick ’n Pay.

Wenners kan Yvonne Jacobs tolvry by 0 0800 600 836 bel om hul pryse op te eis.

Die menings van lesers is belangrik en die koerant moedig mense aan om op die brieweblad van hulle te laat hoor. ’n Brief van die week word elke Saterdag aangewys en alle brie­we wat die afgelope week gepubliseer is, word oorweeg. Briewe kan gestuur word na Die Burger-brieweblad, Posbus 525, Port Eli­zabeth 6000. E-pos kan gestuur word na oos@dieburger.com of fakse na 0 041 503 6138.

Tuesday 25 October 2005

'n Skuif na Engelstaligheid

In sy artikel,  "Aan wie behoort die US en Afrikaans?" (DB,14.10.2005), stel dr. Leopold Scholtz twee kritieke vrae.

Die US het, indien ek Scholtz reg begryp, verskuif vanaf 'n Afrikaner-volksgeoriënteerde instelling na 'n Afrikaans-(taal)georiënteerde instelling. Die voorheen eksklusiewe volkskriterium vir toelating tot die US moes plek maak vir die kontemporêre inklusiewe taalkriterium. Die reikwydte van die breër Afrikaanssprekende taalgemeenskap is omvangryker as dié van die enger Afrikaner-volksgemeenskap en, in die inklusiewe nuwe Suid-Afrika, geniet taal voorkeur bó volk.

Die Afrikaner-volksgemeenskap word grondwetlik-doelmatig verskraal tot slegs 'n onderdeel van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap. Binne dié denkraamwerk gaan dit om eenheid (inklusiwiteit) en nié om verskeidenheid (eksklusiwiteit) nie. Die US het dus verskuif vanaf 'n volksinstelling na 'n taalinstelling. Tans begin dit verskuif vanaf 'n Afrikaanstalige instelling na 'n Engelstalige instelling. In die toekoms kan dit nog verder verskuif vanaf 'n Engelstalige nasionale instelling na 'n Engelstalige internasionale instelling, binne 'n nuwe tydsgees as draer en verspreider van die denkprodukte van 'n futuristiese nuwe wêreldorde binne 'n geglobaliseerde universiteitsbestel.

Volgens Scholtz geniet bruin mense gelyke grondwetlike regte met blankeAfrikaners, én omdat die US Afrikaans is, maak dit hulle mede-eienaars van die US. Hiermee beantwoord Scholtz self die eerste gedeelte van sy vraag.

Van besondere belang is Scholtz se verwysing na die  "polige spanning"  binne die breë Afrikaanssprekende taalgemeenskap tussen wit en bruin sprekers. Hy vergelyk dié verskynsel met die taalstrydende Vlaminge (vergelykbaar met wit Afrikaanssprekendes) en die taallakse Nederlanders (vergelykbaar met bruin Afrikaanssprekendes).

In die geval van Vlaminge en Nederlanders word die verskil in houding jeens 'n gemeenskaplik gedeelte taal toegeskryf aan die besondere historiese verlede van elk. Dit geld eweneens ook vir die wit en bruin segmente van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap. Die analoë verband wat Scholtz hier raaksien tussen die Nederlands-Vlaamse taalgemeenskap en die wit-bruin Afrikaanssprekende taalgemeenskap, moet nie geïgnoreer óf onderskat word nie. Die gesindheid van elk van dié taalpartye hou implikasies in vir die toekoms van Afrikaans.

Saturday 15 October 2005

Mede-eienaarskap nodig

DIE US-taaldebat is nie meer ’n plaaslike taalaangeleentheid nie, maar het die episentrum geword van die jongste taalskokke wat landwyd binne die Afrikaanse taallandskap deur skade, puin en verwoesting gekenmerk word.

’n Transformatoriese tempoversnelling, waarvolgens die verskuiwing in US-geledere vanaf ’n oorwegend Afrikaans-monokultureel georiënteerde instelling na ’n Afrikaanstalige gemeenskaplik kultureel-diverse instelling verander het na die in die vooruitsig gestelde ideologiese ideaal van ’n multikultureel akkommoderende Engels-eentalige instelling, vind tans plaas.

Voorgenoemde is die resultaat van die huidige ideologiese transformasie van Suid-Afrika, en nugterdenkende mense kon voorsien dat dit sou gebeur. Transformasie, waaronder ook taaltransformasie, opereer uiters eensydig aan die hand van die beginsel van eenheid-in-die-verskeidenheid en negeer die beginsel van verskeidenheid-in-die-eenheid wat die balans moet handhaaf. Derhalwe dien taaleenheid (Engels) die onderliggende sosialistiese doel binne ’n multikulturele samelewing onderweg na ’n sosialisties-nasionale bedeling.

Noudat die transformasie-kat onder meer ook in die taalhok is (en nie net by die US nie), waai die Afrikaanse taalvere in benoude gefladder. Dit is hoogs onwaarskynlik dat dié kat uit die taalhok sal verdwyn, maar sou dit moontlik wees om dié bedreigde taalvoël binne dié hok te beskerm?

Waar taal as eiendom van ’n eienaar ter sprake kom, kom die beskerming van dié eiendom ook ter sprake. Die vraag is: Wie is bereid om eienaarskap (in die geval van Afrikaans gekwalifiseer as mede- eienaarskap) vir die Afrikaanse taal te aanvaar vir die beskerming en voortbestaan daarvan?

Die vraag oor ’n beskermingstrategie tree ook na vore. Die vreedsame weg blyk aanvanklik verkiesliker as die konfrontasieweg.Tog mag dit nie lei tot uiteindelike taalkapitulasie nie. Te dikwels word inskiklikheid vertolk as ’n teken van swakheid en wilsgebrek wat uitbuitend tot ondergang lei.

Die taaluitdaging is tweërlei: Wie is bereid om mede-eienaarskap te aanvaar en hoe kan dit suksesvol beskerm word?

Monday 5 September 2005

Geloofsreëls verwerp

Prof. Leon de Stadler se artikel,  "'n Kerk in krisis?" (DB,25.08.2005), verwys. As Christengelowige wil ek op twee van sy perspektiewe   -   die kennisperspektief en Bybelse perspektief   -   reageer. Hy verwys na  "die kennis oor homoseksualiteit en die wyse waarop die kerk en lidmate...met hierdie kennis omgaan."

Wát presies is sy bron van kennis? Laat hy hom lei deur 'n Goddelike of 'n menslike kennisbron? Ek meen daar is 'n epistemiese spanning tussen kennis van 'n Goddelike en 'n menslike oorsprong. Hy verwys na  "misvattings wat aan die kaak gestel moet word"  in terme van die kennisraamwerk wat sy kennisbron aan hom verskaf. Dié bron blyk 'n mensgemaakte een te wees, nie Bybels nie, want hy verkies om te vergeet van  "Ou Testamentiese teksies, en ons vra ons af wie die God is wat ons aanbid."

Kan dié vraag, in alle waarheid, beantwoord word sónder dié "teksies"  en by 'n Goddelik gesaghebbende antwoord uitgekom word op die homoseksualiteitsvraag? Uitsluiting van hierdie  "teksies"  lei by De Stadler tot 'n mensontwerpte sondebeskouing, want hy vind dit onaanvaarbaar dat homoseksualiteit  "saam(ge)klits" word met ander sondes,  "asof homoseksualiteit iets is wat vergewe moet word". 'n Mensgemaakte kennisbron lei nou ook tot 'n mensontwerpte sondebeskouing ; nie meer 'n Bybelse sondebeskouing nie.

Sy aanvaarde kennisraamwerk lei De Stadler tot die opmerking van 'n verdere misvatting, naamlik dat homoseksualiteit (nie)  "weg-  of reggebid"  kan word (nie). In dié verband beroep hy hom op  "ingeligte psigoloë"  wat met hom sal saamstem. Is dit nie juis óngeloof wat die kragteloosheid van gebed hier impliseer nie?

Wat betref sy Bybelse perspektief, in aansluiting by sy kennisperspektief, sê De Stadler  "dat 'n mens nie aan die teks van die Bybel 'n soort absolute gesag kan gee nie" , want, sê hy,  "Die Bybel is immers deur mense geskryf...in 'n verre verlede"  wat  "ook nog deur die hande van duisende vertalers gegaan het."  Hy het duidelik 'n probleem met die gesaghebbendheid van die Bybel. Dit is juis waarom die wese van die homoseksualiteitsdebat gaan, naamlik die gesaghebbendheid van die Bybel as die Woord van God.

Omdat die mens God se  "spelreëls"  vir die  "geloofspel"  verwerp, ontwerp hy sy eie reëls in die plek daarvan. Weinig sien vandag die Slangsleepsel in ons geloofs-  en kerklike lewe raak, hy wat ons in die hakskeen byt en van wie óns hom die kop moet vermorsel.

Thursday 1 September 2005

Wêreldse kragte ondermyn kerk

Hoewel tragies, is dit ongetwyfeld waar dat daar vandag 'n groter teenwoordigheid én invloed van die wêreld in die Kerk is as andersom, en wel met vernietigende gevolge vir die Kerk.

Wêreldse kragte manifesteer sigself ook in kerklike verdeeldheid, waarvan die geval Laurie Gaum maar net nóg 'n simptoom is. 'n Kerklike uitspraak van  "amptelike onsekerheid"  oor sake waaroor die Bybel hom in geen onduidelike taal uitspreek nie, bevestig hierdie vernietigingswerk.

Ons beleef 'n tyd van, onder meer, grensuitwissing, omkering van die gevestigde geloofsorde, asook gewetenstransformasie ; sameswerende agente van geloofsaggressie teen die Christendom. Die algemene verdagmaking en relativering van waarheid vernietig ook die grens tussen geloofswaarheid en leuen. Dit geld in die besonder vir die  "tradisioneel"  geopenbaarde Skrifwaarhede as bowe-rasioneel geïnspireerde waarhede.

Die  "tradisionele"  denkweg om vanaf 'n Skrif-  en Godsbeskouing na 'n mens-  en wêreldbeskouing te beweeg, is vandag omgekeer. God staan nou, as maar een van vele gode, in diens van die sinkretistiese mens. Aan Hom mag daar maar aanstoot gegee word, maar moet dit nie durf waag met 'n méns nie. Daarom is reformatoriese denke, as 'n vorm van  "tradisionele terugkeer"-geloofsdenke, nie langer toelaatbaar nie, maar wel die  "transformatoriese wegkeer"-geloofsdenke onder leiding van die wêreldgees.

Die gewete se aangesprokenheid deur Goddelike gesag word tans getransformeer. As hoogste gesag, word die mens nou deur homself aangespreek. Gewetensvorming geskied nou deur middel van die aangesprokenheid deur menseregtemanifeste as hoogste gesagsorde.

Dat die Kerk hom vandag in 'n toestand van vasgelopenheid bevind, blyk ongetwyfeld so te wees. Een van die weë hieruit is indringende Bybelfundeerde selfondersoek, as 'n waarheidsondersoek, en slegs gelei deur die Gees van die Waarheid. Hierin sou getroue waarheidsoekende kerkleiers by Christus self kon leer wat Sy volgelinge gekies het uit die eenvoudiges van die dag, soos vissermanne, en nié uit die geledere van die geleerde Skrifgeleerdes van die dag nie. Dit is juis húlle wat Hom sou laat kruisig!

Wednesday 22 June 2005

Mandela verstaan verlede

DIE historici wat tot die slotsom kom dat ál wat die mens werklik uit die geskiedenis leer -- dat hy hom nié laat leer nie -- het dit insigtelik waarskynlik die verste gebring.

Hiermee bewys hulle die spreekwoord dat 'n donkie nie sy poot twee maal teen dieselfde klip stamp nie as onjuis, want sommiges stamp hul pote meermale teen dieselfde (historiese) klip.

Briewe oor 'n nuwe nasionale identiteit het my aan iets van dié spreekwoordelike pootstampery herinner. Die klip waarteen by herhaling gestamp word, is die Afrikaner-klip.

Dié klip word deur die huidige nasiebouers verwerp, maar het die potensiaal om een van die hoekstene daarvan te word, dog daar word daagliks steeds harder geskree: "Kruisig hom! Kruisig hom!" (die Afrikaner).

Sommige briefskrywers beoordeel die hede as die verkeerde tyd en omstandighede om nou hoog op te gee oor die waarde en belang van Afrikanerskap. Gelukkig het nie almal in die verlede só defaitisties geredeneer nie.

Meer opvallend dalk is die doelmatig-selektiewe en punte-aantekenende omgang met die uiters komplekse en unieke historiese verlede van hierdie land. Dit was nog altyd my indruk dat dit in hoofsaak my Engelssprekende landgenoot is wat gerieflikheidshalwe aan langtermyngeheueverlies ly, en derhalwe niks meer kan (wil) onthou van sy aandeel tussen die jare 1806 en 1948 aan die geskiedenis van die land nie. Dieselfde simptoom van amnesie kom voor by dié briefskrywers wat slegs fokus op "hoe die meederheid van Suid-Afrikaners dink oor die geskiedenis van Afrikaners tussen 1948 en 1994, en die steeds onberekenbare skade . . ."

Vroeg in April 2001 het oudpres. Nelson Mandela 'n toespraak by die KKNK op Oudtshoorn gelewer waaroor Die Burger destyds soos volg gerapporteer het: "Mandela . . . het reeds tydens sy gevangenis periode op Robbeneiland en in Pollsmoor tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaners se vrees dat hulle nie onder 'n swart regering sal kan oorleef nie, een van die belangrikste redes vir apartheid is -- en dat dié vrees gevolglik weggeneem moet word."

Dit wil voorkom asof Mandela meer volledig en waarheidsgetrou omgaan met die Afrikaner se verlede as wat die briefskrywers dit doen.

Thursday 19 May 2005

Staak die verdagmaking

VERDAGMAKING, waar een persoon oortree en die saak doelbewus sodanig hanteer word dat almal uiteindelik as verdagtes onder verdenking kom, moet as 'n onaanvaarbare en inkriminerende praktyk beskou word. Dit is 'n praktyk wat sekerlik ook die menswaardigheid van die onskuldiges kan aantas. Ek kry, vanweë my blootstelling aan die media, die indruk dat die (selfaangestelde) agente van transformasie ook in die gedaante van rassismedrywers as sub-agente daartoe optree. Rassismedrywers maak uitstekend gebruik van die strategie van verdagmaking. Die slagspreuk: "An injury to one is an injury to all" word omgekeerd strategies puik aangewend tot "Injure one and you injure all", wanneer jy jou vyand wil bykom. Vang een skuldige en brandmerk ook die onskuldiges.

Dink aan die verdagmaking rondom kritieklewering. Krities wees is deel van menswees. Vooruitgang daarsonder is haas onmoontlik. Kritiek uit wit oord op die regering of op gekleurde mense word verdoemend afgemaak as rassisme. Is kritieklewering wat van 'n kontekstueel-spesifiek geregverdigde en dringende aard getuig en wat betyds teen agteruitgang en verval wil waarsku, ekwivalent aan rassisme? Vir die rassisme-drywer blyk kritiek sinoniem met rassisme te wees.

Dink vervolgens aan regstellende aksie as synde van 'n positief-diskriminerende aard te wees. Kan diskriminasie ooit positief wees? Kan rassisme sigself manifesteer in diskriminasie? Ek dink dit kan. Deur die gedagtelyn te volg, sou jy kon sê dat, omdat diskriminasie positief kan wees (as dit my pas) en diskriminasie en rassisme raakvlakke toon, daarom kan rassisme ook positief wees (as dit my pas). Wie maak ras tot vertrekpunt? Is dit nie 'n absurde en bedenklike redenasie nie? Waarom? Omdat die moedergedagte van "positiewe diskriminasie" geboorte gee aan 'n gedagtekind soos "positiewe rassisme" (as dit my pas).

Het die tyd nie aangebreek dat die rassisme-drywers ontmasker word vir dit wat hulle nié is nie? Dat hulle nie aanspraak kan maak op die status van konstruktiewe "samelewingsingenieurs" nie? Dalk kan ons iets by Langenhoven leer wat gesê het : As die kortpad (beskuldiging en verdagmaking) die veilige pad was, dan het die hoofpad (oplossings) daarlangs geloop.

'n Aangeleentheid waaraan rassisme-drywers aandag behoort te skenk, is die vraag of ongesubstansieerde bewerings en beskuldigings van rassisme teen enige landsburger, of groep van landsburgers, nie dalk as 'n vorm van teistering (harassment) vertolk kan word nie. Indien wel, kan die rolle van aanklaer en aangeklaagde dalk nog omruil.

Thursday 5 May 2005

Wie is Afrikaner-rassiste?

VIR prof. Willie Esterhuyse (Brieweblad, 29/4) gaan dit nie in hoofsaak om Afrikaner-identiteit nie, maar wel, indien ek hom reg verstaan, om sy aanklag teen Afrikaners se rassisme wat die "saak van Afrikaans beduiwel".

Om alleen te fokus op 'n olifantslurp en verby die res van die groteske dier te kyk, is om doelbewus, volgens 'n eng perspektief, die groter geheel onbeduidend te ag. Die groter saak waarom dit hier gaan, waarvan taal onteenseglik 'n allerbelangrike komponent uitmaak, is by uitstek juis die kwessie van (Afrikaner-)identiteit  - 'n debat waaraan hy "nie baie aandag gee nie".

Die begrip "Afrikaner" is 'n uiters komplekse, verweefde begrip, en soveel te meer nog die begrip "Afrikaner-identiteit". Wie ook al hom aan hierdie begrippe wil waag, moet weet dat hy hom nie aan intraparadigmatiese vooroordeel skuldig mag maak nie, maar dat dit eerstehandse kennis "van binne-uit" verg aangaande wie en wat 'n/die Afrikaner is. Eers wanneer hierdie verstrengeld-verweefde begrip betekenisvol en sinvol uitgeklaar is, kan daar tot insigte aangaande die identiteit van 'n/die Afrikaner gekom word.

Dit tref my dat die professor hom uitspreek oor die rassisme van Afrikaners sonder om die diversiteit van hul potensiële identiteitsamestelling in ag te neem. Kan dit wees dat hy met die begrip "Afrikaner" omgaan op 'n simplisties-monistiese en veralgemenende wyse, terwyl dit in wese van 'n kompleks-pluralistiese en nie-veralgemeenbare aard blyk te wees?

Ons kan nie langer volstaan met 'n eng en veralgemenende inhoudgewing aan die begrippe "Afrikaner" en "Afrikaner-identiteit" nie. Diegene wat hulself, histories gesien, eksklusief as Afrikaners beskou het, behoort hulself nou kwalifiserend as Euro-Afrikaners te sien  - soos wat die Negers in die VSA na hulself as Afro-Amerikaners verwys, en daarmee te kenne wil gee dat hulle slegs een tipe van Amerikaner verteenwoordig.

Die Euro-Afrikaners, tot wie ek behoort, is slegs één Afrikanertipe. Daar is nog ander tipes (en subtipes) van Afrikaners ook. Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat daar sprake is van 'n tipologie van Afrikaners waarvan elkeen wag om in eie reg en deur sigself  - en nie iemand van buite nie  -  geïdentifiseer, gekwalifiseer en ingebind te word onder die sambreelterm van "Afrikaner".

Die vraag aan Esterhuyse (teen die agtergrond van so 'n Afrikanertipologie) is: Op wie het sy beskuldiging van rassisme betrekking  - op alle Afrikanertipes, sonder uitsondering, of spreek hy eintlik maar net die Euro-Afrikaners aan?