Wednesday 18 November 2020

Gedwonge aanpassing vereis prysgawe




Verandering impliseer aanpassing, voor-  of nadelig vir ons. Onnatuurlike, nie-spontane, gedwonge verandering vereis gedwonge aanpassing gepaardgaande met  gedwonge prysgawe; tans 'n tipies nasionale simptoom van die ANC-transformasiesindroom.

Ideologiese ANC-transformasievoorskrifte (gedwonge verandering) vervang meriete met middelmatigheid, kundigheid met onbekwaamheid, instandhouding met verwaarlosing, funksionele met nie-funksionele staats-  en munisipale dienste, die strewe na rasseharmonie met  -polarisasie, bestaansveiligheid na  -onsekerheid   -   'n haas onuitputlike lys   -   waartoe ons tot aanpassing gedwing word met prysgawe van ons grondwetlike regte.

Aanpassing by die gedwonge ANC-eentalige bedeling gaan, in talle nasionale kontekste, met prysgawe van Afrikaans gepaard. Toenemende dwang word uitgeoefen op die aanpassing by koelbloedige moorde, bendegeweld, vandalisering van duur infrastruktuur, ophoping van straatvullis en  -rommel, siekteriskante waterbronne besoedel deur vryvloeiende rioolafval met prysgawe van sindelikheid en higiëne, inderdaad 'n onuitputlike lys.

Die waarskynlik heel grootste prysgawe, wat gedwonge aanpassing van ouers noodsaak, is die selfopgelegde ballingskap van hul kinders na die buiteland ter wille van beter toekomsvooruitsigte vir ons kleinkinders wat gelyke geleenthede in ons land ontsê word. Die naderende Kersgety, ook as gesins- en familiefees, maak dié gedwonge aanpassing met prysgawe van saamwees, soveel moeiliker.

Te midde van dié negatief neigende ANC-transformasiedwang, is een van ons grootste uitdagings die behoud van ons positiewe geestes-  en gemoedsgesteldheid; veral dit wat ons vanuit huis in ons jeugjare geleer is om ons staande te help hou.


Wednesday 4 November 2020

Ideologiese ANC-aannames is toekomsbepalend




Soos oor baie ander dinge, verskil mense ook oor aannames. Die aanname waaroor ons waarskynlik die minste verskil, is dat ons môre nog hier sal wees.

Sy verkeerde geosentriese aanname het Ptolemaeus laat beweer dat die son "opkom". Giordano Bruno (1548-1600) het met sy lewe op die brandstapel geboet omdat hy Copernicus (1473-1543) se korrekte heliosentriese aanname, tragies-ironies, verdedig het.

Aannames is meestal versweë, nie maklik afleibaar nie, onderhewig aan fout, en dien derhalwe aan toetsing onderwerp te word. Verkeerde aannames, wat besluite en daaropvolgende handelinge voorafgaan, kan  ernstige implikasies vir sowel individue as samelewings inhou.

Voorbeelde van sommige politieke leiers se uitsprake soos deur hul aannames onderlê:
op die vooraand van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 sê oud-pres. FW de Klerk dat, omdat die meeste Suid-Afrikaners christene is, Suid-Afrika 'n christelike regering sal kry.

Ter verklaring van al Suid-Afrika se probleme, is Jan van Riebeeck (lees:wittes), volgens die Zuma-aanname, die oorsaak daarvan, en vandaar sy "awuleth umshini wami" ? President Ramaphosa prys die Zoeloes as eerste vryheidsvegters (teen die Voortrekkers)   -   'n verkeerde aanname gebaseer op historiese oningeligtheid.

Op watter aannames berus die ANC se jongste rampspoedige SAL-reddingsboei, die Bevelsraad se hantering van die Covid-19-pandemie, die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping, die luukse leefwyse wat die ANC-elite hulself veroorloof, en talle soortgelyke aannames in ander kontekste?

Hoe sien die netwerk van ideologiese ANC-aannames daaruit waardeur Suid-Afrikaners se toekoms bepaal gaan word?