Monday 21 June 2010

Fifa wys hierdeur dubbele standaarde

Vanweë die agtergrondsgeskiedenis van 16 Junie   -   deur die ANC tot Jeugdag verklaar   -   was my indruk nog altyd dat dit eintlik maar 'n dag is waarop die swart jeug spesiaal in die kollig kom, en nié soseer die wit-, bruin- en Indiërjeug nie. Geniet laasgenoemde dieselfde mate van regeringsaandag, of is dit maar 'n taamlik eensydige dag?

Maar is dit egter net die ANC wat realisties verdink kan word van dubbele standaarde wat die SA-jeug betref? Wat van FIFA en die wêreld-sokkergemeenskap? Kom ons kyk.

Daar word berig dat AfriForum Jeug enkele dae gelede 'n internasionale bewusmakingsveldtog oor FIFA, Peter Mokaba, plaasmoorde en HIV/VIGS geloods het en wat dusver reeds wye steun geniet.

In dié veldtog beweer AfriForum Jeug dat die ANC-regering en FIFA 'n onregverdigbare heldeverering vir Peter Mokaba het. FIFA het, op versoek van AfriForum Jeug, geweier om sy heldeverering vir Mokaba van sy webblad te verwyder; vandaar die internasionale bewusmakingsveldtog.

Wie was Peter Mokaba nou weer? Hy was 'n voormalige president van die ANC Jeugliga en word veral onthou vir sy sing van "Kill the Boer, kill the farmer!", die aanhitsing van sy ondersteuners tot rassegeweld en plaasmoorde, asook sy beïnvloeding van die ANC-regering om HIV/VIGS te ontken, en hom só aandadig gemaak het aan die dood van duisende mense.

Billikheidshalwe vra AfriForum Jeug óf FIFA en die sokkerspelende lande sal toelaat dat sokkerstadions na diktators en mensemoordenaars, soos vroeër in Duitsland (Hitler), Serwië en Argentinië, vernoem word? FIFA en wêreldsokker het egter géén probleem met die naam van Peter Mokaba vir die Polokwane-stadion nie.

Is dit nie 'n voorbeeld van onverbloemde dubbele standaarde van FIFA en wêreldsokker nie?

Saturday 19 June 2010

Ons opdrag om te vergewe

Freddie se brief, "Engelse, 'joiners' gaan nog boet" (DB,19.06), moes almal wat dit gelees het waarskynlik tot diepe nadenke gestem het. Hy sê: "...ek (het) nie van die Engelse gehou nie, en so sal dit wees tot my dood...(oor) wat hulle aan ons gedoen het..." Die versoeking is groot om ongekwalifiseerd saam te stem.

Onvergewensgesindheid is iets waarmee ons almal die een of ander tyd worstel. En tog, Christengelowiges staan onder die baie duidelike Bybelse opdrag om mekaar te vergewe. Om voor dié opdrag te buig, is seker een van die moeilikste dinge; veral sewentig maal sewe keer.

In die "Onse Vader"-gebed vra ons juis om van ons skulde vergewe te word na die mate wat ons ons skuldenaars vergewe. Aan die kruis vra Christus Sy Vader om Sy moordenaars te vergewe tot voorbeeld vir ons.

Nader aan ons eie tyd gee die Godsman, Bybelvertaler, Psalmberymer en digter   -   Totius   -   uitdrukking aan die belangrikheid van vergiffenis in sy "Vergewe en vergeet", 'n tydlose gedig wat juis na die ABO verwys en, derhalwe, die Engelse impliseer.

Ek behoort tot 'n geslag opgevoed deur gelowige Christenouers wat, paslik, troosvolle wyshede aan 'n kindergemoed kon oordra   -   dikwels in gesinsverband   -   soos: Die wiel sal draai. God slaap nie. God's meule maal langsaam, maar gewis. God sê aan Hom kom die wraak toe.

Mag ons vergewensloos bly teenoor hulle wat lank gelede dalk reeds deur God vergewe is? Kan ons die dood tegemoet gaan en mense onvergeef agterlaat?

Christus is die Man vir Vergiffenis; Satan nié. Om nie te vergewe nie, is deel van die geestelike oorlogvoering van ons dag. Kom ons vergewe hulle wat ons verontreg het, en put besieling uit ons voorgeslagte wat wél húl vyande kon vergewe.

Tuesday 15 June 2010

Is daar niks goeds in die verlede nie?

Christian Martin se brief, "Indoktrinasie so oud soos volkere" (DB,11.06), verwys.

Dankie, Martin, dat u in u kritiek, waarop u geregtig is   -   en ongeag dat ons skerp mag verskil betreffende die ANC   -   die integriteit openbaar om tussen debat (saak) en debatteerder (persoon) te onderskei. Dit is meer as wat van my felste kritici gesê kan word wat baie duidelik nié oor dié onderskeidingsvermoë beskik nie. Volle krediet hiervoor aan u wat nie die menswaardigheid van diegene, van wie u verskil, aantas nie.

Onlangs lees ek 'n brief van u aangaande 'n kind wat iewers met sy plakkaat sit en bedel het. U het met dié kind gesels, die bewoording op sy plakkaat verander, en só 'n positiewe ingesteldheid by dié kind bewerkstellig. Dit beklemtoon juis u persoon-in-debat.

In u brief erken u die positiewe deur te sê : "...julle indoktrinasie het so goed gewerk dat...selfs van my eie volksgenote, apartheid...as goed en beter beskou." Treffend hiervan is nié, primêr, sommige bruin mense se mening oor apartheid nie, maar die feit dat u na hulle as "my eie volksgenote" verwys. Ek aanvaar dus dat u begrip het oor hoe ek oor my volksgenote voel.

U sluit u brief af met : "Jy (Breitenbach) is nie altyd verkeerd in sekere van jou sieninge nie." Hierdie toegewing verg beslis baie om dit van jou teenstander te sê.

Geeneen van ons kan die verlede ongedaan maak nie, maar kan daaruit leer. Nog minder begeer enigeen 'n terugkeer na 'n ongewysigde verlede. Hóé dié wysiging egter teweeggebring word, is van deurslaggewende belang vir die toekoms van vreedsame naasbestaan in 'n multikulturele samelewing.

Is daar dan níks goeds in die verlede, vir die ANC, waarop die toekoms voortgeset gebou kan word nie?

Saturday 12 June 2010

Hou maar eerder by stadions verby

Gedurende die 2006 Wêreldbeker-sokkertoernooi was ons op 'n vlugtige toer deur Duitsland, Oostenryk, Italië en Switzerland. Die grootskerm TV-uitsendings in plekke soos die Marien-platz in München, Salzburg en Innsbruck, was 'n belewenis om lewenslank te onthou. Die "sokkergees" en -geesdrif het werklik 'n aansteeklike uitwerking gehad. Met Duitsland, die gasheerland, se sokkeroorwinnings, kan ek self getuig van die waarneembare Duitse opgewondenheid waarna die pers verwys het as een van die eerste tekens van die herlewing van die Duitse volksgees ná die Tweede Wêreldoorlog.

Daar is dus onteenseglik groot geesdrif   -   wat ook kan oorspoel na die nasionale terrein   -   waardeur so 'n internasionale toernooi gekenmerk word. In dié opsig is Zelda Jongbloed reg as sy in haar artikel, "Almal moet SA se groot prestasie erken" (DB,07.06), sê : "Dit gaan óók...vir ons as 'n nasie om ons volkstrots te vind..."

Wat Suid-Afrika se aanbieding van dié toernooi betref, is daar egter één ding wat my ernstig pla   -   en ek sê dit vanuit die perspektief van 'n Christengelowige   -   en dit is die sogenaamde "seëning" van alle sokker-stadions deur toordokters en tradisionele genesers waartydens die voorvadergeeste se welwillendheid in gebede aangeroep is.

So berig Buks Viljoen van Beeld (26.05) in "Ox killed to bless stadiums" : "An ox was slaughtered at the Soccer City stadium...to bless the country's stadiums for the FIFA World Cup...the stadium was blessed by about 300 sangomas (diviners) and inyanga (traditional healers)...(who) called on African ancestors and God to ensure a successful World Cup. They also communicated...the proceedings to the other stadiums in the country 'spiritually'."

Ek sal maar eerder by die voorvaderlik-geseënde stadions verby hou en die "jolkolle"   -   soos in 2006 in Europa   -   oorweeg.

Wednesday 9 June 2010

ANC indoktrineer met oorlogsfoto's

Die Burger-berig (29.05), "Oorlogsfoto's in vraestel laat kinders huil", verwys.

Hierin word berig dat kinders "...erg ontstel (is) deur grusame foto's uit die Tweede Wêreldoorlog wat deel van hul geskiedenis-vraestel uitgemaak het." Dis duidelik; dié foto's moet méér as 'n historiese doel dien.

Die geskiedenis-gedeelte van die vraestel vir graad 9-leerders weerspieël 'n subtiele kontrastering van die apartheids- en ANC-ideologieë. Aan die hand van prentevoorstellings moet leerders apartheidswetgewing   -   soos dié op afsonderlike geriewe, verbod op gemengde huwelike en instromingsbeheer   -   kan identifiseer én ook kan verduidelik hoedat weerstandsbewegings en Umkhonto Wesizwe apartheid beveg het.

Op subtiele wyse word die apartheidsvergrype gekoppel en gelykgestel aan die gruweldade van die Nazi-bewind. Dis duidelik hoedat die NP- en Nazi-bewinde saam gegroepeer, en die S.A.-anderskleuriges en Jode saam gegroepeer word, 'n flagrante wanvoorstelling van onvergelykbare historiese gebeure; doelbewuste misleiding van kinders.

Dis tog bekend dat die "struggle"-vriende en bondgenote van die ANC in hoofsaak kommuniste is. Die ANC-onderwysowerhede durf dit nie waag om soortgelyke gruwelfoto's van kommunistiese gruwels onder Stalin, Mao Tse Tung en Pol Pot gepleeg, in vraestelle op te neem nie; dit sal hul eie ideologie ontmasker. Nazisme is lankal verslaan; kommunisme nie. Dit is steeds mét en tússen ons.

Onderriginhoude, soos weerspieël in gemelde vraestel, is opsigtelik van 'n breinspoelende aard met die doel van die jeug se aanvaarding van die ANC-ideologie. Hierdie inhoude dien die doel van ideologiese indoktrinasie.

Hierdie inhoude laat geen illusie oor waarheen die ANC met die S.A.-jeug onderweg is nie. Ouers én onderwysers wat nie hierteen gaan optree nie   -   om 'n herhaling te voorkom   -   laat die jeug in die steek. Die jeug is ons toekoms. Moenie hulle in die steek laat nie.

Wednesday 2 June 2010

Kom ooreen om van mekaar te verskil

De Lange se brief, "Maak harte oop vir bruin Afrikaners" (DB,01.06), verwys.

Ten spyte van ons meningsverskille dusver, lei ek uit De Lange se aanvangsin af dat hy oor 'n goeie humorsin beskik. Vir my het 'n gesonde humorsin   -   nie ligsinnigheid nie   -   nog altyd geblyk 'n ontlonter van potensiële spanning te wees.

Wanneer De Lange sê : "...ek wil hom (Breitenbach) om verskoning vra indien ek hom te na gekom het", is my reaksie daarop : Dit is slegs deur te vergewe dat óns vergewe word.

Dit is moontlik om te verskil sónder om mekaar se persone aan te val óf menswaardigheid aan te tas. Fokus op die debatsonderwerp, en lug ongehinderd menings binne 'n ruimte waar meningsverskille gerespekteer word.

De Lange kan my reghelp, maar ek vertolk sy briewe   -   veral die jongste een   -   as 'n pleidooi vir die identiteitsprysgawe van die Afrikanervolk. Daarteenoor bepleit ek juis identiteitsbehoud sonder die benadeling van enigeen, ook nie bruin mense nie. Indien De Lange meen Afrikaner-identiteitsbehoud benadeel bruin mense, moet hy verduidelik hóé.

Om sy standpunt te versterk, maak De Lange dié stelling : "Die meeste wit Afrikaners...het ook maar gekleurde bloed in hul are." Ek verwerp hierdie stelling as histories geheel en al onwaar, misleidend én gevaarlik. Ek verwerp nie De Lange nie; net sy stelling. (Sien H.F.Heese se boek : Groep sonder grense. Let wel : gróép, nié vólk nie!)

Ek is nie bereid om enige toegewings te maak ten opsigte van my standpunt nie; so veronderstel ek voel De Lange ook oor sy standpunt. Nie ek óf De Lange is voorwaardes vir dié debat nie. Ons sal lank nie meer daar wees nie, dan sal dié gesprek steeds voortgaan.

De Lange, kom ons kom ooreen om vrylik van mekaar te mag verskil sonder om mekaar se persoonwees te skaad.

Tuesday 1 June 2010

So 'n perspektief is eintlik vreemd

Die datum 31 Mei is 'n sterk histories-gekleurde datum in ons S.A.-geskiedenis. Op 31 Mei 1902 word die ABO met die Vrede van Vereeniging beëindig; op 31 Mei 1910   -   presies 'n honderd jaar gelede   -   kom die Unie van Suid-Afrika tot stand; op 31 Mei 1928 word die Unievlag amptelik vir die eerste keer by die parlementsgebou in Kaapstad gehys, en op 31 Mei 1961 kom die Republiek van Suid-Afrika tot stand.

Hierdie datums is veelal bakens op die historiese wordingsweg van die Afrikanervolk, en daarom kon die nuwe S.A. nie dié Afrikaner-geassosieerde historiese datum langer as 'n openbare vakansiedag duld en akkommodeer nie.

Wat 'n verstommende kontras tussen die perspektiewe van twee verskillende skrywers op presies dieselfde onderwerp   -   Uniewording honderd jaar gelede   -   die een skrywer, Sampie Terblanche, in sy artikel, "100 jaar se smerige voetspore" (BY,15.05), en Meshack Mabogoane in sy artikel, "Salute the bravery and vision of SA's founders" (Business Day,05.05).

Vertellings oor hoe slég Afrikaners in die verlede was   -   uit eie geledere (Terreblanche)   -   is nie so vreemd nie, maar vertellings uit swart geledere (Mabogoane) oor hoe góéd Afrikaners in die verlede was, dit is 'n vreemde verskynsel.

In sy artikel bespreek Terreblanche drie redes waarom die Unie van Suid-Afrika in 1910 "...in sonde gebore en getoë..." is, dit was "...'n rassistiese, 'n imperialistiese en 'n rasgebaseerde kapitalistiese konstruksie" met al wat sleg was daaraan verbonde.

Verwysende na 1910 sê Mabogoane: "The founders   -   Louis Botha, Barry Hertzog and Jan Smuts   -   were war-seasoned generals...which stands in contrast to the history of the ANC...Their outstanding statecraft...now being destroyed by unpatriotic elements.

"...the current regime's evil racial programme is catastrophic...A fake 'patriotism' is being whipped up to opiate the masses...let us salute Botha, Hertzog and Smuts for their...great legacy..."

Mabogoane se volledige artikel is te lees by shacks1956@yahoo.com.