Monday 11 September 2017

Zumastorm bedreig SA se voortbestaan




Soms is daar simboliese parallelle te vind tussen gebeurtenisse wat in ruimte en tyd van mekaar verskil. Aleid van Rhijn se boek: "Die Waters Kom!"   -   uit Nederlands vertaal   -   dui op 'n simboliese ooreenkoms tussen die Nederlandse 1953-watersnood en ons eie huidige Suid-Afrikaanse noodsituasie, beide gekenmerk deur onbeheerbare krisis en tragiese verlies.

Op dramaties spannende wyse verhaal Van Rhijn die gebeure van die nag van 31 Januarie op Sondag 1 Februarie 1953 toe talle Nederlandse seedyke tydens springgety meegegee het voor stormsterk windopgeswiep angsaanjaende branders wat die drooggeleg laagliggende polderlandskap met grootskaals tragiese verlies aan lewens en eiendom oorstroom het.

Ek vind die volgende verwysings na dié vloedramp simbolies subtiel toepaslik op die na-1994 Suid-Afrika: "Die nag om twee-uur begin die dorpsklok lui; die alarmteken...Die water op die werf begin geheimsinnige klein golfies maak...Die stygende water dwing die huisinwoners na die solder, en druk hulle uiteindelik teen die dakpanne vas...hulle veg om oorlewing..."

Met weinig verbeelding nodig, merk die geestesoog hoe die daargestelde "dyke"   -   wat ons samelewingsgemeenskap teen die aanslae van misdaad-, moord-, verkragtings-, bendegeweld-, armoede-, staatskapings-  en korrupsiegolwe moet beskerm   -   onder "dykbreuke" swig en, met tragiese verlies van lewens en eiendom van indiwidue, gemeenskappe en die staat, ons nasionale samelewing oorspoel.

Sedert die Zuma-era het dit "nag" geword en lui Suid-Afrika se "alarmklok" sonder ophou. Saboterende "dykbreuke" onder sy bewind het reeds gelei tot die gedeeltelike oorstroming van ons onderhandelde demokratiese "polderlandskap" met onberekenbare skadeverlies. "Geheimsinnige klein golfies" onder Zuma het reeds aangegroei tot verwoestende branders wat hulself ook teen die "hoofdyk"   -   ons grondwet   -   opwerp. Mag ons geregtelike "dyk" egter ferm bly staan en voorkom dat Suid-Afrika in die Zumastorm vergaan.










Monday 4 September 2017

Kopstampery oor intellektuele kapitaal



Europese intellektuele kapitaal (Eik) het aanwysbaar versnelde ontwikkeling, vooruitgang en welvaart sedert 1652 na Suid-Afrika gebring, soos wat dit ook welvaartsvoordele in ander wêrelddele in lande soos die VSA, Kanada, Australië en Nieu Zeeland tot gevolg gehad het.

Delende in dié Eik-poel, het Suid-Afrika deel geword van 'n internasionaal florerende welvaartsekonomie tot en met 1994. Sedertdien huldig die ANC, volgens Afrika intellektuele kapitaal (Aik), 'n totaal ander siening van welvaart en die skepping daarvan. Die praktyk dui egter daarop dat armoede eerder toeneem as afneem onder aandrywing van Aik.

Die sterk rasgedrewe ANC openbaar 'n antagonisme en vyandigheid teenoor die Eik, en word laasgenoemde gestrem deur allerlei beperkende ANC-ingestelde maatreëls. Op 'n ontkennende en waarderinglose wyse verrnietig inheemse Aik die eeue-oue gevestigde "beleggingsopbrengste" van die uitheemse Eik.

Die ideologiese kopstampery tussen die Eik en die Aik strem groei en vooruitgang van die Suid-Afrikaanse ekonomie; so nodig vir werkskepping, armoedeverligting en nasionale stabiliteit.

Aik poog om die Eik in die swaks moontlike lig te stel, binne- sowel as buitelands, terwyl, ironies, pres.Zuma en sy vriende kwistig parasiteer op die finansiële vrug daarvan. So is, agterbaks en in die geheim, Bell Pottinger se dienste bekom om "die reeds sensitiewe rasseverhoudinge in Suid-Afrika uit te buit" waarvoor, onder meer, die kwaadwillige term "wit monopoliekapitaal" (25.08) geskep is.

Die verontrustend Eik-dreinerende emigrasiestroom na die buiteland is 'n simptoom van waardevolle intellektuele kapitaal wat Suid-Afrika verlaat wat andersinds in die opheffende belang van alle landsburgers aangewend kon word. Hiervoor is alleen die ANC en sy Aik te blameer.

Skuil daar dalk iets profeties in wyle N.P.van Wyk Louw se: "Miskien sal niemand later mooi dinge van ons (wil) weet", maar, bemoedigend daarby: "dat ons nie kon gebuig word soos húl geweld dit wou..."?