Monday 26 October 2015

Sy Skrifbeskouing laat NGK staan óf val

Die NG Kerk sal óf staan óf val vanweë sy Skrifbeskouing. So sê Pieter Pelser in sy boek: "NG Kerk : Reformeer of...Disintegreer?" Pelser beweer die gesagsposisie van die Bybel is deur teoloë vervang met die "wetenskap" van Skrifkritiek, 'n gesagsverskuiwing   -   en relativering van die Bybel   -   wat in kweekskole plaasvind "waarvan 95% lidmate niks weet nie".

In sy navorsing oor die NG Kerk van die afgelope vyftig jaar, bevestig prof. R.Britz " 'n ommekeer in die teologiese Skrifbeskouing" van dié kerk waarvolgens die Skrifbeskouing van die Reformasie verruil is vir die moderne Skrifkritiese benadering.

Aanvullend hiertoe sê W.P.D. de Waal in die voorwoord tot sy boek; "Tot hiertoe en nie verder nie" , "dat strukture vir die vertaling en wêreldwye verspreiding van Bybels deur die "New Age"-beweging geïnfiltreer is en tans beheer word deur mense wat die ware Christendom vyandig is". In die VSA word daar van die "Battle of the Bible" gepraat.

'n Voorbeeld ter illustrasie van 'n veranderde Skrifbeskouing en die implikasie daarvan vir Woordverkondiging: Paulus sê van die Skrif: "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word" (1 Tim.4:9). Ds.Ronell Bezuidenhout van die NG-gemeente Fontainebleau sê hiervan die volgende: "Die Bybel is uitgesproke homofobies. Dit is verkeerd. Ons moet braaf genoeg wees om dit te sê. Paulus was dalk homofobies" (LitNet,20.10).

Bybelse geloofswaarhede is vandag, vanuit die kerk self, onder geweldige druk. Vele ouer lidmate ervaar dié verskynsel as traumaties.              (ngn)






Monday 19 October 2015

Stel die gay-besluitgees op die proef

In die NG Kerk se gay-besluit staan die geestelike dimensie van dié besluiit sentraal. Wie aan die Woord durf peuter, peuter daarmee aan die swaard van die Gees (Efes.6:17). Christene staan onder opdrag om die geeste op die proef te stel (1 Joh.1:4), die gay-besluitgees daarby ingesluit.

In sy: "Gay gelowiges is ook jou naastes" (DB,15.10), erken Leopold Scholtz prontuit sy sekulêre ingesteldheid wanneer hy sê dat hy "as sekulêre historikus...die Bybel as historiese bron bekyk." In: "Sinode het 'n dapper besluit oor gays geneem" (DB,12.10), word gesê dié besluit "bou voort op die Grondwet". Baie duidelik adem dié twee menings nié die Bybelse Gees nie.

In Efesiërs 5:18 ontvang ons die opdrag om met die Gees vervul te word omdat die Gees ons vir Hom afgesonder het (2 Tes.2:13). Daarteenoor word ons gewaarsku om ons nie op te hou met die oproep van geeste (Lev.20:27) of met mediums of spiritiste wat fluister en mompel nie (Jes.8:19).

As straf sterf koning Saul   -   vanweë voortvarende ongehoorsaamheid   -   in sy eie swaard na raadpleging van Samuel se gees deur die heks van Endor, en lewer sy volk uit aan die vyand. Met sy gay-besluit het die kerkleierskap 'n swaard gesmee waarin hy kan val.

Moet ons dan nie erns maak met die op proefstelling van die gay-besluitgees nie?        (ngn)






Monday 12 October 2015

AS-besluit bring kerktoekoms in gedrang

Reaksies op die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk se ingrypende gaybesluit (DB,09.10) is moontlik vanuit verskillende invalshoeke. Myne is Skrifgesag. Dié besluit is in direkte oorenstemming met vroeëre Bybel-uitdagende AS-besluite oor die duiwel, evolusieleer, maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks.

In elk van hierdie voorbeelde word die Skrifgesag onbeskroomd uitgedaag. Die Bybelse gesag word toenemend deur die NG Kerkleierskap bevraagteken. Die AS se gaybesluit is die soveelste voorbeeld van menslike gesag plaasvervangend van Bybelse gesag.

Die AS se onvoorwaardelike aanvaarding van gay lidmate en  -predikante op die kansels, weerspieël die voortgesette aftakeling van die Woordgesag. Die onvoorwaardelike aanvaarding van die Skrifgesag as reddingsbrug, na die reddende genade van God, word  ook daarmee vernietig deur die aanmoediging van Skrif-ongehoorsaamheid.

Eeuelank was die Bybel die ontwyfelbare "handleiding" waarvolgens die "spelreëls" vir die "kerkspel" bepaal is. Plaasvervangend bepaal die AS nou sy eie kerklike spelreëls en skep daardeur 'n totaal getransformeerde kerkspel.

In die AS en NG Kerkleierskap se jongste opmars na die omverwerping van Skrifgesag vind fokusverskuiwing plaas   -   vanaf Skrifontkenning as kernaangeleentheid   -   na die uitbundige vreugde van hulle wat die Bybelse gesag uitdagend oorwin het.

Die AS se gaybesluit konfronteer NG Kerklidmate met 'n keuse: aanvaar steeds die "Sola Scriptura"-beginsel (slegs God se Woord), óf verwerp dit. In praktyk beteken dit voortgesette lidmaatskap van 'n Bybeluitdagende kerkbedeling, óf om daaruit pad te gee. So bring die NG Kerkleiers se besluitneming dié kerk se toekoms in gedrang. 










Sunday 11 October 2015

Getransformeerde gees lei NGK-leierskap

Sal God se Gees 'n mens lei om téén Sy verordeninge in besluite te neem en daarvolgens te handel? Beslis nie! Dan móét die Algemene Sinode en die NGK-leierskap mos deur 'n vreemde gees gelei word wanneer hulle besluite neem   -   soos hul jongste gaybesluit   -   wat direk met die Bybel bots.

Dit bring die twee interpretatiewe omgangswyses met die Bybel na vore. Die meganiese interpretasie aanvaar die Bybel as Goddelik geïnspireerde Woord. Die organiese interpretasie beweer die Bybel is bloot mensewoorde oor God en Sy skepping.

Baie duidelik het daar in onlangse jare by die NGK-leierskap 'n interpretasieskuif vanaf eersgenoemde na laasgenoemde plaasgevind. Dit impliseer die aanvaarding van die mens as Bybelouteur, en nie God se Gees nie; dat die mens die gesagsbron van die Bybel is, en nie God nie.

Ons het vandag te make met 'n kerkleierskap waarvan die gees wat hulle lei, baie ernstig bevraagteken moet word. Hulle besluite dwing ons daartoe. Die AS-besluit wat die bestaan van Satan bevraagteken, maak Christus   -   wat getuig het van Sy versoeking deur Satan   -   tot leuenaar. Watter gees het die AS hiertoe gelei?

AS-besluite oor die evolusieleer, twyfel oor die maagdelike geboorte en opstanding van Christus, homoseksualisme, voorhuwelikse saamwoon en  -seks   -   direk in botsing met die Skrif   -   is die vrugte van dié vreemde gees.

Die NGK-leierskap word gelei deur 'n getransformeerde gees. Kenmerke hiervan is kerklike verdeeldheid, spanning, kerkverlating, onverdraagsaamheid en beskuldigende taalgebruik   -   soos fundamentalisties, rassisties, liefdeloos, ens.   -   teenoor diegene wat verskil. Onder ANC-beheer is transformasie bloot 'n eufemisme vir rewolusie. Beteken 'n transformasiegees, in kerklike konteks, nie maar dieselfde nie   -   'n kerklik rewolusionêre gees?

Die kerk-in-transformasie moet die eerlike weg volg en al dié Skrifgedeeltes verwyder waaromtrent hy verskil   -   soos die sewe gedeeltes wat na homoseksueles verwys   -   en sy eie Bybel saamstel, en dié selfgemaakte "evangelie" aan sy agterblywende lidmate verkondig wat nog nie die NG Kerk verlaat het nie.






Wednesday 7 October 2015

Die gemeenskap se belange weeg swaarder

Hou selfoontorings in woonbuurtes lewensbedreigende gesondheidsgevare in? Te oordeel aan die oprigting van sulke torings op, byvoorbeeld, kerk-  en skoolpersele, is die antwoord nee. Geoordeel op grond van navorsing, is die antwoord ja. Omstredenheid kenmerk dié torings.

Teenoor aansprake van die gevaarvryheid van selfoontorings, vind navorsers in lande soos Duitsland, Frankryk, Oostenryk, Israel, Indië en Brasilië egter negatiewe uitwerkings daarvan in die vorm van bors-, prostaat-, long-, nier-, lewer-  en bloedkanker.

Verdere bevindings sluit in selweefselbeskadiging, hormonale wanbalans, onvrugbaarheid, genetiese afwykings, slaaploosheid, stres, breindisfunksie, Alzheimers en immuniteit- , geheue-  en hartversteurings.

Persepsies van dié toring-geassosieerde gevare beïnvloed die huismarkbedryf negatief. Volgens 'n Remax-agent daal huispryse met 20% tot 30%, en soms selfs met 35% tot 50%, in toringomgewings. 'n Eltec Properties-agent beweer voornemende kopers se belangstelling in woonhuise in sulke omgewings daal met tussen 30% en 40%.

Koop ek 'n nuwe motor, kan ek die verkoopsagent se gunstige aansprake verifieer aan die hand van motortydskrifte, gesprekke met ander motoreienaars, ens. Mag ons vra of kerke en skole, voorbeelde van instansies wat hul persele teen vergoeding vir toringoprigting verhuur, die veiligheidsaansprake van selfoonmaatskappye wel deeglik verifieer? Kan hierdie instansies, na verifiëring, gevaarvrye omgewings waarborg? En indien nie, wat dan?

'n Gemeenskap se gesondheids-  en eiendomsbelang weeg ongetwyfeld swaarder as die eng finansiële belang van 'n individuele kerk of skool.






Thursday 1 October 2015

Eensydige kritikus self ook verdag

Koot Pieterse se opmerking: "Dit wil voorkom asof T.C.Breitenbach te veel op prinse wil vertrou" (DB,01.10) vind ek, as persoon, niksseggend. Veelseggend is egter dat hy sê "die 'onkreukbare' (sy woordkeuse) Paul Kruger (was) maar lekker onder verdenking vir verdagte staatslenings, begunstiging, konsessies en aanstellings."

Waarom werp Pieterse dié verdagmakende skadu oor Kruger? Tensy Pieterse substansie aan sy verdagmaking kan verleen, beskou ek sy bewering as moedswilige Afrikaner-onvriendelikheid. Moenie dit by verdagmaking laat nie, maar voer die nodige historiese bewyse aan, anders kom die moontlikheid van karakterskending na vore.

Veelseggend is ook dat Pieterse wel op Kruger reageer, maar nie op my vraag na die onomkoopbaarheid van huidige regeringsleiers nie. Waarom alleen Kruger verdag maak en swyg oor die huidige korrupte regeringsleiers? Ek lees nêrens dat ander kultuurgroepe hul helde, selfs al is hulle korrup, verdag maak nie. Wat kan ons dus aflei van dié eensydige kritiek? Teenoor wie is Pieterse lojaal? Is sy kritiek dalk indirekte steun vir die ANC-leierskap?

Is Pieterse 'n vreemdeling in Jerusalem, totaal onbewus van die skandelike aantal aanklagte teen Zuma? Histories mag hy dalk selfs bewysaanvoerend reg hê wat Kruger betref, maar waarom 'n gerespekteerde Afrikanerheld so eensydig verdag maak? Deur sy eensydigheid van kritiek, maak Pieterse ook homself verdag.