Wednesday 27 February 2008

Probleme nie simplisties

Jan-Jan Joubert se artikel,  "Onderwys wil ontsnap uit dieptes gans verlore" (DB,13.02.2008), verwys. Hierin wys hy op twee skokkende onderwysbevindings : "'n Internasionale ondersoek waarin die gebrekkige vaardighede van ons land se kinders bevind is",  en  "'n bevinding oor (on)veiligheid in skole",  maar sê dan :  "swartgalligheid oor hierdie bevindings is oorbodig."

Vir Joubert is die onderwys  "simptomaties van 'n gemeenskap onder konstruksie."  Hierin is hy reg, maar ek meen die huidige onderwysbenadering is veel meer van 'n dekonstruktiewe aard as onder positiewe  "konstruksie". Hy erken egter dat dit tans  "nag in die onderwys is", maar sê ook  "dit was nog altyd (nag)". Hy verwys ook na  "hierdie land se gruwelike verlede...waar die regering absoluut verbind was tot minderwaardige onderrig vir mense ; hoe donkerder, hoe erger." Joubert beweer ook  "dat die onderwyssituasie in ons land nog altyd swakker was as nou."  Dit is beslis 'n aanvegbare én ongekwalifiseerde stelling wat op onverskoonbare oningeligtheid en onkunde berus.

Dit is duidelik dat Joubert die huidige en vorige onderwysbedelings met mekaar vergelyk en kwistig kritiek teen laasgenoemde probeer inbring. Een belangrike vraag is egter óf Joubert se stellings in die waarheidstoets van die onderwysverlede slaag, want dit sal bepaal of hy hom met gesag oor die onderwys uitlaat, en óf hy maar net die ANC na die mond praat om guns te wen.

Alhoewel niemand van die reg ontneem kan word om hom of haar binne 'n demokratiese bestel oor die onderwys van die dag uit te laat nie, moet ons tog onderskei tussen persoonlike menings, en uitsprake wat berus op die gesag van deskundige ondersoek.

Joubert se enkeldimensionele denkbenadering tot die onderwysproblematiek, waarin daar van simplistiese eenrigtingdenke gebruik gemaak word en wat uitmond in die vorige onderwysbedeling as enkele sondebok, ontbreek aan realisme wat alleen moontlik is deur 'n veeldimensionele denkbenadering waarvolgens daar in alle moontlike rigtings gesoek word na redes ter verklaring van die huidige onderwyskrisis.

Het Joubert homself sodanig vergewis van die komplekse redes vir die historiese verloop van ons land se onderwysgeskiedenis sodat hy bo enige twyfel tot sekere gevolgtrekkings daaromtrent kan kom, of bespiegel hy maar net?

Ek wil 'n beroep op Joubert doen om nié van ongetoetsde inligting gebruik te maak om wit Afrikaners in die modder af te trek nie.

Wednesday 20 February 2008

Kyk na oorsake van agteruitgang

Dit is interessant dat mense eerder sal fokus en reageer op sigbare simptome as op die soeke na die dieperliggende, onsigbare oorsake van sulke simptome. Vanweë hierdie ongebalanseerde benadering, deur die beklemtoning van simptome alleen, het die kritiese reaksie op laasgenoemde byna al tot 'n simptomatologie   -   'n ondersoekende aksentuering van simptome   -   ontwikkel. Daarteenoor is 'n etiologiese benadering   -   wat die oorsake ondersoek   -   veel meer konstruktief en produktief.

Eergister nog was die simptome waarop ons ywerig gereageer het die wapenskandaal, vervallende gesondheidsdienste, die parlementêre reisskandaal, die vuurwapenwet en 'n ellelange lys van korrupsie en onbevoegdheid van diegene wat ons as burgerlike samelewing regeer.

Net gister was ons nog besig om vurig te reageer op die onderwys-  en Eskom-krisis en die ontbinding van die Skerpioene toe die skole-eedaflegging   -   'n verdere simptoom   -   sy opwagting maak.

Dit is duidelik dat dié simptome in frekwensie én momentum toeneem. Diegene met die nodige insigte kan ons help deur al hierdie eskalerende simptome in mekaar te pas, waardeur 'n prentjie geleidelik vorm en gestalte kan aanneem, met die doel om ons na die óórsake te lei.

Ek wil, voortydig, waag om te beweer dat die kern van ons probleme opgesluit lê in dit wat ons kultuur noem. Dit lyk vir my dat kultuurverskille (en spesifiek agterstande en kulturele ongelykhede)  een van die hoofoorsake is   -   indien nie dié oorsaak nie   -   van die huidige simptome-verskeidenheid.

Die twee hoofkulture in ons land   -   elk met sy eie subkulture   -   is onderskeidelik van Afrika-  en Europese oorsprong. Albei is, in verskillende opsigte, dominante kulture. Die Afrika-kultuur domineer getalle-gewys of kwantitatief, en die Europese kultuur domineer gehalte-gewys of kwalitatief, wanneer jy aan Suid-Afrika as 'n Westers-georiënteerde ontwikkelende land sou dink.

Wat ons egter sedert  1994  ervaar, is dat die kwantiteit-gedomineerde kultuur nou in beheer is en die erflating van die kwaliteit-dominante kultuur hopeloos onsuksesvol bestuur word as gevolg van 'n inherente historiese kultuuragterstand vanweë traer kultuurontwikkeling. Dit moet gesien word as 'n belangrike rede vir die algemene verval en agteruitgang in ons land waarvoor die ANC dikwels apartheid blameer.

Kan geloofwaardige kundiges ons dan nie adviseer oor hoe wit mense   -   'n kultureel-uitgelewerde minderheidsgroep   -   in hierdie land gaan oorleef indien sake voortdurend in trurat gaan beweeg soos wat tans die geval is nie? Vir diegene van ons met kinders oorsee, begin hul landsverlating toenemend sin te maak.

Friday 15 February 2008

'Optelsom' werk nie

Naas Viljoen se brief,  "Mense kla net, maar doen niks" (DB,11.02.2008), verwys. Hy bring op 'n insiggewende wyse dié dinge in perspektief wat in baie van ons se harte leef, dog waaromtrent ons ietwat huiwerig is om dit só openlik te stel.

Soos wat ek Viljoen vertolk, spreek hy die spanningsveld aan tussen die pole van magteloosheid :  "Al wat ons daagliks daaraan doen, is om die klagstaat teen die regering...te verfyn...'n soort bevrydende oefening" , en hoop, wanneer hy vra : "Wat van boodskappe van hoop?"

Dit is duidelik dat hy 'n navolgenswaardige keuse maak om nié deel van die probleem te wees nie, maar wel deel van die oplossing. Dit blyk uit sy aktuele vraag : "Hoekom bly sit ons soos 'n spul gehipnotiseerde muise voor die ANC?"  Natuurlik is dit bloot normaal dat elke mens daarna streef om 'n toestand van magteloosheid te omskep in een van bevrydende hoop.

Sy logika blyk foutloos wanneer hy sê : "Breek dié party (ANC) se oordonderende politieke mag in die land."  Sy strategie hiertoe is  "om saam met die 'beter fragment' 'n nuwe politieke bestel te vestig. Dit is 'n eenvoudige politieke optelsom."  Die vraag is egter :  Op watter grondliggende aannames berus hierdie stelling?

Daar is drie redes waarom ek aan Viljoen se strategie twyfel. Eerstens verwys hy na die  'beter fragment'  van die ANC   -   die  "doves"  teenoor die  "hawks"  binne dié party. Op 'n vasteland soos Afrika, waar die wet van  "a fight for existence and the survival of the fittest"  dikwels stééds geld, kan ek nie aan gevalle dink waar samewerking tussen gematigde swart en wit mense suid van die Sahara die toets van die tyd deurstaan het nie.

Tweedens dink ek dat die verskynsel van swart solidariteit   -   gevoed deur 'n sterk anti-koloniale en anti-blanke sentiment en met die apartheidsalbatros steeds om ons nek   -   uiteindelik die oorhand sal kry op 'n kontinent waarvan daar al gesê is :  Afrika het nié wit kinders nie!

Derdens impliseer Viljoen se oplossing 'n vorm van magsdeling tussen wit en swart. Wat dit betref, het die De Klerk-bewind voldoende bewys dat ook sódanige magsdeling 'n blote illusie is en tot mislukking gedoem is. So, watter legitiem-lewensvatbare opsies bly oor om die ANC se oordonderende mag te breek? Mag Viljoen egter korrek en ek verkeerd bewys word.

Wednesday 13 February 2008

Veilige skole is noodsaaklik

Die onlangse tyd is gekenmerk deur verskeie berigte oor die onveiligheid van skole. Uit die veelseggende opskrifte van dié berigte   -   "SA  skole is die gevaarlikste ter wêreld, toon studie" (DB,06.02.2008),  "Onveilige skole 'n rede vir swak prestasies" (DB,07.02.2008) en  "Departement ondersoek nie geweld by skool" (DB,08.02.200)   -   kan daar heelwat afleidings gemaak word.

Een van die vele basiese behoeftes van enige mens, is die behoefte aan veiligheid. Dié behoefte vind juis uitdrukking in staatsinstellings soos die weermag, polisiediens, regspleging en korrektiewe dienste met die oog op die gelyke beveiliging van alle landsburgers onder 'n gemeenskaplike grondwet. Hierdie burgerlike aanspraak op beskermende beveiliging geld ook vir die nasionale skolekonteks.

Suksesvolle opvoeding en onderwys berus op 'n komplekse reeks voorwaardes waaraan gelyktydig en / of opeenvolgend voldoen moet word. In moderne, vooruitstrewende samelewings is hierdie voorwaardes reeds dermate geïdentifiseer en geïmplementeer sodat onderwys ontwikkel het tot die ruggraat van wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en algemene welvaartskepping. Knel die onderwys, en dit gaan gepaard met agteruitgang en 'n daling in lewenspeil.

Net soos wat navorsing en opeenvolgende studies die primêre posisie van moedertaalonderwys in die maksimale ontsluiting van leerder-potensiaal reeds oortuigend uitgewys het, net so is dit ook die geval wat betref 'n veilige onderrig-  en leeromgewing. Daar móét voldoen word aan leerders se behoefte aan veiligheid en geborgenheid.

Dit is jammer dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se bekendmaking van die resultate van sy ondersoek na geweld en wanorde in Suid-Afrikaanse skole nie terselfdertyd die vinger op die wond lé deur óók te sê presies wátter skole en  -omgewings skuldig is aan die skep van onveilige toestande nie.

By 'n gebrek hieraan word die indruk gewek dat álle skole dien as agente vir  "'n patroon van geweld en wanorde" (DB, 06.02.2008).

Verskeie interne sowel as eksterne faktore dra by tot skole as veilige óf onveilige ruimtes. Leerders se reg op onderwys is die plig van owerheidsinstansies wat daarin moet voorsien. Volwassenes in 'n spanverband   -   soos die nasionale en provinsiale ministers van onderwys, departementele amptenare, skoolhoofde, onderwysers, ouers en gemeenskapsleiers   -   dra die primêre verantwoordelikheid vir die skepping van leerder-vriendelike skoolomgewings.

Dit is duidelik dat die geïmplementeerde ANC-denke en  -beleid nié te vertrou is met die onderwys én toekoms van ons kinders nie. Dit word toenemend duidelik dat ons al hoe swakker vergelyk met die onderwysstandaarde van ander lande. Ook ons tersiêre instellings word nadelig hierdeur geraak.

Tuesday 12 February 2008

Leuens lei tot rampspoed

Anriëtte Schoeman (DB,30.01 en 31.01.2008) het een van die jongste slagoffers geword van die reeds algemeen gevestigde en suksesvolle gebruikmaking van die leuen. Háár verontregting is slegs één uitvloeisel van dié tydsgewrig in ons land wat, soos 'n vernietigende kankergewas, verwoestend voortwoed in ons samelewing.

Soos wat die meeste van ons weet, bestaan daar reeds 'n legio waarheidsverwronge manifestasies van die leuen, soos die huidige Eskom-krisis waarmee ons daagliks moet saamleef. Dit is kommerwekkend hoedat die leuen met toenemende sukses van algemene korrupsie, as een van sy hoofagente, gebruik maak. Korrupsie, rassisme, geweld, diefstal, moord en doodslag spring op soos paddastoele vanuit die duistere ondergrondse teelaarde van die leuen in sy gewelddadige aanslag op die waarheid.

Só word ons kinders as die toekomstige geslag in 'n leuen-besmette omgewing groot waarbinne die leuen stelselmatig tot waarheid, en waarheid tot leuen, gemaak word. Die bedoeling is juis dat hulle, as gevolg van 'n gebrek aan waarheidsuurstof, moet versmoor en uiteindelik 'n waarheidsdood moet sterf. Die leuen wil hulle lei tot 'n waarheid-ontheemde nuwe geslag.

Elkeen wat hom aan die kant van die waarheid skaar, moet homself afvra wat daar nóg verder agter die huidige leuen-horison skuil, want die leuenpes het rampspoedige en vernietigende gevolge.

In die soeke na 'n antwoord kan die geskiedenis van groot waarde wees. Bestudeer gerus die tragiese gebeure van die  19de  eeu in die Oos-Kaap wat histories bekend sou word as die nasionale selfmoord van die Xhosas.

Nonkwase, dogter van Umhlakaza, raadslid van hoofman Kreli, het onder die invloed van 'n toordokter en die voorvadergeeste voorspel dat op 'n sekere dag   -   17 Februarie 1857   -   'n orkaan-sterkte wind alle wit mense die see in sou waai indien haar mense al hul vee sou doodmaak en hul oeste verniel. Hierdie leuen is as waarheid aanvaar, geglo en met tragiese gevolge geïmplementeer. Nagenoeg  60 000  Xhosas het van honger omgekom. Uit hierdie historiese treurspel blyk die verband tussen leuen en ramspoed duidelik.

Watter verdere rampspoed kan agter die teenswoordige leuen-horison geantisipeer word as gevolg van die voortwoekering van die leuen in ons dag? Iets soos 'n bloedig-gedestabiliseerde Kenia? Kan ons werklik nog aanspraak maak op die verhewe benaming van 'n demokrasie, of het ons reeds in 'n leuenagtige demonekrasie ontaard?