Wednesday 30 October 2013

Verskil Boeremag en EFF wesenlik?

Hoewel nie in alle opsigte identies nie, vind ek 'n interessante parallel tussen die beplande oogmerke van die pas veroordeelde Boeremaglede (DB,30.10) en Julius Malema se "Economic Freedom Fighters (EFF)" en húl beplande oogmerke. Alhoewel van teenoorgestelde aard wat elkeen se beoogde uitkoms betref   -   anti-swart versus anti-wit   -   vind ek 'n merkwaardige ooreenkoms tussen dié twee groeperinge se direk teenoorstaande ideale.

Onder die opskrif, "Civil war talk from the EFF", skryf Phillip Ronbeck in die "Financial Mail" van 25-30 Oktober 2013 dat, met die stigting van Malema se EFF-party, verskeie rassisties-haatgevulde baniere en plakkate   -   met sterk anti-wit sentimente   -   vertoon is, soos; "To be a revolutionary you have to be inspired by hatred and bloodshed", en "Honeymoon is over for whites." Malema sê verder: "white people must learn to share...then we can kiss. Black man and white women...(and) the EFF's biggest enemy is white minority capital."

Ronbeck beweer dat, te oordeel aan hierdie en soortgelyke uitsprake, EFF-ondersteuners ongetwyfeld wittes haat, en vra dan, sou dié party aan bewind kom, óf grootskaalse menseregte-geweld gepleeg sal word soos om Afrikaners in konsentrasiekampe te plaas en/of 'n Kristallnacht teen hulle van stapel te stuur? En sal ander minderheidsgroepe hierná geteiken word? is Ronbeck se verdere vraag.

My eie vraag is óf daar in essensie 'n wesenlike verskil is tussen die geheime onkonstitusionele Boeremag, enersyds, en die openlik uitgesproke "konstitusionele" EFF, andersyds, wat betref hul ingesteldheid teenoor die verskillende rassegroepe in S.A. en hul toekomsvisie vir elkeen van dié groepe. Die Boeremag het/wou die ANC se voor-1994 metodes en strategie, wat nou onkonstitusioneel is, óók vir bevryding gebruik. Dit wil egter lyk asof dieselfde grondwet Malema toelaat om sy haatgevulde partypolitieke visie openlik te propageer. Is sy aanhitsende optrede tot rewolusie dan toelaatbaar deur die grondwet, of óók strafbaar? (ngn)






Friday 25 October 2013

Lidmate moet krities let op kerkbesluite

Die omstrede 2011-NG Kerkbesluit oor Satan, waarvolgens predikante en lidmate nou sélf mag besluit oor sy bestaan as persoon al dan nie, is reeds welbekend. Hiermee maak dié kerk Bybelse waarhede tot keuse-aangeleentheid, 'n dwaalleer-simptoom van 'n valse kerk wat tot verdeeldheid lei.

Volgens dr. Paul M.Elliott van "Teaching the World Ministries", glo 52% "American Evangelicals" en 66% Baptiste nie aan Satan as 'n persoon nie. Dit is 'n duidelike verwerping van wat die Bybel ons van Satan leer. Dit blyk dat die NG Kerk dié neiging navolg in ook sy bewustelik moedswillige ontkenning (2 Pet.3:5) van dié Bybelse waarheid.

Maar watter getuienis lewer die Bybel sélf oor Satan? Deur God geskape, beklee Satan aanvanklik 'n uitsonderlike hemelse posisie. Vanweë sy hoogmoed en opstand teen God, word hy uit die hemel gewerp en word hy vyand nommer een van God, Sy Woord en Sy kinders.

Bybelname vir Satan verskaf vyf kategorieë van inligting oor hom: 1. sy ontstaan, 2. sy wesensnatuur, 3. as vernietiger, 4. vriend van, en heerser oor die wêreld, en 5. die aartsvyand van Christengelowiges. Jesaja (14:12-17) en Esegiël (28:11-19) verskaf simbolies-indirekte verwysings na Satan se ontstaan, hemelse status, hoogmoed, rebellie, val en verdoeming soos wat dit ook aansluiting vind by Openbaring (12:7-12) en Jesus self (Luk.10:18).

Die Bybel verwys 55 keer na Satan as 'n God-opponerende wese; die Nuwe Testament 34 keer na hom as duiwel en leuenaar. Hy word ook genoem: die Bose, slang, moordenaar, draak, Abaddon/Apollion, dief, god en owerste van die wêreld/lug, Beëlsebul (duiwelaanvoerder) en misleier/verleier.

Ongeag al hierdie Bybelse waarheidsgetuienis tot hul beskikking, verantwoord kerkleiers en sinodes nie meer hul besluite daaraan nie. Aan geloofswaarhede word 'n opsionele keuse-karakter verleen. Meelewende lidmate moet wakker skrik en krities daarop let óf kerklike besluitneming wel nog Bybelfundeerd is.






Monday 21 October 2013

Wat bepaal ons respek vir die kerk?

Ilse Bigalke se Brandpunt, "NG Kerk dwing só nie respek af" (DB,17.10), impliseer die vraag: Wie se respek? ,met die antwoord: Die wêreld daarbuite s'n. Waarom respekteer die wêreld dan nie dié kerk volgens Bigalke nie?

Die sekulêre media versterk graag die gedagte by kerklidmate dat die kerk hom vir oorlewing na die wêreld moet skik. Die noodsaaklike onderskeiding tussen kerk en wêreld vervaag algaande relativerend; veral die kerk se unieke en primêre taak waartoe hy geroepe is. Voorbeeld: beide kerk en wêreld word gekonfronteer deur mense se materiële armoede. Hierdie tipe armoedeverligting is egter nié die kerk se primêre taak nie, maar is gestuur om in mense se geestelike armoede    -   in hul honger en dors na God, Sy Woord en reddende genade   -   te voorsien. Materiële armoedeverligting is sekondêr ondergeskik hieraan.

Die kerk word vandag, openlik én subtiel, uitgedaag tot die omruiling van sy primêre (vertikaal Goddelike) en sekondêre (horisontaal menslike) roeping ten einde dienstig te word aan die wêreld. Die wêreld verloor sy (pseudo-)respek vir kerke wat hiertoe weier. Dié gepolariseerde kerk (God)-wêreld (Satan)-verhouding is een van intense spanning wat ontlont moet word deur kerk (tese) en wêreld (antitese) "versoenend" tot 'n wêreldkerk (sintese) te verenig. Hiervan begryp joernaliste, soos Bigalke, waarskynlik bloedweinig.

Met haar verwysing na die kerk se "ruggraatloosheid" (wat nie die kerkspel heeltemal volgens wêreldreëls wil speel nie); dat die kerk "ongrondwetlik" optree en 'n "bloedneus' in die konstitusionele hof sal kry, kyk Bigalke vanuit 'n wêreldlik eensydig kritiese perspektief na die kerk van Jesus Christus.

Op die vraag: Wat bepaal ons respek vir die kerk? ,antwoord ons: Die absolute gehoorsaming van God en die waarheid van Sy onfeilbare Woord, en nié aan mens en wêreld nie. Slegs dit dwing ware respek af vir die kerk; nie pseudo-respek vir 'n wêreldnavolgende kerk nie.





Thursday 17 October 2013

Satan en die nuwe NGK-godsdiensgietvorm

In haar "Los liewer die duiwelse debatte" (DB,16.10) sê Mariska Spoormaker vir die NG Kerk en sy leierskap: "Los jul duiwelse debatte en gaan saai eerder Goddelike liefde in grondvlak-gemeenskapswerk." Benewens die satiriese aard van haar skrywe, wonder 'n mens deur watter gesagsbasis haar voorstel onderlê word.

Sommige teoloë en kerkleiers se ontkenning van Satan as 'n persoon is 'n dodelike dolksteek na die hart van die kerk, 'n geloofsinstelling gevestig op belydenisskrifte in ooreenstemming met die waarheid van die Woord van God. Die Bybel vertel ons van Satan: sy opstand teen God en uitwerping uit die hemel; van gevalle engele (nou demoniese wesens) wat hom gevolg het; van Satan as aanklaer van die gelowiges voor God; van die finale oordeel wanneer hy in die poel van vuur gewerp sal word. Hierdie voorbeelde getuig almal van die handelinge deur, van en met 'n "persoon" en nié 'n vae, bose entiteit nie. 

Sommige teoloë en kerkleiers beweer dat Satan geen persoon is nie, maar wel 'n bewussynsmatig mensbedinkte entiteit. Hieroor glimlag Satan selftevrede. Meer nog: hiermee word 'n satanies verdagmakende skadu oor die Woord van God sowel as Jesus gewerp.

Indien Satan, as Lucifer, voorheen in die hemel dan wel 'n persoon was, waarom dan nie ná sy val nog steeds 'n persoon nie? Jesus self getuig ondubbelsinnig van Satan. Ontkenning van Satan as persoon maak nie net alleen die Bybel tot leuenaar nie, maar ook Christus. Hoe kry kerkleiers dit reg om te bely: "U woord is die waarheid" (Joh.17:17) en dan, daarnaas én gelykstaande daaraan, hul eie "waarhede" daaromtrent in sinodale besluitneming te formuleer? Dit is mos verrraderlike huigelary!

Kerkleiers blyk tans besig te wees om, aan die hand van kerklike transformasie, godsdiens binne die NG Kerk in 'n nuwe "ons-weet-beter-as-die-Bybelouteur-self" vorm te giet.




Wednesday 16 October 2013

Kaptein verdwyn, maar skip vaar voort

Ek gee dr.Fourie   -   "Rektor praat vir héle UV" (VB,15/10/2013)   -   volkome gelyk wanneer hy sê: "Prof. Jansen probeer die hele (afgelope taal-) debakel oor die boeg van spraakvryheid gooi en dan word apartheid en rassisme aan die hare bygesleep. Almal wat hom kritiseer, is skielik hierdie 'kru en onverdraagsame' mense, Afrikaners, rassiste!" Fourie plaas ongetwyfeld die vinger op die wond.

Indien ons sou vra na die grootste gemene deler in die meeste van prof. Jansen se uitsprake, sal ons waarskynlik vind dat dit   -   presies soos wat Fourie dit óók raaksien en uitwys   -   handel oor die Afrikaners, dog telkens in 'n ongunstige lig gestel. 

Om dié stelling te staaf, hoef daar nie ver en wyd na voorbeelde gesoek te word nie. Ek verwys slegs na twee. Bekom gerus en lees die resensie wat in "Rapport" (2009) verskyn het oor sy boek getitel "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past". Lees gerus ook die UV-module, UFS 101 geïnisieer deur prof. Jansen, en vergewis uself oor die aard en strekking van die inhoud daarvan.

Hier in die Oos-Kaap geniet die UV (sekondêr?) nuusdekking vanweë prof. Jansen (primêr?) se uitsprake. Behoort dit nie andersom te wees nie? Behoort prof. Jansen (sekondêr) nie veel eerder nuusdekking te geniet vanweë UV-prestasies (primêr) onder sy rektorskap nie? 

Wie van die UV of prof. Jansen is, op die lange duur, die waardevolste en onmisbaarste in landsbelang? 'n Skeepskaptein verlaat sy skip by aftrede, dog die skip vaar steeds voort en vervoer sy vrag sonder hom.




Monday 14 October 2013

Aan wie wil NG Kerk homself "weggee"?

Meer paslik kon Neels Jackson seker nie die huidige gebeure in die NG Kerk beskryf het as met sy beeld van dié kerk as 'n skip wat besig is om te draai   -   " 'n diepliggende omkeer by die NG Kerk...waarin die kerk homself wil 'weggee' "(DB,14.10)   -   en só van (geïmpliseerde) rigting en bestemming wil verander nie.

Op sy verhoorafwagtende skeepsreis na Rome, waarsku Paulus die skeepskaptein en bemanning   -   vanweë vooruitgesiene ramp, skade en lewensverlies   -   om nié die reis voort te sit nie. Die stuurman en skeepseienaar word egter méér vertrou as Paulus en vaar die storm in om daarbinne te vergaan (Hand.27:9-11). Op soortgelyke wyse laat die huidige NG Kerk-"skeepslui" hulle ook nie waarsku teen die toenemende inskeping van sekulêre vrag op dié skip nie. Goedbedoelde en tydige waarskuwings, soos in Paulus se geval, word afgemaak as fundamentalisties, liefdeloos en selfs rassisties.

Dit is so dat Christus Sy Kerk na die wêreld stuur om hulle wat vir Sy Koninkryk bestem is, daarheen te lei. Hy waarsku egter teen die misleiding van wolwe in skaapsklere wat Sy kudde wil verniel. Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis spel daarom juis ondubbelsinnig die só noodsaaklike kenmerke van die valse kerk teenoor die ware kerk duidelik uit vir lidmate van dié kerk.

Die omdraaibeweging van 'n kerk wat homself wil "weggee", is rede tot groot kommer wanneer in gedagte gehou word dat dié kerk   -   wat die Bybel betref   -   die skeppingsverhaal toenemend bevraagteken en aan evolusie wil toedig; beweer dat die Bybel slegs maar net mense se woorde oor God is (organiese vertolking) en nié deur God Self geïnspireer is nie (meganiese interpretasie); wat Jesus se uitsprake oor die bestaan van Satan verwerp; wat nié die Bybelse uitsprake oor die "gay"-verskynsel meer wil aanvaar nie; en so kan verdere voorbeelde vermeerder word. Aan wie wil dié kerk homself "diepliggend weggee"?






Tuesday 8 October 2013

Gaan Jansentaktiek slaag, óf boemerang?

Prof. Jonathan Jansen is bekend vir sy omstrede openbare uitsprake. Sy jongste uitlating dat Afrikaanse skole   -   en Afrikaans as onderrigmedium   -   moet verdwyn (DB,02.10), is slegs een van vele; almal met 'n gemeenskaplike doel. Dat Jansen 'n vendetta teen wit Afrikaners voer, is reeds oorbekend. Om die geheue hieromtrent te verfris, kan die resensie van sy boek, "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past" (2009), wat in 2009 in "Rapport" verskyn het, herlees word.

Dié boek bied insig in Jansen se siening van, en benadering tot, wit Afrikaners wat hy brandmerk as "onredbare rassiste". Met 'n reeds grootliks getransformeerde openbare bestel, verskans Afrikanernasionalisme   -   volgens Jansen   -   sigself nog in wit kerke, skole en universiteite waar Afrikaners hul ras, taal en kultuur verdedig.

Jansen se sentrale vraag is hóé die "oorwonne" wit Afrikanergemeenskap beweeg kan word om versetloos "tuis te voel" binne die SA-transformasie-agenda. Hy gebruik sy ervaring by die UP as gevallestudie van hoe dit gedoen kan/moet word. Jansen sien die Afrikanerkultuur as onhervormbaar. Direkte konfrontasie daarmee moet egter vermy word. Subtiliteit is die wagwoord, daarom moet elemente van dié kultuur geïdentifiseer word wat as instrumente vir taal-, denk-, kultuur-  en ideologiese transformasie kan dien. 

Jansen sien Afrikaans as 'n instrument om ander buite te hou ter wille van wit bevoorregting. Swart studente, met 'n voorkeur vir Engels, vloei skole en universiteite in groot getalle binne. Dié demografiese verskuiwing verander dié kontekstuele spelreëls dramaties   -   'n groter demokratiese aandrang om Engels. Vir Afrikaners, as "voorwaardelike pragmatiste", is standaarde en bepaalde waardes baie belangrik, dus : behou eersgenoemde in ruil vir Engels as onderrigmedium. Só kan Afrikaners se lojaliteit behou, én hulle steeds dieper die transformasiekamp binne gedryf word.

'n Belangrike vraag is : sal Jansen uiteindelik met sy "Jakkals nooi vir Gansie"-taktiek slaag, óf die teendeel bereik   -   groter taal-, kultuur-, rasse-  en nasionale spanning en polarisasie teweegbring?         (ngn)








Wednesday 2 October 2013

Slegs die realiste sal oorleef

Ná vyf jaar besoek ons weer familie in Limpopo, 'n reis wat ons aan die platteland van vyf provinsies blootstel. Opsigtelik veel het op ons roete verander. Vanweë naamsveranderinge ry ons by Bloemfontein by 'n afrit verby wat ons na ons oornagvriende moes neem. Dié afrit heet nou Walter Sisulu; ons weet dit nie. Nog afritname het verander na Nelson Mandela, Raymond Mhlaba, Bram Fischer en Kenneth Kaunda, prominente kommunistiese en/of sosialistiese leiers.

Dié name, ideologies geassosieer met sosialisme-kommunisme, sou ook veel kon verklaar van ons waarnemings, veral ten opsigte van die kleiner plattelandse dorpies en die toestand waarin hulle tans verkeer. Hophuis-woonbuurtes het oornag soos paddastoele verrys waarvan die meeste van die inwoners waarskynlik werkloos is. Wat is 'n kind   -   komende uit dié massabehuising,  -werkloosheid,  -aanwas en  -onderwys   -   se kanse op 'n gelukkige en suksesvolle toekoms? 

Ons ry deur een van die vele klein plattelandse dorpies. Die tennisbane is met bossies en graspolle oorgroei. Dieselfde geld waarskynlik ook die vroeëre rugbyvelde, atletiekbane, golfbane asook begraafplase. Die vroeëre sportkultuur en  -infrastruktuur lyk tot niet, waarskynlik vanweë blanke ontvolking vanweë regstellende aksie. Wat het geword van professionele inwoners soos mediese dokters, verpleegpersoneel, onderwysers, predikante, polisie, bank-  en poskantoorpersoneel en munisipale amptenare? Die spore van regstellende aksie is hier duidelik te sien; 'n veranderde kulturele leefwyse is die nuwe maatstaf.

Die dorpsdam van my vrou se grootworddorp is dolleeg; 'n waterkrisis dreig. Geen voorafbeplanning is gedoen nie. Geboue lyk erg verwaarloos. Meestal bejaardes, en kwesbare weduwees, woon nog daar. Hoe lank nog voordat voedselproduserende boere die handdoek ingooi, hul plase verruil vir kusdorpe en hul kinders oorsee 'n heenkome gaan soek?

In hierdie duidelik plattelandse verval is daar nie plek vir óf die optimis (die glas is halfvol) óf die pessimis (die glas is halfleeg) nie, maar alleen vir die realis. Slegs die realiste sal oorleef.