Wednesday 13 June 2012

Belhar 'n hoër prioriteit as NGK-lidmate

Chris van Wyk se "Belydenis van Belhar taal van versoening" (DB,13.06) verwys. Die keuse wat hy, as moderator van die Oos-Kaapse streeksinode,  hierin uitoefen om te antwoord op die omvattende Belhar-aangeleentheid, ontgaan nie die aandag nie.

Van Wyk verskaf inleidend 'n opsommende relaas van die werk verrig deur dié sinodesitting. Wanneer hy die Belharbelydenis (BB) daarby betrek, vind hy dit baie belangrik om soos volg aansluiting te vind by Ronel Snyman (DB,12.06) wanneer hy sê: "Die klem van die Belydenis van Belhar op reg en regverdigheid is presies wat Ronel Snyman van Despatch vra... ' Vergelding bring niks positiefs nie'. "  Snyman verwys na die moord op die Ugie-vrou, plaasmoorde en diefstal as skynredes vir vergelding deur te impliseer dat vergeldende aanvalle op wittes niks positiefs bring nie. Van Wyk moet verduidelik hoedat hy 'n opmerking, gemaak binne die plaasmoorde-konteks, oordragtelik van toepassing kan maak op die BB. Dit lyk na moedswilligheid, want hoe kan teenkanting teen die BB vertolk word as vergelding?

Opvallend is ook dat my brief, "Die gemeente dra, beskerm die waarheid" (DB,12.06), direk langs Snyman se brief in DB verskyn. Daarin het ek verwys na die verdeeldheid tussen NGK-lidmate oor die BB, versteuring van verhoudinge tussen lidmate onderling en selfs met leraars, destabilisering van gemeentelewens, reaksies wat van ontevredenes mag uitgaan, dat 'n belydenis alleen (sonder God) nie 'n "stukkende land" kan genees nie, en dat leraars se vooraf stemming (en lidmate eers daarná) deur oningeligtes as 'n anomalie gesien word   -   alles dinge in direkte aansluiting by BB en die sinodale aanvaarding daarvan, dog hieroor swyg Van Wyk.

Ek vind Van Wyk se nie-verwysing na enige van die voorgemelde as buitengewoon vreemd, indien nie verontrustend. Kan BB dalk vir hom 'n hoër prioriteit as NGK-lidmate wees?




Die gemeente dra en beskerm die waarheid

Die Oos-Kaapse sinodesitting is verby. Wat die Belharbelydenis betref, word gerapporteer: "Die Sinode ontvang die Belydenis van Belhar as 'n geskenk uit God se hand, om God se stem vir ons stukkende land te wees" (DB,07.06) met oorweldigende steun waaroor die moderator van die algemene sinode "baie, baie dankbaar" was.

Vir geruime tyd reeds is dit duidelik dat NGK-lidmate verdeeld is oor dié belydenis. Sodanige verskil genereer agterdog en spanning wat lidmaat-lidmaatverhoudinge en lidmaat-leraarverhoudinge kan / gaan destabiliseer en gemeentelike harmonie ontwrig. Van die kant van ongelukkiges kan reaksie te wagte wees, dalk nie onmiddellik nie, maar potensieel wel later.

Een van die mees waarskynlike reaksies van beswaarde lidmate mag kom in die vorm van die weerhouding   -   gedeeltelik óf in geheel   -   van kerkbydraes wat die NG Kerk in sy achilleshiel, die geldkoffers, sal tref. Daarsonder kan gemeentes nie hul verpligtinge nakom nie. Indien dit 'n manier is om hul kerk na lidmate te laat luister, dien dit 'n doel, want dit is onwaar dat 'n belydenis alleen 'n "stukkende land" kan genees; slegs God kan.

Iemand moet tog asseblief dié kerklike anomalie verduidelik waarvolgens 'n predikant   -   ek aanvaar (verkeerdelik?) namens en in opdrag van sy gemeente, want "Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid" (1 Tim.3:15b)   -   'n stem vir of teen die Belharbelydenis kan uitbring sonder gemeentelike opdrag daartoe. NGK-kerkrade en  -lidmate gaan eers later stemgeleentheid kry oor dié belydenis nádat hul dominees reeds gestem het. Is dit dan nie om die kar voor die perde te span nie? Daar moet tog 'n verklaring hiervoor wees. Sal iemand ons nie asseblief met 'n verduideliking hieromtrent help nie?









Thursday 7 June 2012

"Voiceless" propageer Belharbelydenis

Ek vind prof. Piet Naudé se opmerking, "die kerk moet weer die stem word vir die 'voiceless' "   -   in die berig  "NG Kerk moet stemloses stem gee" (DB,06.06)   -   stof tot nadenke vir NG Kerklidmate. Hy kontekstualiseer hierdie "voiceless" deur te sê: "Jesus het saam met prostitute geëet en met al die verkeerde mense gemeng..." Onder "prostitute" en "verkeerde mense" verstaan ek hulle wat hulself as uitgeworpe verstotelinge op die randgebied van die samelewing bevind.

My reaksie hierop: Maar was diesulkes dan nie nog altyd deel van die Kerk se roeping en taak deur al die eeue nie? Waarom vind Naudé dié opmerking nodig, tensy hy iets anders daarmee beoog? Het die NG Kerk sy plig in dié verband versuim, of vind dit dalk aansluiting by die Belharbelydenis   -   waarvan Naudé 'n uitgesproke ondersteuner is   -   wat sê dat God "die God van die noodlydende, die arme en veronregte is...(en) dat die Kerk as eiendom van God moet staan...by die veronregtes" (die "voiceless"), met die doel van drukuitoefening op sinodegangers om dié belydenis te aanvaar?

'n Vraag in aansluiting hierby is of die "voiceless" se stemme dan nie tydens die NG Kerk se sogenaamde "Seisoen van Luister" ondervang is nie? Indien nie, waarna hét dié kerk dan wel geluister? Ek kan myself nie herinner dat enige amptelike verklaring van kerkweë al hieroor uitgereik is nie. Naudé se opmerking hou sekerlik nie hiermee verband nie. Waarmee dan? Naudé se beroep op die NG Kerk om weer die stem vir die "voiceless" te word, is 'n gemaskerde pleidooi ten einde die Belharbelydenis in die NG Kerk aanvaar te kry.








Monday 4 June 2012

Strauss se waarheid ook maar ewe verdag

Jan Strauss (DB,02.06) en Hannes Slabbert (DB,31.05) se onderskeie skrywes het betrekking. Strauss se kritiek blyk  teen Slabbert se Bybelinterpretasie gemik te wees wanneer hy sê: "Jy kan nie die denke van mense wat duisende jare gelede geleef het, gebruik om die ontstaan van die heelal te verklaar nie...(wat) verhale opgemaak het van hoe die aarde...ontstaan het."

In die voorgemelde lê die kern van hulle verskil. Vir Slabbert is die Bybel God se ontwyfelbare woorde oor/vir die mens en Sy skepping wat hy onvoorwaardelik as geïnspireerde Woord aanvaar (meganiese interpretasie). Vir Strauss is die Bybel bloot mensewoorde oor die mens en die skepping (organiese interpretasie)   -   'n geweldige verskil. Vol bravade sê Strauss vir Slabbert hy "verstaan beslis sy Bybel verkeerd".

Vandag is dit mode om die Bybel aan die felste kritiek te onderwerp en, daarteenoor, die wetenskap   -   plaasvervangend   -   aan te prys. Sommige teoloë en kerkleiers stel hierin die voorbeeld wat Strauss agterna piep soos wat de oude kwaak.

In sy eie woorde aan Slabbert gerig, kan dieselfde ook vir Strauss gesê word dat dit sy "...reg (is)  om te glo wat hy wil; dit hoef nie die waarheid te wees nie", hoewel tragies om nié die waarheid te wil glo nie. Strauss dien van die volgende kennis te neem: "So sê...Hy deur wie God alles geskep het: ...julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal...en koop oogsalf om aan julle oë te smeer sodat julle kan sien" (Openb.3:14-18).