Thursday 4 September 2003

Wat is waarheid oor taal?

Hoewel deur eeue geskei, was die Egiptenaar, Ptolemaeus, en die Pool, Copernicus, wetenskaplikes wat in die hemelliggame 'n gemeenskaplike ondersoekterrein gevind het. Gegrond op die eietydse raamwerk van teoretiese aannames, het albei die "sonopkoms"-verskynsel waargeneem, geïnterpreteer en uitsprake daaroor gelewer.

Volgens Ptolemaeus was die aarde die onbeweeglike middelpunt van ons sonnestelsel waaromheen die planete, insluitende die son, wentel. Daarom kon die son "opkom". Hierteenoor was die son vir Copernicus die standvastige middelpunt waaromheen die planete, insluitende die aarde, wentel. Dus kon die son nie "opkom" nie. Die waarheid is dat dit die bewegende aarde se horison is wat wegsak onder die son en só die indruk en illusie skep dat dit die son is wat "opkom".

Hoewel albei presies dieselfde verskynsel waargeneem het, was hul uitsprake botsend en teenstrydig. Ons kan aanvaar dat albei daarop aanspraak sou maak dat die eie uitspraak werklikheidsgetrou en derhalwe waarheidsverteenwoordigend was. Dit impliseer 'n waarheidskonflik. Die toetsvraag is egter : Wie van dié twee het hom op waarheidsgrond bevind?

Dit is duidelik dat Copernicus se uitspraak gegrond was op werklikheidsooreenstemmende waarheid, terwyl Ptolemaeus se stelling onderlê is deur illusie.

In die lig van die voorafgaande kan ons vra : Wat is die werklikheidsgetroue waarheid oor Afrikaans, en wat is illusie? 'n Standaardverlaging van ons taal impliseer 'n standaardverlaging van ons denke. Nie alleen sal Afrikaans sy status finaal as wetenskapstaal binne 'n aggressief-mededingende akademiese taallandskap verloor nie, maar dit plaas ons ook op 'n glybaan van beskawingsagteruitgang, omdat dit ons dan   -   deur ons verlaagde taal- en denkstatus   -   ontmagtigend strem tot vooruitgang.

Soos wat ons tot mensopheffende kultuurskepping in staat is, so is ons ook in staat tot mensdegraderende kultuurskending   -   waaronder ook taalskending.

By wie soek en vind ons die taalwaarheid   -   by die taalptolemaeusse, of by die taalcopernicusse van ons dag?