Monday 20 February 2017

Sal haatspraakaanklag teen Zuma slaag?

In haar artikel: "Die ware Jacob" (DB,06.02.10) sê me Helen Zille: "Jacob Zuma het 'n mandaat van 11 miljoen mense om te doen net wat hy wil." Regtig? Hou die SA-grondwet hom dan nie aanspreeklik vir al sy doen en late in die uitvoering daarvan nie? Zille vertolk waarskynlik maar net Zuma se kenmerkende presidensiële praktyk.

Zuma sê ook net wat hy wil en word deur niemand, in terme van die Grondwet, tot verantwoording geroep nie. So sê Zuma op 08-01-2012, tydens 'n ANC-byeenkoms in Bloemfontein, die volgende van die wit Afrikanergemeenskap: "We are going to shoot them...they are going to run...You are a Boer...Shoot the Boer...the cabinet will shoot them", 'n oorlogsverklaring komende van die nie-versoenend polariserende staatspresident.

Is dit moontlik dat dié voorbeeldstellende Zuma-haatspraak 'n klimaat bevorderlik vir aanvalle op wittes kan skep? Ongetwyfeld, ja. Binne die eerste 14 dae van Februarie 2017 is 11 wittes grusaam op plase vermoor, uitgesonderd die wat op dorpe en in stede vermoor word.

Zuma   -   soos wat hy homself deur sy gedrag aan die SA samelewingsgemeenskap aanbied   -   is nie verenigbaar/versoenbaar met die nasionale amp wat hy onder 'n demokratiese grondwet beklee nie, beslis nie in die sin van die Engelse begrippe "compatible" en "reconcilable" nie.

Haman sterf self aan die galg wat hy vir Mordegai laat oprig het (Ester 7:10). Kla ook vir Zuma aan onder die tans voorgestelde Haatspraakwet indien dit tot wet deurgevoer sou word. Beskik die regspraak egter oor die nodige murg in sy pype om hom suksesvol aan te kla?                          (ngn)




Sunday 12 February 2017

Enkele dimensies van Zuma-staatsrede

Die dimensies van snelheid, afstand en tyd is nie net beperk tot omgewings soos dié van Wiskunde en die Fisika nie, maar ook in sosiale omgewings, soos wat pres. Jacob Zuma in sy onlangse staatsrede ons ander maal van bewus gemaak het.

Die dinamika van dié drie samehangende dimensies, of 'n gebrek daaraan, word, onder meer, duidelik in die vervoerkonteks soos dié van land-, water-, lug-  en spoorvervoer. Het dié dinamika, of liewer die gebrek daaraan, nie ook gemanifesteer in die staatspresident se futloos oninspirerende voordrag tydens sy onlangse staatsrede nie?

Afstand rek óf krimp. Soos wat Zuma en die ANC die afstand laat krimp tussen hulself en totalitêre moondhede soos Rusland en China   -   ook Kuba en die Palestyne   -   so rek hul weer die afstand tussen hulself en die westerse demokrasieë, respek vir parlementêre orde en status, asook die steun van die burgerlike samelewing.

Die snelheid waarmee dié afstandkrimping na links en  -rekking na regs geskied, blyk in momentum toe te neem na gelang Zuma die einde van sy ampstermyn nader. Radikale ekonomiese transformasie en aksies betreffende die grondkwessie gaan veral versnel word.

Linkse afstandskrimping in die rigting van rewolusionêr-ideologiese bondgenote, en voorsiene versnelde ekonomiese-  en grondtransformasie, impliseer ook die derde dimensie, naamlik tyd. Met Afrikatyd in die gedagte, word dié dimensie in onsekerheid gehul tot nadeel van ons ekonomiese groei. Oor hoe die tydsdimensie wittes in die toekoms gaan raak, word oud-pres. F.W.de Klerk aangehaal dat hy sou gesê het: "...binne 50 tot 60 jaar kan...die verdrywing van die wit minderheid in Suid-Afrika" (DB,03.02) 'n werklikheid word.                       (ngn)








Sunday 5 February 2017

Waarheidsmanipuleerders gryp vas in dorings

Niemand is gevrywaar van kritiek nie, selfs nie demokraties verkose pres. Donald Trump   -   deur die linkse media verdoem   -   nie. Gebrek aan beriggewing ook oor die Hillary Clinton-wurmblik, is 'n bewys van dié media se waarheidsmanipulasie.

Die bevordering van onwaarheid kenmerk die tydsgees, selfs binne die kerk as waarheidsbastion. Dit is my siening as Christengelowige wat in Gods Woord die suiwerste waarheidsuitsprake oor waarheid vind, 'n rol wat die wêreldmedia graag wil oorneem. Tereg sê die Skrif: "Hulle sal die waarheid nie meer wil hoor nie" (2 Tim.4:4), maar: "Wee hulle wat sleg (leuens) goed (waarheid) noem en goed (waarheid) sleg (leuens)..." (Jes.5:20).

Waarheidsmanipulasie is 'n besondere kenmerk van die Clinton-Trump presidenisiële verkiesing met Trump die skurkgemaakte en Clinton die engel. Clinton is 'n geesgenoot van Angela Merkel en Europese Parlementêre leiers, voorstanders van nasionale grensuitwissing en die beëindiging van kultureel onderskeibare volke en hul vervanging deur identiteitlose wêreldburgers in 'n eenwêreldgemeenskap. Hierteenoor skel die linkse media Trump vir sy VSA-eerste beleid.  

Ek vind die Trumpstandpunt oor grensbehoud en -beveiliging egter in ooreenstemming met Deut.32:8 wat sê: "Toe die Allerhoogste...die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal."

Die kontemporêre aanvalle op die waarheid herinner my aan wat Totius in sy gedig "Die Godsbesluit" sê: "...steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas."

Moslemmoordbendes, deur die IS-terreurorganisasie op Merkel en kie se Europa losgelaat, is van dié "dorings" waarin dié waarheidsmanipuleerders vasgryp; Trump, daarenteen, nie. En plaaslik? Is mnr.FW de Klerk se opmerking dat "...binne 50 tot 60 jaar kan...die verdrywing van die wit minderheid in Suid-Afrika" (DB,03.02) plaasvind dan nie 'n erkenning dat die NP-leierskap se voor-1994-beleid   -   om inheemse volke en -grense te ignoreer   -   nou blyk 'n vasgrype in ideologiese "dorings" te gewees het nie?