Thursday 20 December 2007

Prof. Swart sal gemis word

Prof. Marius Swart en sy vrou, Yvonne, se tragiese dood (DB,17.12.2007), is 'n gevoelige verlies vir die Afrikanervolkslewe in die algemeen en in kultuurkringe in die besonder. Hierdie tragedie konfronteer ons met die feit van ons eie sterflikheid. Wyle C.J.Langenhoven het gesê : Om dood te gaan, is nie 'n kuns nie. Die slegste van ons kry dit goed reg, maar om te lewe, is 'n kuns. Die beste van ons kry dit nie goed reg nie.

Dinge in die alledaagse leefwerklikheid manifesteer hulself in sowel 'n algemene as 'n besondere vorm. Ook die dood manifesteer hom op 'n algemene (universele) en besondere (partikuliere) wyse. Kennis en belewenis van die afsterwe van 'n vreemdeling behoort tot die algemene. Die dood van 'n familielid, vriend of goeie kennis word as besonders ervaar. So is dit ook gesteld met die afsterwe van prof. Swart en sy eggenote.

Sonder om my enigsins aan te matig as besondere vriend of kennis van hom, was daar tóg 'n onsigbare band wat ons gebind het aan 'n raamwerk van oortuigings en as medewerkers aan dieselfde saak. Desgelyks was hy gebind aan vele van sy kultuur-  en volksgenote, plaaslik sowel as landswyd. Saam het ons ons   -   tesame met ander geesgenootlike kollegas   -   tevergeefs beywer vir die behoud van die Afrikaanse taal aan die voormalige Universiteit van Port Elizabeth. Dié taal het egter verdwyn, maar nié ons geloof in die regverdigheid van die Afrikaanse taalsaak nie.

As my senior akademiese kollega was hy in vele opsigte altyd vir my iemand om na op te sien en 'n ware rolmodel. Betreklik onlangs nog het ek na 'n redevoering van hom kon luister   -   onwetend dat dit die laaste keer sou wees   -   by die geleentheid van die restourasie van die graf van 'n jong Republikeinse burger wat tydens die Anglo-Boere-oorlog in hierdie omgewing gesneuwel het. Hy sal beslis gemis word. Ons eer sy nagedagtenis en is dankbaar vir sy bydrae en 'n lewe gekenmerk deur opoffering aan dit waaraan hy passievol geglo het.

Friday 14 December 2007

Hoeveel bly oor van gelofte?

Ses dae lank het hulle een maal per dag om die stad getrek. Op die sewende dag vermag hulle die bomenslike en trek sewe maal om die stad. Toe het die stadsmuur ineengestort. Die stad is ingeneem en die vyand uitgewis. Die Ark van die Verbond, priesters en ramshorings was alles deel van dié gebeure.

Kenmerkend hiervan was : Daar was sterk leiers, 'n vaste geloof in God op pad na 'n beloofde land, 'n verbondsverhouding met die Almagtige God, uitvoering van 'n Goddelike opdrag en 'n wonderwerk wat plaasvind.

In sy wordingsjare het die Afrikanervolk besonder sterk met oud-Israel geïdentifiseer. In die dertigerjare van die negentiende eeu was ook die Voortrekkers onderweg na 'n  "beloofde land"  met Bybel, psalm-  en gesangeboek voor in die wakis, 'n vaste geloof in die God van hul voorvaders en die aflegging van 'n gelofte te Wasbank onder die leiding van Sarel Cilliers. By sewe geleenthede was daar 'n herhaling van dié gelofte en toe, op 16 Desember 1838, gebeur 'n wonderwerkende ingryping van Bo tydens die Slag van Bloedrivier.

P.J.Schoeman vertel van 'n onderhoud met 'n agterkleinkind van 'n Zoeloe-kryger wat aan dié slag deelgeneem het. Sy oupagrootjie het vertel van die  "lang manne in wit klere"  wat rondom die laer gestaan en die spiese afgekeer het. Daar was ook  "witgeklede manne te perd"  wat verhoed het dat die Zoeloes naby die wa-laer kon kom. Wié was dié manne?

Die nag van 15 Desember 1838 het 15 000 Zoeloe-krygers saamgetrek teen  464  manne in die laer. Lanterns aan sweepstokke het dié nag in digte mis 'n spookagtige voorkoms aan die laer gegee. Dié dag is later eers as Dingaansdag herdenk, toe as Geloftedag en nou as Versoeningsdag. Laasgenoemde wil die nuwe geslag bring tot humanistiese versoening met alle inwoners van die land. Die wáre betekenis is egter 'n versoening met die Allerhoogste.

Vir so lank as wat oud-Israel die Verbondsark (God se teenwoordigheid) in hul midde gedra het, vir so lank is hulle as verbondsvolk deur die Verbondsgod gedra. Hoeveel hiervan het oorgebly in ons Afrikanervolkslewe?