Monday 29 October 2007

Wil Afrikaner finaal ontmagtig

In Godsdiensperspektief (DB,24.10.2007) voeg dr. Allan Boesak 'n nuwe dimensie toe tot die kerkherenigingsdebat en betrek die begrip  "volk"  daarby. Hy sê in die kerkgeskiedenis was daar  "mense wat die dwaalweg van die kerk gesien het:"  en  "wat hul getrouheid nie gemeet het aan die skouerklop van die volk nie"   -   'n duidelike verwysing na die Afrikanervolk.

Die begrip  "volk"  is Bybels, nee, Goddelik, maar is vandag tot skeldwoord gemaak, 'n begrip waarvan kerkleiers hulself vandag ooglopend distansieer. Die Skrif sê vir ons dat God 'n God van orde is. Getrou aan Sy karakter het Hy die mensheid georden in 'n volkere-verskeidenheid. Daaruit sonder Hy vir Israel af tot Ou Testamentiese verbondsvolk vir Hom.

In die Nuwe Testamentiese bedeling bly Israel steeds Sy verbondsvolk, dog die nuwe verbond   -   met Jesus as Middelaar daarvan   -   word uitgebrei om ook gelowiges uit ander volke in te sluit. Hiermee neem Sy uitverkore volk   -   'n geestelike entiteit   -   toe in omvang om méér as net Israel in te sluit.

Met hierdie uitbreiding van God se uitverkore volk, is die Goddelike ordening van mense in 'n volkere-verskeidenheid beslis nié opgehef nie. Afsonderlike volke gaan steeds voort as skeppingsentiteite om God in hul onderskeibare volksverbande hier op aarde te dien. In Openbaring 7:9 het Johannes 'n groot menigte uit elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van die Lam sien staan. Die onveranderlike God bly getrou aan Sy skeppingshandewerk, selfs tot in die eindtyd.

Dit was nog nooit my indruk dat bruin mense tot 'n volk verenig is of wil verenig nie. 'n Unieke verstaan van volkwees, kerkvolk en volkskerk, ontbreek. Op grond van watter gesag kan Boesak dus praat van  "die dwaalweg van die kerk"?

Die Afrikanervolk het, onder meer, in 'n innige verweefdheid tussen kerkvolk en volkskerk ontstaan. Soos wat Simson, as Rigter, finaal ontmagtig is met die afsny van sy haarlokke, so moet die Afrikanervolk ook finaal ontmagtig word deur die oorname en vernietiging van sy kerk.

In sy brief,  "Hereniging gaan oor politiek" (DB,18.09.2007), haal dr. Mauritz Vorster vir professor Piet Naude soos volg aan :  "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing kan val   -  dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees." 

Kerkleiers moet, Bybelgefundeerd, sê of volkwees, en volke se godsdiensbeoefening, sonde is.

Thursday 18 October 2007

'n Teologiese revolusie

Dit lyk asof die tradisionele teologie só sterk geassosieer word met die apartheidsbedeling, dat dit uitgedien is en plek móét maak vir 'n plaasvervangende teologiese paradigma en paradigmatiese gemeenskap van teoloë. Die onderliggende aanname sou wees dat die tradisionele teologiese paradigma nié in staat is om die post-apartheid samelewingskrisis, waarin ons ons bevind   -   wat versoening, geregtigheid en kulturele grensuitwissing vereis   -   op te los nie.

Thomas Kuhn, 'n wetenskapsfilosoof, verwys na die vervanging van een paradigma met 'n ander paradigma, as revolusionêre wetenskap. Aanvanklik word 'n paradigmatiese krisis met ad hoc-maatreëls beheer. Uiteindelik word die bestaande, dog ontoereikende, paradigma, omver gewerp. Hy beskryf 'n wetenskaplike revolusie as 'n  revolusionêre breuk  met die verlede en verwys daarna as vergelykbaar met 'n  bekeringservaring. Hy wys ook op metaforiese ooreenkomste wat wetenskaplike revolusies met politieke revolusies toon. In laasgenoemde word die uitgediende vervang met die nuwe. Bestaande instellings word ingrypend verander en die oue en die nuwe is onversoenbaar met mekaar. Vanweë 'n konseptuele transformasie is weinig, indien enige, kommunikasie met mekaar moontlik.

'n Wetenskaplike revolusie kan net plaasvind indien daar 'n aanvaarbare alternatiewe paradigma beskikbaar is. Dit wil voorkom asof dr. Allan Boesak en sy gees-  en denkgenote, almal diep gewortel in die Bevrydingsteologie, baie hard werk aan só 'n alternatiewe teologiese paradigma en om dit  "bekeringswaardig" te maak vir die meerderheid van ons kerkleiers en teoloë. Hierin speel kerkhereniging geen geringe instrumentele rol nie.

Benewens vorige blyke van sy verbintenis tot Bevrydingsteologiese denke, verwys Boesak in  "Die prys is hoog, maar die einde is naby" (By tot DB,06.10.2007), na die  "revolusionêre Jesus" ,  en dat hy, Boesak, 'n  "erfgenaam van Gandhi"  is. Hy skryf ook dat hy die  "vermoë om lyding te verduur"  van Martin Luther King geleer het (en nié van Jesus Christus nie), en hy wys ook op  "die verbintenis tussen geloof en politieke verantwoordelikheid".

Dié duidelik-nuwe paradigma kan voorlopig die  "teologies-revolusionêre" paradigma genoem word. Met die potensiële aanvaarding van die Belhar-belydenis sal dit neerkom op die sanksionering van hierdie nuwe paradigma.

Met Boesak se aanstelling as 'n professor aan die Universiteit van Stellenbosch se kweekskool, kan daar gevra word of dié paradigma nie reeds die lesinglokale hier binnegedra word nie, tot watter mate en met watter gevolge?


Friday 12 October 2007

'n Geestelike eenheid

Paulus en Barnabas het só skerp van mekaar verskil dat hulle van mekaar geskei het oor Johannes (Markus) se saamgaan op hul beplande reis (Handelinge 15:39). Só verskil ook ek van die kerkleiding se interpretasie van Skriftekste ter motivering van hul voorgenome reis na kerkhereniging.

In dié verband verwys die NG Kerk-dokument,  Konsultasie oor Kerkhereniging , na besluite van die algemene sinodes van  2004  en  2007  wat op sulke Skrifgedeeltes en Bybeltekste gebaseer word. Die  2007-besluit verwys na Johannes 17 en Handelinge 6 en 15. Die sinode van  2004  se besluit berus op Johannes 17:23 en Efesiërs 4:4. Hoewel geen Skrifgeleerde (teoloog) nie, vertolk ek hierdie tekste op 'n heel ander wyse. Toegegee, elkeen kyk deur 'n bepaalde geestesbril na die Skrifwerklikheid.

Ek onderskei vier verbandhoudende  "onderdele"  in Johannes 17:23 en ek haal slegs die eerste twee aan : (1) "Ek in hulle en U in My,  (2) sodat hulle volkome een kan wees..."  "Sodat"  impliseer dat punt 1 'n voorwaarde vir punt 2 is. Volgens my mening word oorweldigende klem op punt 2 geplaas met 'n geïsoleerde vertolking wat nié punt 1 as vertrekpunt neem nie. Punt 1 dui vir my op 'n drieledige verhouding : God die Vader, in Jesus Sy Seun, in Sy volgelinge.

As die inisieerder van dié verhoudinge is die Vader allesbepalend. So, wie is die Vader dan, want, soos die Vader is, só is die Seun, en is die volgelinge óók soos die Seun (en derhalwe ook soos die Vader). Johannes 4:24 sê baie duidelik vir my  "God is Gees". God se Gees is dus in Sy Seun en derhalwe ook dieselfde Gees in Sy volgelinge, as eerste gawe van God ontvang (Romeine 8:23).

As Geesvervuldes is ons dus die Liggaam van Christus (die kerk) met Jesus as die Hoof. Saam met alle Christengelowiges oor die hele wêreld   -   van watter denominasie ook al   -   is ons deel van dié Liggaam as 'n Geestelike Liggaam.

Romeine 12:4,5  en 1 Korintiërs 12:12-31 help my om beter te begryp dat dit in die kerk nié net om die eenheid gaan nie, maar beslis ook om die verskeidenheid midde-in die eenheid. By my is daar dus nie die minste twyfel dat kerkeenheid in wese 'n Geestelike eenheid beteken waarbinne God   -   as unieke Skepper   -   ook verskeidenheid gewil het nie.

Tereg kan daar dus gevra word of die huidige Skrifgeleerde kerkherenigers besig is met uitlegkunde, óf eerder met  "inlegkunde".