Saturday 29 October 2005

Brief oor US-taalstryd wen R200

PORT ELIZABETH. – Die brief onder die opskrif “ ’n Skuif na Engelstaligheid” deur dr. T.C. Breitenbach van Port Elizabeth is vandeesweek se wenbrief.

Hier verwys die skrywer na die artikel “Aan wie behoort die US en Afrikaans?” (DB, 14/10) deur Leopold Scholtz. Hy skryf dat die voorheen eksklusiewe volkskriterium vir toelating tot die US moes plek maak vir die kontemporêre inklusiewe taalkriterium. Verder meen hy die US het dus verskuif van ’n volksinstelling na ’n taalinstelling, en tans begin dit verskuif van ’n Afrikaanstalige nasionale instelling na ’n Engelstalige instelling. Hy meen dat dit in die toekoms kan verskuif van ’n Engelstalige nasionale instelling na ’n Engelstalige internasionale instelling.

Hy skryf ook dat die gesindheid van elk van dié taalpartye implikasies inhou vir die toekoms van Afrikaans.

Die skrywer wen ’n geskenkbewys van R200 van Pick ’n Pay.

Wenners kan Yvonne Jacobs tolvry by 0 0800 600 836 bel om hul pryse op te eis.

Die menings van lesers is belangrik en die koerant moedig mense aan om op die brieweblad van hulle te laat hoor. ’n Brief van die week word elke Saterdag aangewys en alle brie­we wat die afgelope week gepubliseer is, word oorweeg. Briewe kan gestuur word na Die Burger-brieweblad, Posbus 525, Port Eli­zabeth 6000. E-pos kan gestuur word na oos@dieburger.com of fakse na 0 041 503 6138.

Tuesday 25 October 2005

'n Skuif na Engelstaligheid

In sy artikel,  "Aan wie behoort die US en Afrikaans?" (DB,14.10.2005), stel dr. Leopold Scholtz twee kritieke vrae.

Die US het, indien ek Scholtz reg begryp, verskuif vanaf 'n Afrikaner-volksgeoriënteerde instelling na 'n Afrikaans-(taal)georiënteerde instelling. Die voorheen eksklusiewe volkskriterium vir toelating tot die US moes plek maak vir die kontemporêre inklusiewe taalkriterium. Die reikwydte van die breër Afrikaanssprekende taalgemeenskap is omvangryker as dié van die enger Afrikaner-volksgemeenskap en, in die inklusiewe nuwe Suid-Afrika, geniet taal voorkeur bó volk.

Die Afrikaner-volksgemeenskap word grondwetlik-doelmatig verskraal tot slegs 'n onderdeel van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap. Binne dié denkraamwerk gaan dit om eenheid (inklusiwiteit) en nié om verskeidenheid (eksklusiwiteit) nie. Die US het dus verskuif vanaf 'n volksinstelling na 'n taalinstelling. Tans begin dit verskuif vanaf 'n Afrikaanstalige instelling na 'n Engelstalige instelling. In die toekoms kan dit nog verder verskuif vanaf 'n Engelstalige nasionale instelling na 'n Engelstalige internasionale instelling, binne 'n nuwe tydsgees as draer en verspreider van die denkprodukte van 'n futuristiese nuwe wêreldorde binne 'n geglobaliseerde universiteitsbestel.

Volgens Scholtz geniet bruin mense gelyke grondwetlike regte met blankeAfrikaners, én omdat die US Afrikaans is, maak dit hulle mede-eienaars van die US. Hiermee beantwoord Scholtz self die eerste gedeelte van sy vraag.

Van besondere belang is Scholtz se verwysing na die  "polige spanning"  binne die breë Afrikaanssprekende taalgemeenskap tussen wit en bruin sprekers. Hy vergelyk dié verskynsel met die taalstrydende Vlaminge (vergelykbaar met wit Afrikaanssprekendes) en die taallakse Nederlanders (vergelykbaar met bruin Afrikaanssprekendes).

In die geval van Vlaminge en Nederlanders word die verskil in houding jeens 'n gemeenskaplik gedeelte taal toegeskryf aan die besondere historiese verlede van elk. Dit geld eweneens ook vir die wit en bruin segmente van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap. Die analoë verband wat Scholtz hier raaksien tussen die Nederlands-Vlaamse taalgemeenskap en die wit-bruin Afrikaanssprekende taalgemeenskap, moet nie geïgnoreer óf onderskat word nie. Die gesindheid van elk van dié taalpartye hou implikasies in vir die toekoms van Afrikaans.

Saturday 15 October 2005

Mede-eienaarskap nodig

DIE US-taaldebat is nie meer ’n plaaslike taalaangeleentheid nie, maar het die episentrum geword van die jongste taalskokke wat landwyd binne die Afrikaanse taallandskap deur skade, puin en verwoesting gekenmerk word.

’n Transformatoriese tempoversnelling, waarvolgens die verskuiwing in US-geledere vanaf ’n oorwegend Afrikaans-monokultureel georiënteerde instelling na ’n Afrikaanstalige gemeenskaplik kultureel-diverse instelling verander het na die in die vooruitsig gestelde ideologiese ideaal van ’n multikultureel akkommoderende Engels-eentalige instelling, vind tans plaas.

Voorgenoemde is die resultaat van die huidige ideologiese transformasie van Suid-Afrika, en nugterdenkende mense kon voorsien dat dit sou gebeur. Transformasie, waaronder ook taaltransformasie, opereer uiters eensydig aan die hand van die beginsel van eenheid-in-die-verskeidenheid en negeer die beginsel van verskeidenheid-in-die-eenheid wat die balans moet handhaaf. Derhalwe dien taaleenheid (Engels) die onderliggende sosialistiese doel binne ’n multikulturele samelewing onderweg na ’n sosialisties-nasionale bedeling.

Noudat die transformasie-kat onder meer ook in die taalhok is (en nie net by die US nie), waai die Afrikaanse taalvere in benoude gefladder. Dit is hoogs onwaarskynlik dat dié kat uit die taalhok sal verdwyn, maar sou dit moontlik wees om dié bedreigde taalvoël binne dié hok te beskerm?

Waar taal as eiendom van ’n eienaar ter sprake kom, kom die beskerming van dié eiendom ook ter sprake. Die vraag is: Wie is bereid om eienaarskap (in die geval van Afrikaans gekwalifiseer as mede- eienaarskap) vir die Afrikaanse taal te aanvaar vir die beskerming en voortbestaan daarvan?

Die vraag oor ’n beskermingstrategie tree ook na vore. Die vreedsame weg blyk aanvanklik verkiesliker as die konfrontasieweg.Tog mag dit nie lei tot uiteindelike taalkapitulasie nie. Te dikwels word inskiklikheid vertolk as ’n teken van swakheid en wilsgebrek wat uitbuitend tot ondergang lei.

Die taaluitdaging is tweërlei: Wie is bereid om mede-eienaarskap te aanvaar en hoe kan dit suksesvol beskerm word?