Wednesday 20 May 2020

"Trofee"-bybels kom terug huis toe




Die personeel van die New Zealandse (NZ) skool waar my dogter onderwys gee, geïnspireer deur onlangse historiese navorsing, beoog die samestelling van 'n resepteboek. Tradisioneel historiese gebakresepte, vergesel van foto's, word gevra   -   ook van Suid-Afrika.

Historikus Nigel Robson se navorsing oor NZ se deelname aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), en die uitwerking daarvan steeds op die NZ-samelewing, laat my kind dink aan resepte uit dié historiese tydperk soos rooster-,  vetkoek, potbrood en beskuit.

Robson se navorsing sou lei tot 'n hernieude veldtog om veral geroofde bybels terug te stuur na Suid-Afrika. Soms met, maar meer dikwels sonder, toestemming van hul Briitse offisiere, het soldate plaaswonings geplunder voor die afbranding daarvan.

Veral bybels was gesogte "trofeë" wat na Brittanje, Australië en New Zealand verskeep is. Boere het dikwels waardevolle dokumente, soos testamente, in bybels bewaar. Kan ons ons die ontsteltenis voorstel van 'n oorsese familie wat so 'n bybel ontvang waarvan die afsender intussen al gesneuwel het?

Vanaf 1903 is New Zealanders, asook by verskeie geleenthede daarna, versoek om sulke geroofde bybels na hul eienaars terug te stuur. Heelwat bybels is in NZ-biblioteke uitgestal, soos ook genl. Piet Cronje se bybel in die Britse Laerhuis in Londen. In 1947 het koning George VI wyle president Paul Kruger se bybel aan die Afrikanervolk terug besorg.

Iemand het opgemerk dat Afrikaners verreweg die meeste bybels besit, maar dit vandag die minste lees. Bevat dié oorlogtydse bybeldiefstal dalk 'n boodskap van simboliese betekenis vir kontemporêre Afrikaners?








Wednesday 6 May 2020

Ideologiese ANC floreer in virusomgewing




Ingeligtes voorspel 'n  "nuwe normaal" na afloop van Covid-19, 'n reeds sigbaar ontwikkelende sosialisties-kommunisties geleide een. Die behandeling van sommige ingeperktes en gepaardgaande vestiging van 'n vryheidsontnemende leefwyse onderworpe aan ANC-gesag, gee blyke daarvan.

ANC-visie is ingestel op algehele magsoorname en  -beheer oor gans Suid-Afrika en daarstelling van 'n magsgesentraliseerde eenpartystaat onder die vaandel van demokrasie. Covid-19-maatreëls bied voorbereidende inoefeningsgeleenthede daartoe.

Van die vele pandemie-kenmerke, soos ook die finansiële en sterfterisiko, beklemtoon die ANC die sosiaal-ekonomiese ongelykheid in sy manipulering van Covid-19. Hoewel nog deurentyd aanwesig, word optimisties-pragmaties na ongelykheid gegryp as sielkundige wapen waarmee welvarendes deur skuldgevoelens ontwapen kan word. 

Tydens aflegging van die ampseed as staatspresident, het CR hom verbind tot die grondwetlik bepaalde gelyke behandeling van alle staatsburgers, maar gebeur dit? Die reeds bestaande ANC-rassisme woeker voort deur die weiering van hulp ook aan wit sake-ondernemers en boere. Ook bruinmense word benadeel.

Sterk aandrang op gesentraliseerde ANC-beheer oor verspreiding van kospakkies open deure vir korrupsie en bedrog. En selfs in ANC-drag uitgedeel met die komende verkiesing in die gedagte? Covid-19 leen sigself ook vir oefengeleenthede in weermagontplooiing, skarebeheer en vryheidsinperking. 

Hiervan neem ook die buiteland kennis. Uit Nederland word berig: "Zuid-Afrika is zo racistisch... Zelfs de voedselpakketten voor de hongerende bevolking word door de ANC-boeven aan familie en vriende uitgedeeld..." Die VN verwys na die ANC se "giftige inperkingskultuur" en sterk "gemilitariseerde reaksie" op Covid-19.

Die koronavirus bied tans 'n gunstige omgewing waarbinne ANC-ideologie floreer.         (ngn)