Friday 22 May 2009

Voorsaatoorsprong - van ónder of van Bó?

Dit bly vreemd, dog ook interessant, dat sommige mense op 'n onbeskaamde wyse hulself in die openbaar lagwekkend kan voorstel, sommige op 'n merietevolle wyse; ander op 'n bejammerenswaardige wyse.

Dink hier, byvoorbeeld, aan persone soos die welbekende nar, Francesco, en ook Elsabé Brits. Francesco was gedurende sy leeftyd 'n oortuigde, en getuigende, Christengelowige wat by geleentheid van homself gesê het: "I am a fool for Christ!" Hiermee kan ek persoonlik ten sterkste identifiseer.

In haar berig, "Fossielvonds 'verlore skakel na die mens' " (DB,21.05.2009), berig Elsabé Brits aangaande die sogenaamde "menslike herkoms". Sy berig daarin oor die ontdekking van 'n "primitiewe primaat...wat sowat 47 miljoen jaar gelede...in die woude van Duitsland gesterf het...toe sy in die Messelmeer...verdrink...het." (woude? meer? meer-in-woude? onduidelike beriggewing)

Hoewel vernoem na Charles Darwin   -   Darwinius masillae   -   heet dié fossiel, Ida, in die volksmond. "Ida... is een van die belangrikste primaat-oorgangsfossiele...wat tot nog toe gevind is...(en) aan die wortel van antropoïed-evolusie...wat na die mens gelei het...(en) wat menslike evolusie verduidelik."

Die Ida-fossiel  "...toon 'n oorgang tussen die lemurs na die primaat-stamlyn, wat uiteindelik na die mens gelei het." Die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) verduidelik 'n lemur as 'n Madagaskarse nagaap, en 'n primaat as 'n soogdier wat tot ape en halfape (primate) behoort.

En nou pas Ida'tjie gerieflik tussen die lemur en die primaat-stamlyn sodat sir David Attenborough van die lank-  en veelgesoekte "vermiste skakel" sê: "Die skakel word nie meer vermis nie" ; ook dat dié gevonde "menslike familieskakel" se "foto vir die volgende 100 jaar in handboeke sal wees."

My gelukwensing aan Elsabé Brits, sou sy self persoonlik al die voorgemelde onderskryf, met dié wonderlike "deurbraak" in die genealogiese soeke na haar voorsate. Soos wat sy hulle hier ónder gesoek en gevind het, so sien ek met verwagting daarna uit om myne wel daar Bó te vind.              (ngn)

Monday 18 May 2009

Gun Mulder ruimte in dié politiek

Dr. Pieter Mulder se aanvaarding van die adjunk-ministerspos van landbou herinner aan wat ons katalisator-politiek kan noem. In die praktyk stel dit in die vooruitsig dat, volgens Mulder, die VF+ enersyds sy outonomie as party en sy rol as kritiese opposisieparty onveranderd wil/ sal behou, en andersyds om vir 'n toeskietlik-veranderde regeringsbeleid teenoor VF-ondersteuners te beding.

Vanweë die aard van die implikasies wat dié stap inhou, is daar uiteenlopende reaksies. DA-kommentaar beweer : "Mulder plaas pensioen voor beginsel en verraai alle opposisiekiesers" (DB,12.05.2009)   -   partypolitieke opportunisme met die oog op "karkas-aas" van 'n vernietigde VF+?

Cosatu "was...baie opgewonde oor Mulder se besluit" (DB,12.05.2009). Hoewel nie 'n VF-vriend nie, weet die VF+ egter presies waar hy met Vavi staan oor grondhervorming. Is dit nie juis omdat die ANC ontsag het vir die Afrikaner   -   al behandel hy hom nie so nie   -   en hy presies weet wát hy in hom het, dat Zuma vir Mulder respekteer?

Reaksies vanuit die VF+ se geledere self is natuurlik betekenisvol. Van belang is hoe omvangryk en diepgaande die verskille in eie geledere is, en hoe waarheidsgetrou en gebalanseerd die media dit rapporteer.

Verg  die bestaansoorlewing van die volksgeoriënteerde Afrikaner nie 'n wyer visie as dié van Mulder se kritici nie? Kritici moet waak om nie 'n geleentheid in 'n verleentheid te omskep nie. Dwase hardkoppigheid dra andersoortige vrug as visioenêre insig en wysheid met beginselvastheid en onwrikbare standvastigheid as vrug daarvan.

Waarom die moedswillig-irrasionele en kontekstueel-ongeoorloofde gelykstelling van Mulder met Van Schalkwyk? Is die doel om die VF-solidariteit via kritiese solidariteit uiteindelik na skeuring te dryf? Gekenmerk deur 'n algemene gebrek aan Afrikanerleiers en  -visie, waarom nie aan Mulder die geleentheid bied om met sy visie vorentoe te beweeg nie? Sonder dié geleentheid kan hy nie homself as patriot óf verraaier bewys nie. Gun Mulder daarom dié katalisator-politieke ruimte.

Thursday 14 May 2009

Mandela-leiding was nie Christelik nie

Volgens sensusopnames se statistieke is Suid-Afrika 'n "Christenland". Beteken dit in werklikheid 'n land met 'n meerderheid van "statistiese Christene"?

By geleentheid erken Gandhi, 'n Hindoe, Chrsitus as 'n "groot profeet", dog   -   kyk hy na Christene as Sy volgelinge   -   sien hy Christus nié in hulle nie.Verduidelik dit die begrip "statistiese Christene"?

In "Op Mandela se pad" (DB,07.05.09) word berig dat president Zuma gesê het hy "wil in die gees van oud-pres. Nelson Mandela die leier van alle Suid-Afrikaners wees."

Mag ons egter vra uit watter dieperliggende "gees" Mandela se gees put, gesien teen S.A. se "geloofstatistiek" as agtergrond?

In The Sunday Independent van 06.02.2000 verskyn 'n artikel, "African Traditional Religion promotes the right not to be a Christian". Die skrywer is 'n vrou verbonde aan die Departement Religieuse Studies aan die Universiteit van Kaapstad. Sy sê die "ou Suid-Afrika" het haar verontreg vanweë pogings tot die verchristeliking van ons land en die kerstening van sy inwoners. Die "nuwe Suid-Afrika" bied vir haar 'n bevryding van die Christendom.

Haar Christelike sendingskoolopvoeding het direk gebots met haar tradisionele opvoeding tuis. Sendelingonderwysers het haar laat doop en 'n "Christian name" aan haar besorg. Dié twee onversoenbare geloofswêrelde het haar dermate verwar dat sy 'n identeitskrisis beleef het.

In haar ontworsteling aan die bekeringsinvloed van die Christendom tot waar sy kon sé : "I belong to my indigenous religion that has been here before the missionaries", was oud-pres. Mandela haar rolmodel wat in sy boek, Long Walk to Freedom sê : "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the god of his fathers."

Beteken dié aanhaling enigiets vir die Christenmeerderheid van ons land as Zuma sê hy wil Suid-Afrika lei in die gees van oud-pres. Mandela? Niks nie?

Onderwys nié sonder voorskriftelikheid

C.Viljoen se brief, "Dankbaar hy kan rol by skool speel" (DB,11.05.2009), verwys.

Viljoen sê hy "...is dankbaar vir... opvoeders wat...nie 'n voorgeskrewe regeringsbeleid...nodig het nie." Indien hy hiermee sou suggereer dat die vorige onderwysbedeling van 'n voorskriftelike aard (Christelik-nasionaal) was en die huidige bedeling nié, begaan hy 'n oordeelsfout.

Die voorskriftelikheid van die vorige onderwysbedeling   -   by wyse van onderwyswetgewing   -   is bloot vervang met wetgewing wat sy voorskriftelikheid slegs in 'n ander vorm giet. Die voorskriftelikheidskarakter het nié sedert 1994 ewe skielik verdwyn nie!

Onderwys is onder staatsbeheer en, as sodanig, bepaal die staat, deur middel van onderwyswetgewing, die "spelreëls" vir staatskole, asook die reëls waarvolgens onderwysbelanghebbendes daaraan mag deelneem.

Geen onderwys ter wêreld is ooit neutraal nie. Die staat se ideologie vloei juis deur die onderwys-  en skoolstelsel na die nasionale samelewing in die vorm van 'n bepaalde tipe landsburger (nié langer Christelik-nasionaal nie!) wat deur dié staatsbeheerde skoolstelsel gelewer moet word. S.A. is geen uitsondering nie. So sorg 'n sekulêre staat vir sekulêre skole (soos sedert 1994 in S.A.) ; 'n kommunistiese staat vir kommunistiese skole en 'n Christelike staat vir Christelike skole.

Dis dwaas om te dink 'n kommunistiese skoolstelsel sal Christenlandsburgers oplewer, én ook andersom. Geen staat ter wêreld sal duld dat sy skoolstelsel ideologies-vyandige burgers sal lewer in botsing met die staats-eie ideologie nie.

Viljoen sê verder: "Ons...kan nie meer op (...die kerk) steun nie." Wil Viljoen nie vir ons in 'n opvolgbrief sê waarom Christenouers nie langer op die kerk kan steun vir die onderwys van hul Christenkinders nie? Indien Viljoen egter suggereer dat die kerk hom vrywilliglik, en ten nadele van Christenkinders, aan bemoeienis met die skoolse onderwys onttrek het, stem ek volkome met hom saam.

Die Christelike Doopsakrament maak ouers tot verbondsouers en hul kinders tot verbondskinders van God. Hieromtrent dra die kerk 'n Goddelike verantwoordelikheid.                        (ngn)

Tuesday 12 May 2009

Sinergie tussen Zuma, Afrikaners

In 'n artikel, "Bond with Afrikaners" in die Daily Despatch van 17.04.2009, beweer Dan Roodt dat die NVG-Zuma-kwessie sodanige betekenisvolle aangeleentheid in die S.A.-politiek oorskadu het wat op die lange duur egter veel belangriker mag wees as gemelde openbare kwessie self.

Dit waarna Roodt verwys, is die toenadering van Zuma tot Afrikaners. Hy sê die afgelope tien jaar het die Afrikaner en Afrikaans onder Mbeki se bewind byna verdwyn. Roodt sê : "FW de Klerk's followers among the Afrikaners were enthusiastic participants in this process of destroying their own heritage and identity."

Volgens Roodt word beide die Afrikaners en Zuma deur die Britse sowel as die plaaslike Engelse media beswadder en verguis. Zuma verskyn soms in tradisionele kleredrag terwyl "...ethnicity has been declared dead...from Helen Zille to English Marxist academics and most mainstream political commentators."

Dit blyk dat Zuma en die Afrikaners 'n gemeenskaplike vyand mag hê en dat die spreekwoord : "Die vyand van my vyand is my vriend", dalk hier mag geld.

Benewens steun van 'n oormag Zoeloes, asook gewone swart mense, geniet Zuma weinig steun van die plaaslike en internasionale elite. Sou Zuma sy toenadering volhou, bestaan die moontlikheid dat Afrikaner-intellektueles,  -akademici en  -sakebelange hom mag steun teen die "...almost hysterical campaign waged against him by the Afro-Saxon and Anglo-Saxon elites."

As president sal Zuma waarskynlik die ondermynende teenkanting van Mbeki-ondersteuners ervaar. Dit is hieromtrent wat Roodt oordeel dat Afrikaners Zuma kan help om van korrupsie, veral op plaaslike vlak, ontslae te raak. Die Mbeki-bewind het Afrikanerboere onteien. Zuma kyk egter na hulle as voedselverbouers ; voedsel het van strategiese belang geword.

'n Sinergie tussen Zuma populariteit en Afrkaner-kennis en  -vaardighede lyk dus moontlik. Vergeet egter ook nie die uitdrukking : "Met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie."

Saturday 9 May 2009

Kiem vir Nazisme lê in Darwin

In "Kerkbode   -   doodsklok of feesklok?" (DB,05.05.09) verwys Frits Gaum na Lorraine Braid wat sê : "Liewe magtig, mense, kan ons nie asseblief ophou met die evolusiedebat in briewe en artikels nie?"

Wat Braid egter nié besef nie, is dat dié debat waarskynlik die belangrikste, finale en mees bepalende óóit in menseheugenis gaan wees.

Wie oordeel dat die evolusiegeloof   -   gedrapeer in "wetenskapsgewaad"   -   ligtelik opgeneem kan word, begaan 'n dodelike fout. Evolusie is 'n veeldimensionele geloof en opponeer die Christelike geloof.

Dra almal kennis van die volledige titel van Darwin se veelbesproke boek? Die volledige titel lui : The Origin of Species by means of Natural Selection or The Preservation of Favoured Races in the Struggle of Life.

Dié titel dra openlik die kiem van rassemeerderwaardigheid. Nazisme was, as slegs één voorbeeld, gebou op die evolusiegeloof. Oortuig van die "waarheid" van dié geloof, het Hitler geglo dat hy die mensdom 'n guns sou bewys deur miljoene "minderwaardiges" uit te wis en sodoende die evolusieproses te versnel.

In 'n artikel in New Scientists (1999) sê Martin Brookes : "A direct line runs from Darwin, through the father of the eugenics movement   -   Darwin's cousin, Francis Galton   -   to the extermination camps of Nazi Europe."

Oningelig aangaande die sentrale rol wat die evolusiedenke in die Nazi-bedeling gespeel het, kan die "holocaust" nie begryp word nie. Mein Kampf beskou die Jode as "parasiete" binne die internasionale volkere-liggaam. Hitler wou van die "minderwaardige gene" in die globaal-menslike genepoel ontslae raak.

Vir sowel ons geslag as toekomstige geslagte, lê die Bybelsvoorspelde bedreiging van 'n Nuwe Wêreldorde (NWO)   -   óók gebou op die evolusiegeloof   -   voor. Volgens Skrifopenbaring gaan die NWO-bedeling ongekende vervolging en dood met hom meebring.

Thursday 7 May 2009

Evolusioniste moet verwarring staak

Elsabé Brits se artikel, "Afrika, jou wonderlike moeder" (DB,02.05.09), verwys. Dit is duidelik komende vanuit die evolusie-dampkring.

Die Bybels-onversoenbare bewerings daarin is, enersyds, betreurenswaardig vanweë die (opsetlike?) verwarring wat dit onder Christengelowiges veroorsaak. Andersyds beproef dit juis Christene se geloofsterkte.

Dit is my indruk dat, soos wat ek opgewonde raak by die lees van die Bybelse waarheidsinhoude   -   waarvan 1 Timoteus 4:9 getuig : "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word"   -   so raak Brits skynbaar óók opgewonde oor die "betroubaarheid" van die "feitlike" inhoud van die tydskrif Science (Volume 324)  waaruit haar inligting kom.

Brits beweer : "Dit is...'n feit dat ons almal...wat...op hierdie planeet leef en ons voorsate, van swart mense in Afrika afstam..." Die primêre verdagte "feit" is nie velkleur nie, maar wel die kontinent (Afrika), vermoedende dat vasteland en velkleur wel verband hou met mekaar.

Volgens Genesis 2:8-14 (OAV) het God 'n tuin, Eden, aangelê in die Ooste as tuiste vir Sy geskape beelddraer-mens. Uit Eden het 'n rivier ontspring wat in vier vertak het waarvan die Hiddékel (Tigris) en Frat (Eufraat) twee daarvan was. Soek ons dus, hiervolgens, na Eden (in die Ooste!) en dié riviere in Afrika?

Dit wat Brits glo, berus op "Die feit...dat die bewyse in elkeen van ons se selle is." Is evolusioniste se kennis van menslike selle net so onwetenskaplik onbetroubaar as hul koolstoftoetse vir ouderdomsbepaling? Hul koolstoftoetse het aangetoon dat een gedeelte van die "Vollosovitch"-mammoet 29 500 RCY's (radio-koolstof jare) is en 'n ander gedeelte van dieselfde mammoet 44 000 RCY's is.

Wil Brits, en ander evolusioniste, nie tog maar asseblief hul (strategiese?) verwarring van oningeligte Christengelowiges staak deur hul eie posisie met betrekking tot die Christelike geloof duidelik vir openbare kennisname te stel sodat Christengelowiges presies kan weet waar hulle met diesulkes staan nie?

Saturday 2 May 2009

Mens-in-opvoeding bly 'n misterie

Die vorige grondwet van S.A. het sy onderwysinstellings vir wittes voorgeskryf om van 'n Christelik-nasionale karakter te wees, maar tog óók vir nie-Christene voorsiening gemaak.

Die huidige liberaal-humanistiese en sekulêre grondwet het dié Christelike karakter daaruit geskryf. Hiermee is die geloofsnaelstring tussen Christen-ouerhuis en staatskool, waarbinne die sinkretisme deesdae hoogty vier, afgebind.

Dit is so dat daar 'n radikale verskuiwing van 'n Christelike mens- en wêreldbeskouing na 'n sekulêr-humanistiese een in staatsonderwys plaasgevind het. Die nuwe onderwysstelsel verskil dramaties van die vorige wat deesdae landsburgers moet lewer wat nie altyd met die Christelike mensbeskouing versoenbaar is nie.

Een kritieke gevolg van dié radikale verskuiwing is die snelle erodering en wegkalwing van ons voorheen Christelike waardes en norme.

Sou ons vra of 'n kind (selfs grootmens) sy opvoeding in die steek kan laat, is die antwoord beslis,ja. Omgekeerd kan ons ook vra of opvoeding (huis veral) en onderwys (skool) die kind in die steek kan laat, en is die antwoord eweneens, ja.

Laasgenoemde is een van die mees aktuele vrae van ons dag; dit geld beslis ons huidige onderwysstelsel.

Eersgenoemde vraag hierbo sluit aan by Net 'n Ouer se brief, "Selfs 'n 'goeie' kind begaan misstappe" (DB, 23.04.09), wat, heeltemal korrek, beweer "Daar is geen waarborg dat kinders wat in goeie huise grootword...nie misstappe sal begaan nie."

Ouer en kind word aan mekaar gebind deur drie bande : bloed, liefde en geloof. Die eerste is 'n onveranderlike gegewe; die laaste twee nie.

Ouers kan dus, volgens hul persoonlike mens- en opvoedingsbeskouing, al hul liefde én geloof uitstort in hul kind se opvoeding, en tog misluk. Waarom? Omdat die mens 'n misterievolle wese is wat nie sy diepste wese sélf kan verklaar nie. Opvoeding van die Christenkind verg dáárom volgehoue geloofsvertroue.