Wednesday 24 April 2013

Transformasie beïnvloed uitspraak

Die artikel, "Ongegronde klagte benadeel evangelie  -  moderator" (Beeld,23.04), het betrekking. Hierin word berig oor die klag wat dr. Wynand Louw, mediese spesialis, teen dr. Ben du Toit van die NG Kerk ingebring het met die uitkoms dat "Die ring van die Paarl bevind het dat Louw nie sy klag kon bewys nie." Louw het beweer "Du Toit se oortuigings weerspreek die Bybel en belydenisskrifte."

Ek is van mening dat meerdere faktore 'n uitspraak téén Louw in die guns van Du Toit tot gevolg gehad het. Die begrip "ongegronde" is een so 'n faktor, want ons mág vra: "ongegrond" in terme waarvan? Nog 'n faktor is dat die NG Kerk 'n kerklike ampsdraer ondersoek het, en ons weet dat professies geneig is om groter lojaliteit aan professionele lede te betoon. Die grootste faktor egter, is waarskynlik die kerklike transformasie wat tans in dié kerk plaasvind.

Die NG Kerk is tans in 'n fase van kerklike transformasie waarvolgens 'n nuwe "speelveld" gekonstrueer en nuwe "spelreëls" geformuleer word. En nou is dit nie só moeilik om te begryp dat Louw volgens die "ou spelreëls" op die "ou speelveld" optree teenoor Du Toit op die "nuwe speelveld" en volgens die "nuwe spelreëls" nie. Hier is dus ongetwyfeld sprake van twee verskillende kerklike paradigmas met die onverkwiklike bevooroordelende ondersoek aan die hand van  die Du Toit-paradigma wat negatiewe uitspraak lewer teen die Louw-paradigma. Dit is wetenskaplik ontoelaatbaar.

Hierdie kerklik-paradigmatiese botsing word mooi deur die beriggewing verwoord in: "Louw hou nie rekening met aanvaarbare Bybeluitleg (getransformeerde nuwe paradigma) nie, maar meen sy manier om die Bybel te verstaan (voor-getransformeerde ou paradigma), is die enigste geldige een." Vind ons dit dus vreemd "dat Louw nie sy klag kon bewys nie"?             (ngn)




Monday 22 April 2013

Besieling van Afrikanervrou vandag nodig

Die sakkende gordyn oor die lewe van barones Margaret Thatcher, die Britse Ystervrou, bied geleentheid vir die vlugtige wegskuif van die verledegordyn voor ons eie Afrikaner ystervroue van weleer. In sy boek, "Moeders van ons volk", beskryf A.P.van Rensburg die Afrikaner pioniersvroue, Voortrekkervroue en konsentrasiekampvroue op treffende wyse. Van die pioniersvroue sê die Duitse reisiger, Heinrich Lichtenstein: "Met 'n godsdienstig-sagsinnige voorkoms gaan daar 'n vasberadenheid en moedigheid gepaard wat 'n mens verbaas...wat die Afrikanervrou in staat stel om die wildernisse te oorwin." Haar kinders maak sy met 'n sterk vryheidsin, vaderlandsliefde en godsdienssin groot.

Die Groot Trek-heldinne word selde by name genoem, dog stilweg was húlle die verborge krag agter dié trekbeweging. Hulle het oor karige middele beskik, moes geriewe ontbeer, met gevaar saamgeleef en gewere help laai met selfgegote koeëls. As Christengelowiges was hulle kragtige beskawingsdraers van wie sterk besieling uitgegaan het.

Ten spyte van die bittere lyding en smart wat konsentrasiekampvroue moes deurmaak, word hulle gekenmerk deur dapperheid, moed, standvastigheid, geduld, en kalmte van gees   -   besielende bittereinders. Van hulle word gesê dat  hulle die volksideale die suiwerste uitgeleef en selfs heldhaftiger was as die mans op kommando. Sommige, soos mans vermom, het op die slagveld gesterf vir volksvryheid. Hulle verdien ons eerbetoning.

Waarmee is die Afrikanermoeders van ons dag besig, hulle as voorwaarde vir die voortbestaan van ons volk? Hoeveel Afrikanervroue bevind hulle vandag in plakkerskampe? Hoeveel moeders word ingesuig in die "rat race" om bestaansoorlewing? En wat word van haar volkskinders? Sal die geskiedskrywers van die toekoms ook haar   -   soos die pioniers- , Voortrekker-  en konsentrasiekampvroue   -   vir haar besielende invloed onthou?






Monday 15 April 2013

Aanvaar ons Gerberstelling kritiekloos?

Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, se onlangse stelling dat dié kerk nie 'n volkskerk is nie, maar Jesus se kerk is (DB,05.04), verdien ons kritiese aandag. Indien Gerber, van wie ek hieromtrent verskil, sou sê dat die NG Kerk nie langer méér 'n volkskerk kan/wil wees nie, sou dit veel meer oortuigingskrag besit.

Van kerkweë mag die NG Kerk homself dalk nie "amptelik" en/of per definisie as 'n volkskerk beskou nie, maar sedert die volksplanting is daar, histories aanwysbaar, die allernouste   -   feitlik gelyktydige en parallelle   -   ontwikkeling tussen kerk, volk en staat wat die Afrikanervolk algaande laat verstaan het dat hy tot 'n volkskerk behoort.

Aan die beginjare van die volksplanting was die NG Kerk die staatskerk. Daar bestaan voldoende getuienis dat die volk en dié kerk mettertyd deur 'n besonder noue band gebind was, veral in die voormalige Boererepublieke. Dié kerk het die Afrikanervolk in veelbewoë tye van oorlog, en daaropvolgende volksherstel, bygestaan. My oupa het tydens die ABO as krygsgevange jong Vrystaatse burger die Diyatalawa Zondagsskool van dié kerk op Ceylon (vandag Sri Lanka) bygewoon. Hoeveel volkskongresse is nie gehou waarby die NG Kerk intens, in volksbelang, betrokke was nie, soos byvoorbeeld voorafgaande tot die stigting van die Reddingsdaadbond en Helpmekaarbeweging; so ook die meer onlangse Afrikaner Onderwyskongres gehou in Maart 1982 te Bloemfontein.  So kan voorbeelde van die vroeëre kerk-volkverbintenis vermenigvuldig word ook deur na dié kerk se deelnames aan volksfeeste   -   en kerkleiers en predikante se lidmaatskap van Afrikanerorganisasies soos die Afrikaner Broederbond, Rapportryers en FAK   -   te verwys.

Gerber se stelling dui baie duidelik op die ontkenning van die voorafgaande. Ontkenning blyk juis een van die NG Kerk   -   nou 'n "nasiekerk" en nie meer 'n volkskerk nie   -   se transformasie-meganismes te wees vir die doel van sy herposisionering binne die nuwe staatkundige bedeling. Hierdie herposisionering noodsaak dié Gerberstelling.

'n Verdere kenmerk van die Gerberstelling is die mate van geïmpliseerde arrogansie daarvan wanneer hy na die NG Kerk as "Jesus se kerk" verwys. Sê hy daarmee dat 'n volkskerk nié Jesus se kerk kan wees nie? Behoort Jesus nou meteens eksklusief nét aan die NG Kerk-in-transformasie? Dui dit nie op fariseïsme nie?

Slegs NG Kerklidmate wat totaal oningelig is omtrent die noue verbintenis van dié kerk en ons volksverlede, sal dié aanvegbare Gerberstelling kritiekloos aanvaar.





'n Nugter analise van die SA-situasie

In 'n artikel getitel, "ANC and ZANU-PF : Partners in non delivery" (politicsweb,12.04), sê Vince Musewe   -   'n ekonomiese analis van Harare   -   dat die tyd van bevrydingsbewegings verby is. Beide ANC en ZANU-PF is sonder 'n toekomsvisie. Albei hou vas aan die taal en tradisie van bevryding, en behou ook die kleurskeidslyn omdat dit hulle bevoordeel; dit ten koste van swartes se behoeftes en aspirasies om ekonomiese vryheid. Die ANC mag dalk die politieke bevryder wees, maar beslis nie die ekonomiese bevryder nie.

Die massas, bloot vanweë getalle-oorwig, word die beslissende faktor in die politieke domein. Musewe sê die massa kan nié onderskei tussen wat, en wat nie, in hul belang is nie, daarom gee hulle hul stemme in ruil vir 'n afhanklike bakhandbestaan en "verkoop" sodoende as't ware die toekoms van die land.

SA en Zimbabwe ervaar gemeenskaplike probleme in die vorm van magsbehepte selfverrykende politici wat onbekwaam is tot dienslewering, passief toesien hoedat armoede vererger, fanaties vasklem aan hul posisies, jong geleerde intellektueles beroof van geleenthede om nuwe en vars idees te implimenteer, en die geneigdheid om die Weste vir alles te blameer.

Musewe sê die ware bevryding van swartes is slegs moontlik indien hulle besef die tyd vir polities bevrydende politieke partye verby is, hulle polities betrokke raak en nie toelaat om deur onbekwame leiers aan die neus gelei te word nie, en deur die samewerking van progressiewes wat streef na ekonomiese vryheid op dieselfde wyse as wat die "struggle"-leiers saamgewerk het vir politieke vryheid. Dit lyk na 'n nugter analise ook van die SA-situasie.



Monday 8 April 2013

Is dit geboortepyne van die nuwe tyd?

Van prof. Jonathan Jansen se artikel, "Apartheid leef nog in ons kerk" (DB,04.04), sê Stell Connect (DB,06.04) dit is "galsterig en ondeurdag", terwyl C.Bez (DB,06.04) sê: "Skoenmaker hou jou by jou lees. Bepaal jou by die onderwys waar jou kundigheid lê." Ek beoog geen teenaanklag teen Jansen vanweë sy grimmige aanklag teen die NG Kerk nie. Die Bybel leer dat 'n sagte antwoord die grimmigheid afkeer, dog, om Jansen nié te antwoord nie, mag die verkeerde indruk skep van eenstemmigheid met hom. Wat Jansen sê, is egter darem net té dik vir die spreekwoordelike daalder.

Van die NG-"moederkerk" en haar drie "dogterskerke" sê Jansen dit is 'n "enorme pretensie om die lewende God ooreenkomstig die rasse-kategorieë van die rassistiese verlede te aanbid. Dit is niks anders as godslastering nie. Vir hierdie mense beteken die kruis min in die realiteit van hul lewe...(en is dit) tyd dat die mure van hierdie plek van sonde afgebreek word...(en moet) 'n diep transformasie plaasvind in die instellings waar konserwatiewe wit Suid-Afrikaners aanbid."

Hierdie verdoemend veroordelende woorde   -  duidelik nié Christus en Sy kerk se taal nie   -   kom van 'n man wat sê: "Ek is nie 'n groot Christen nie." Ons mag mos vra of Saul dan ook onder die profete is, besig om die kerk aan buite-kerklike maatstawwe te meet? Die ooreenkoms tussen Jansen se aanklag teen die NG Kerk, as onderdeel van die groter Liggaam van Christus, en die voortdurende aanklagte van die aartsaanklaer van God se kinders voor Sy troon (Sag.3:1), is opvallend. In beide kontekste, aards én hemels, word Christengelowiges aangekla.

Het ons nie dalk hier te doen met 'n voorbeeld van die vervulling van 'n profetiese voorspelling soos in Markus 13:8c opgeteken nie: "Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd"?              (ngn)






Friday 5 April 2013

Voldoen SA reeds aan dié beskrywing?

Is daar 'n instansie wat oor die kennis en insig beskik om vir ons te kan sê óf daar al ooit in die SA-geskiedenis 'n tydperk van groter vermorsing van natuurlike, menslike en finansiële hulpbronne was as wat ons sedert die ANC-regeringsoorname  in 1994 ervaar? Hulpbronvermorsing is 'n skreiende skande én tegelyk 'n onreg en misdaad teenoor die SA-burgery.

Tot watter mate kon die SA-samelewing    -   en veral die armstes van die armes   -   nie reeds gebaat het, en opgehef gewees het, deur die oordeelkundige aanwending van ons hulpbronne nie? Die onstuitbare voortgang van dié vermorsing móét iewers in die toekoms op 'n nasionale katastrofe uitloop. Is dit waarom Zuma betyds vir hom 'n ondergrondse bunker laat inrig het?

Met sy teenproduktief vermorsende aanwending van ons hulpbronne is die ANC ook besig om 'n plofbare rewolusionêre klimaat in SA te skep en nasionaal te vestig. Ons sit op 'n tydbom wat wag om te ontplof, want, soos wat onverantwoordelike bevolkingsgroei tesame met die onbeheerde instroming van buitelanders uit Afrika   -   toegelaat omdat "pay back time" aangebreek het   -   plaasvind, so neem die beskikbaarheid van beperkte en reeds oorbenutte hulpbronne af; verder vererger deur die onoordeelkundige aanwending daarvan.

Hierdie toedrag van sake, waarvoor alleen die ANC-beleidmakers verantwoordelik is, herinner aan die begrip "ineptocracy" wat onlangs in die "London Times" as aanhaling van die week verskyn het: 'n regeringstelsel waarvolgens die mees onbekwames deur die produktief mees onaktiewes verkies word, en waarvolgens die nie-selfonderhoudendes van lewensmiddele en dienste voorsien word vanuit die getapte bron van rykdom van 'n kleinerwordende aantal produktiewes. Voldoen SA nie alreeds aan dié beskrywing nie?




Wednesday 3 April 2013

Behou die kerk se ware karakter

Ek vind G.P.D.Terblanche se opmerking, "Kry jou ry dat ons kan aangaan met die Koninkrykswerk" (VB,02.04), vreemd vir 'n Christengelowige. Waarom? Omdat dit nie Christus se gesindheid weerspieël nie, Hy wat niemand verwerp nie, aanhou met pleit by ons, en selfs aan die kruis 'n verloregaande gered het. Ek kan my dus nie voorstel dat Hy ooit sou sê: "Kry jou ry..." nie, en Hy is immers ons model wat ons navolg.

Terblanche sê voorts die kerk "gaan van kardinale belang wees om beskawingstandaarde te handhaaf, menseregte te beskerm en die só kritiek belangrike versoening te laat slaag"   -   horisontale versoening tussen mense, of vertikale versoening met God? Is dit nie om verkeerde verwagtinge aan die kerk te stel nie? Is dit Jesus se doel met Sy kerk? Jesus is juis deur Sy eie mense gekruisig omdat Hy nie aan hulle mensgesentreerde verwagtinge voldoen het nie.

Terblanche verwys ook na lidmate wat "aanmekaar fout soek by die kerk", 'n kerk wat "instrumenteel moet wees om lig en hoop in ons land te bring". Die vraag herhaal homself; Is dit die primêre taak van die kerk, gedagtig aan die NGB se artikel 29 wat Protestantse gelowiges oproep om baie duidelik te onderskei tussen die ware en die valse kerk?

Ons mag nie uit die oog verloor dat ons onsself vandag in 'n nasionaalwye totaal getransformeerde omgewing bevind nie, 'n omgewing waarbinne ook die kerklike landskap transformasie ondergaan. Binne hierdie kerklike landskap-in-transformasie mag ons nie mense die kerk belet nie, veral nie hulle wat   -   soos 'n Martin Luther van weleer   -   stry om die behoud van die kerk se ware karakter in ooreenstemming met ons belydenisskrifte nie.