Thursday 31 May 2012

Sendingopdrag word vandag anders vertolk

Een van die nuwere gonswoorde in kerklike konteks is die begrip "missionaal", ontleen aan "mission" (sending). Met "missionaal" word nie heeltemal dieselfde bedoel as die evangeliserende sendingbegrip soos aan ons ouer geslag bekend nie. Dié begrip vorm deel van die konseptuele transformasie kenmerkend van die paradigmatiese denkverskuiwing ook in die NG Kerk.

Vir sommige beteken "missionaal" enigiets wat die Kerk doen om mense te help. Vir ander beteken dit die beywering vir sosiale geregtigheid wat, teoretiesgewys, ook steungewing aan die omverwerping van onaanvaarbare owerhede sou kon behels in 'n tydsgewrig waarin die moderne jeug se sosiale bewussyn en sosiale gewete rewolusionêr opgeskerp is. Christus self was nie 'n omverwerper van die onderdrukkende Romeinse owerheid nie.

Die Bybel roep ons op tot omgee en hulpverlening aan behoeftiges. Die gevaar bestaan dat die oorspronklike sendingopdrag   -   "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle...en leer hulle..." (Mat.28:19)   -   deur die nuwe "missionale" gedagte gedryf kan word in 'n gees van "Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper..." (Rom.1:25b).  Dié opdrag is primêr van 'n geestelike en nié materiële aard nie. Jesus self het eers deur onderrig die skares geestelik gevoed; daarna met brood en vis.

Vandag steeds oorskry mense se geestelike nood verreweg hul materiële nood, al word dit nie erken nie. In dié verband heers daar onsekerheid of missioloë dit dalk ten doel het om, in die naam van sosiale geregtigheid, die Kerk tot 'n welsynsgerigte nie-regeringsinstansie te transformeer as antwoord op mense se stoflike nood.                       (ngn)




Sunday 27 May 2012

Is 'n ideologievrye SA-etiek haalbaar?

Dr.Louis van der Walt se oproep (DB,26.05) vir die verhoging van S.A se eties-sedelike peil verdien ondersteuning. Hy vind die "swak etiese gedrag deur sommige landsburgers" onaanvaarbaar. Hy meen "die regering kán die etiekkwessie oplos" deur kennis te neem van wêreldwye ministeriële etiekrade en  -departemente as navolgenswaardige modelvoorbeelde.

Die Etiek verwys na die ondersoeking van norme verbonde aan menslike handelinge, indiwiduele handelinge sowel as die norme verbonde aan menslike verhoudings in die samelewing. Genormeerde handelinge impliseer waardes. Onderskeid is te tref tussen verskillende waardes-  en normekontekste   -   soos die Christelike, sosialistiese en humanistiese   -   en derhalwe ook verskillende etiekkontekste.

'n Menswaardige bestaanswyse, hetsy indiwidueel óf in samelewingsverband, noodsaak die kragtige invloed van gesagsvolle waardes wat normatief inwerk in ons keuses, besluite en handelinge. Vanwaar ons waardes? Hoewel nie uitsluitlik die  enigste nie, dien ons geloofs-  en/of ideologiese raamwerke as belangrike waardegenereerders en  -prioritiseerders in ons hiërargiese waardestelsel.

Geloofs-  en ideologiese verskille weerspieël ooreenstemmende waarde-  en etiekverskille. Hiervan bewus, plaas die ANC die klem voortdurend op eenheid met as doel die gelykmaking van enige waardeverskille. Daar mag dalk op vrome wyse na grondwetlike waardes as samebindende nasionale waardes verwys word, maar in die praktyk is dit dikwels veel eerder ideologiese ANC-waardes wat geld.

Meer as 'n dekade gelede al het prof. Kader Asmal met 'n ideologies getransformeerde waardestelsel sodanige waardes deur die onderwysstelsel in die breë samelewing probeer vestig, dog blykbaar sonder noemenswardige sukses. Dit lyk dus asof die S.A.-burgery eers eenstemmigheid oor gemeenskaplik gedeelte waardes moet bereik alvorens 'n fondament gevestig kan word waarop 'n geslaagde nasionale etiek gebou kan word. Die vraag is of 'n ideologievrye neutrale nasionale etiek vir 'n waardesdiverse S.A. wel haalbaar is wat almal se steun sal geniet.







Wednesday 23 May 2012

Die "bose" in Belhartaal veroordeel

Prof. Nico Botha se "As die bose die goeie wegkalwe", in Godsdiens Aktueel (DB,23.05), noop jou om te sê: Skoenmaker, hou jou by jou (teologiese) lees. Waarom? Omdat die "bose" vir hom  "...die bedrieglike, verdelende en fragmenterende plannetjies en praatjies van die (opposisie) politici...in die naam van minderheidsbelange..." verteenwoordig.

Ter aanvang erken Botha dat  "...die land opnuut geruk (word) deur voorvalle wat die morele verval...onderstreep...(en) op die hoogste regeringsvlak word (dinge)...gedoen wat ons...ernstige skade berokken." Dan verskuif hy die fokus na  "...mense wat in die mensonwaardigste en haglikste omstandighede lewe" , en vra dan of  "...daar 'n soort Christelike of godsdienstige manier (is) om op die situasie in die land te reageer?"

Botha sê  "...daar word slegs na uiters negatiewe ontwikkelinge in die land verwys...(wat) 'n groot gevaar inhou...om die bietjie mooi wat met moeite tot stand gebring is...(te) kan wegkalwe." Hy sê Christene kan 'n groot bydrae lewer deur  "...hulle nie langer te laat mislei deur...praatjies...in die naam van minderheidsbelange (nie)...(omdat) die gedagte aan minderhede in 'n demokrasie 'n groteske weerspreking is...(en) dit nie die toets van die Bybel deurstaan nie, veral as sulke minderhede deur ras en etnisisteit bepaal word."

Botha sê vir  "...die Bybel is 'n arme 'n arme en 'n verontregte is 'n verontregte. Verder word die eenheid van die kerk en die versoening tussen mense ernstig in gevaar gestel...", asof dit al   -   en hoofsaak   -   is waaroor die Bybel hom uitspreek.

Vir Botha is die "bose" dus hulle wat vashou aan die voortbestaan van minderheidsgroepe en die "goeie" dit wat polêr daarteenoor staan. In onverbloemde Belhartaal lewer Botha hiermee 'n pleidooi vir die horisontale versoening van mense, eerder as die primêr vertikale versoening met God   -   wat hy nêrens eers noem nie   -   deur middel van die subtiele strategie van skuldgevoelwekking.









Saturday 19 May 2012

Dubbele standaarde knel rasseharmonie

Uit onlangse nuusberigte word vrae soos die volgende gegeneer: Waar lê, vergelykenderwyse, die menseregtegrense van die gewone burger en dié van kunstenaars? Gewone burger of kunstenaar   -   per definisie ook maar 'n gewone burger   -   word ons dan nie grondwetlik  eenders begrens nie? Vanwaar die kunstenaar se "reg" om die eie menseregtegrense te oorskry en dié van medeburgers menseregtelik negerend binne te dring? Is enigiets toelaatbaar in die naam van die "kunste"? Is alle "kunstenaarsvoorstellings" grondwetlik gesanksioneer?

Van Brett Murray se "...omstrede uitstalling 'Hail to the Thief II'..." (DB,19.05), waaronder die gedeeltelik naakte voorstelling van pres. Jacob Zuma, sê die presidensie en Cosatu "...hulle is in murg en been 'gesteur, geskok en gewalg'... " deur dié uitbeelding, en eis die vernietiging van dié kunswerk.

In die berig, "Kapsie teen 'bevarking' van E.T. by die Kasteel" (DB,13.05.2010), word vertel van die "Skokkende skilderye, waarin die vermoorde Eugéne Terre'Blanche as 'n vark uitgebeeld word, (en dit) 'is maar net 'n taal' ...'n metafoor..."  vir die kunstenaar uit die "agtergeblewe gebiede", Ayanda Mabulu. Omdat net die Afrikaner-minderheidsgroep kwetsend daardeur geraak is, het enige besware op dowe ore geval.

'n Wit model se onlangs onaanvaarbaar kwetsende gebruik van die "k-woord" moet opgeweeg word teen die openbare uitlating van 'n swart model wat alle wittes dood wens. Getuig die openbare reaksie hierop nie van dubbele standaarde nie   -   'n onewewigtige balans in beswaarmaking?

Alhoewel die grondwet en handves van menseregte op papier die gelykheid van alle mense eerbiedig, word die alledaagse praktyk egter gekenmerk deur dubbele standaarde. Die verskillende rassegroepe word duidelik onder identiese omstandighede nie onder dieselfde kam geskeer nie. Dubbele standaarde knel die rasseharmonie in S.A.







Tuesday 15 May 2012

Kom ooreen om van mekaar te verskil

P.F. se reaksie op my skrywe het betrekking (DB,15.05). Hy het reeds vier briewe geskryf oor die Afrikaner-ANC-verhouding, gekenmerk deur kritiese verwyte teen Afrikaners vanweë gebrekkige samewerking. Interessant dat sy skrywes, behalwe myne, nog geen ander deelnemende kommentaar kon uitlok nie. My vermoede is dat P.F. een van die mees sensitiewe en verdelende faktore onder Afrikaners aanraak   -   die Afrikaner-ANC-verhouding.

Die deurlopende draad in P.F. se briewe-tapisserie is sy beroep op Afrikaners om hul ongekwalifiseerde steun en samewerking met die ANC, met ingeweefde borduurwerk van verwyte teen diegene wat samewerking weier.

'n Mening is een saak; 'n stelling iets anders. Ek sien graag dat P.F. sy stelling, "Die 'nuwe' Suid-Afrika is onberekenbaar beter as die 'ou' Suid-Afrika   -   ekonomies, staatkundig, polities, globaal en op alle ander lewensterreine" (DB,02.04), toeligtend substansieer aan die hand van stelling-spesifieke kriteria sodat dit duidelik sal blyk dat dit nie 'n uit-die-lug-gegrypte uitlating is nie, maar wel logies-beredeneerd met die inherente potensiaal om ander   -   soos ek   -   tot sy sienswyse te oortuig.

Ek en P.F. verteenwoordig twee onderskeibare Afrikanertipes. As hy die ANC vertrou met die Afrikanertoekoms, is dit sy reg. In dié vertroue deel ek nie. Waarom nie? Die ANC het nog niks gedoen wat my oortuig dat hulle die belange van minderheidsgroepe   -   waaronder Afrikaners en hul toekoms   -   met erns bejeën nie. Wanneer P.F. sê Afrikaners het "...geen toekomsvisie nie..." (DB,09.04), begaan hy 'n denkfout. Daar is nog Afrikaners wat nié deur 'n korrupte ANC ondergeploeg wil word nie. Daar bestaan talle voorbeeldbewyse van die feit dat die ANC die Afrikaner nie langer sy grondwetlike bestaansruimte in ons land gun nie, maar eerder 'n wraaklustige ingesteldheid openbaar.

P.F., ek stel voor dat ons mekaar se standpunte wedersyds respekteer en daarop ooreenkom om van mekaar te verskil. Ons sal mekaar nie oortuig nie.







Wednesday 9 May 2012

FAK en Solidariteit het 'n reg van keuse

Dit is opvallend dat niemand reageer het op P.F. se vorige skrywes (02.04 en 09.04) nie, of moet ek dalk sê dat niemand toegelaat is om daarop te reageer nie? Ek het daarop reageer, maar sonder enige sukses. Ek het reageer op sy aanvegbare stelling (DB,02.04) dat die "nuwe S.A." kwansuis "...onberekenbaar beter (is) as die 'ou' S.A.   -   ekonomies, staatkundig, polities, globaal en op alle lewensterreine." Net 'n ANC-lojalis kan dit sê.

In dieselfde gees as sy vorige skrywes, verwyt hy die Afrikanerorganisasies, FAK en Solidariteit, hul weiering om met die ANC in gesprek te tree (DB,09.05). Hy wil weet "wanneer gaan ons ophou wegvlug en laer trek om onsself te probeer beskerm?" Ek en P.F. deel beslis nie dieselfde siening van die ANC en hoe dié ons land regeer en sy burgers behandel nie. Waarom sal Afrikaners nie hulself beskerm nie?   -   die ANC, vir wie P.F. soveel lof het, doen dit nie! Waarom jou wanbalansige fokus alleen op "eenheid in verskeidenheid" en nié ook die verskeidenheid in eenheid erken nie?

"Die Burger" (09.05) berig skeptiese deelnemers aan die afgelope ANC-gesprek beweer daar was al soortgelyke gesprekke met géén positiewe gevolge nie. Een van dié skeptici is dr. Theuns Eloff, rektor van die NWU, wat beweer die "Afrikaanse gemeenskap is nie baie hoog op hul (ANC) prioriteitslys nie."

Dit is deur hand-om-die-nek-sit met die Afrikanervyandige ANC deur sommige Afrikanerorganisasies in die verlede dat Afrikaners hul vandag in die posisie bevind waarin hulle tans verkeer. Daar is nog diegene wat oor trots en selfrespek beskik. Die FAK en Solidariteit het 'n reg van keuse   -   respekteer dit asseblief.




Monday 7 May 2012

Distansieer van onbybelse uitsprake

Prof. Wentzel van Huyssteen   -   voorheen van die UPE; nou professor in teologie en wetenskap aan die Princeton Theological Seminary in Princetown, New Jersey in die VSA   -   het die volgende te sê oor sonde, die Bybel en wetenskap: "...met nuwe insigte...het die meeste teoloë lankal reeds aanvaar dat 'n historiese sondeval...totaal onaanvaarbaar is in die lig van wat ons vandag weet danksy wetenskaplike insig in die oorsprong van die mens en ons kosmos." Danksy "...die merkwaardige verklaringspotensiaal van die evolusieproses weet ons dat daar geen sprake kan wees van 'n sondelose 'paradys' nie...(en 'n) herinterpretasie van sonde en erfsonde maak dit moontlik om die onweerlegbare resultate van die moderne wetenskap te aanvaar."

Hierdie uitspraak verwerp 2 Tim.3:16 wat sê: "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig..." Vir hierdie teoloog is die wetenskap gesaghebbender as die Bybel.

'n Verdere voorbeeld: Prof. Louis Jonker van die Kweekskool op Stellenbosch sê: "Seksuele oriëntasie kan nie 'n kriterium wees waaraan kerklike ampsdraers 'gemeet' word nie. Indien wetenskaplike getuienis gesien word as deel van God se begeleiding van die kerk...kan homoseksualiteit nie as sonde beskou word nie..." Ook volgens dié uitspraak vergoelik "wetenskaplike getuienis" sonde, en word die Bybel ondergeskik gestel aan die wetenskap.

Van hierdie onbybelse teologiese uitsprake distansieer ek myself ten sterkste.






Wednesday 2 May 2012

Dwaalleer plaas kerktoekoms op die spel

'n Soldaat wat weier om te veg; 'n geneesheer om 'n siekte-epidemie te bestry, en iemand wat armsgevou sy buurman se huis sien brand, dui op growwe pligsversuim   -   indien nie verraad   -   onder kritieke omstandighede wat dringende handeling noodsaak. Dit is presies die posisie van sommige hedendaagse predikante wat, ten spyte van hul legitimasie-eed   -   waarvolgens hulle onderneem om alle dwaalleer te bestry   -   afsydig staan daaromtrent.

Daar heers 'n stryd in NGKerkgeledere waarvan lidmate én predikante, met weinig belangstelling buite die eie gemeentegrense, nie veel van sal weet nie. Dié stryd sentreer rondom die invoering van misleidende dwaalleer soos blyk uit, onder meer, algemeen sinodale besluitneming, boeke, geskrifte en uitsprake van kerkleiers in openbare beriggewing en radiodebatvoering.  Die Bybel waarsku ons teen dwaalleraars en hul misleidende dwaalleer soos ons dit vandag in Bybel- en Belydenisskrifbotsende uitsprake aantref.

Dit is vanselfsprekend dat kerklike dwaalleer herken, vertolk, benader en hanteer sal word ook teen die agtergrond van Bybelprofesieë. Profesievervulling moet ons juis wakkerskud uit 'n geestelik doodse slaaptoestand. Waarom wys leraars nie dié dwaling uit in die lig van eindtydse Skrifwaarskuwings, en soos hulle onderneem het, nie? Waarom swyg hulle?

In sy artikel, "Waarom Calvinistiese Kerke nie die Profesieë Verkondig nie" (02.12), sê prof. Johan Malan dat verskeie kerke nooit die soeklig op Bybelse eindtydprofesieë laat val nie. Hy skryf dit toe aan 'n verkeerde teologiese oriëntasie, vanweë Augustinus en Calvyn, wat nie die letterlike vertolking van eindtydse profesieë aanvaar nie. Hy sien min hoop vir dwalende kerke om self te reformeer, omdat die geestelike leiers "nie oop is vir oortuiging deur persone wat deur hulle as leke beskou word nie."

Met sy betrokkenheid by dwaalleer, plaas die NG Kerk sy toekoms op die spel.          (ngn)