Wednesday 21 October 2020

Behou nugter denke en vermy woedelokvalle




Mense is omgekrap, sommige kwaad, ander woedend. Redes verskil, so ook die vrag van die woedebagasie aanleidend tot die emosionele verhitting van die nasionale woedetemperatuur.

Met Julius Malema as verpersoonliking van swart woede, baat sy EFF daarby. Malema beweer witmense is besoekers aan Suid-Afrika (toegelaat met EFF-visums?)  en moet hulle daarvolgens gedra  -  'n onbesonne woede-uitspraak.

Die ANC blyk die grootste regstreekse oorsaak van die woedebron vir baie Suid-Afrikaners te wees, met die residuele woede van die historiese verlede bydraend daartoe. Alles tot rassekwessie gemaak deur die ANC, laat  -wrywing toeneem wat die vonk vir  -woede verskaf.

Die in hulself gefrustreerdes skop woedeverplasend die hond; so ook deur die blaam vir eie tekortkominge en mislukking na ander te verskuif. Soos 'n gevegshond aan 'n leiband, pas EFF-woede die ANC-revolusie soos 'n handskoen.

Nie alleen bied die media 'n EFF-platform vir plaaslike sowel as buitelandse steunwerwing nie, maar ook vir valse propaganda soos dat wit boere gronddiewe is.

Mag ons vra of Malema en EFF gewelddadige optredes, dreigemente en haatspraak dan nie 'n ernstige bedreiging inhou vir burgerlike en staatsveiligheid nie en,  derhalwe, as 'n strafbare vorm van terreur/terrorisme beoordeel moet word nie?

Malema se strategies berekende woedespel, soos gespeel by Clickswinkels en Senekal, moet nie onderskat word nie. Verlies aan nugter denke en selfbeheersing, vanweë emosionele oorreaksie, leen sigself om in gevaarlike woedelokvalle te kan beland.



Wednesday 7 October 2020

Braaidag kan nie kultuurerfenis red nie



Gedurende die afgelope 2020-Erfenismaand het die ANC se voorneme om uiteindelik alle spore van die Euro- en  Afrikaner-kultuurerfenisse binne die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap uit te wis, nog duideliker geword. Toenemende onverdraagsaamheid daarteenoor stuur die boodskap dat dié erfenisse nie veel langer geduld gaan word nie.

Selfs die staatspresident laat hom onvleiend, ondersteun deur minister Nathi Mthethwa  -  "Minister of Cultural Revolution" (politicsweb)  -  uit teenoor gemelde kultuurerfenisse. Verdere momentum aan propaganda is moontlik vanweë Patrick Tarriq Mellet, lank werksaam in die ANC-strukture, se pas verskene boek, "The Lie of 1652".

Die gedwonge verskuiwing van kultuurgroepe deur die vorige bedeling, is veroordeel tot 'n misdaad teen die mensdom. Maar nou die vraag: die verskuiwing van die Euro- en Afrikaner-kultuurerfenisse na "temaparke", bevat dit dan nie dieselfde gemeenskaplike element van gedwonge verwyderende verskuiwing nie?

Daar is reeds vroeër al begin met die gedwonge verwydering van beelde en skilderye van gemelde kultuurgemeenskappe na die donker kelderverdiepings van die parlement en sommige universiteite. Is dit nie 'n duidelike teken van kultuur- en rasgebaseerde erfenisse-segregasie (skeiding) nie?

Die ANC se valse omarming van ons multikulturele samelewing  - met weinig omgee vir ander kulture behalwe die eie  -  word as kultureel onverdraagsaaam ontmasker. As ideologies gedrewe samelewingsoffers aan Asazel, word die Euro- en Afrikaner-kultuurerfenisse, handopleggend deur die ANC, na "temaparke" verban om daar te sterf.

Indien ons eers- en daaropvolgende geslagte nie dié ANC-pogings tot uitwissing van ons erfenisse gaan teenstaan nie, gaan dit vernietig word. 'n Jaarlikse braaidag kan dit nie red nie.