Tuesday 25 March 2014

Suid-Afrika is 'n nasie van sakkrappers

Om histories aanwysbare redes loop die Engelse en Franse, as nasies, nie oor van liefde vir mekaar nie. By geleentheid het Napoleon Bonaparte spottenderwys na die Engelse as " 'n nasie van winkeliers" verwys. So sal elke nasie/volk waarskynlik, volgens elkeen se besondere kenmerke, tipeer kon word. 

As wat sou ons as nasie in S.A. tipeer kon word? Nkandla-beriggewing werp toenemend lig op waarom ons in S.A. 'n nasie van sakkrappers geword het. Nommer Een is duidelik die voorste (selfverontskuldigende) sakkrapper in S.A.   -   Sakkrapper Nommer Een   -   wat na hartelus in die S.A.-geldsak krap. Met hom, en deur sy voorbeeld,  aan die spits, het hy reeds 'n baie groot gevolg van mede-sakkrappers rondom hom opgebou met 'n domino-effek op alle bestaande vorme van nasionale-, provinsiale-  en plaaslike owerheidsgeldsakke in S.A.

Die etiek van hierdie sakkrapperbende word skynbaar gerig deur die oortuiging van "jy mag jouself help aan dit wat nie joune is nie, maar jy mag net nie uitgevang word nie". Die oortreding lê nie in die "vat" (sakkrap) nie, maar in die "uitvang".

Die sakkrappers in die vullissakke op ons sypaadjies   -  al mors hulle en word ons vir hulle vies   -   krap daarin omdat hulle arm en honger is, én hulle doen dit openlik. Dat ons nog nie voldoen aan die hoëre funksies van suksesvolle "kopkrap" in S.A. nie, maar wel aan die laere funksies van sakkrap, is duidelik. Dit maak van S.A. 'n nasie van sakkrappers.




Monday 17 March 2014

Kerkleier, teoloog se uitsprake vreemd

In Godsdiens Aktueel (DB,12.03) vertel dr. Braam Hanekom   -   moderator van die Wes- en Suid-Kaapse streeksinode   -   van sy besoek aan München tydens 'n konsultasiegeleentheid tussen kerk-  en sakeleiers van S.A. en Beiere. Sy terugvoer is eerder dié van 'n sakeleier as kerkleier. Sy opmerkings: "Die Bybel is propvol opdragte oor die...bewaring van die aarde" en "Die aarde is heilig, maar ons gebruik en misbruik haar (?) soos 'n prostituut...", is die enigste waardeur Hanekom homself as kerkleier identifiseer. Die res is sakeleierstaal. Ek vind dit vreemd.

Hanekom deel absoluut niks met ons oor wat die kerkleiers se bydrae tot dié geleentheid was nie. Geen melding word gemaak óf God in Sy Woord enige riglyne vir sakeleiers en die  -lewe verskaf nie. Maak Hy, as Skepper, dan nie ook die sakelewe moontlik, en staan dit nie ook onder Sy gesag nie? Kan die aarde tegelyk vervloek én "heilig" (soos Hanekom beweer) wees wanneer God vir Adam sê: "...vervloek is die aarde om jou ontwil"? (Gen.3:17/OAV). Betekenisvol dat hy die aarde as vroulik sien (misbruik "haar").

Ek vind ook dr. Chris Jones van die U.S. se teologiese fakulteit se "Kan eer ons bevry?" (DB,13.03)   -   oor die morele herstel van ons samelewing   -   eweneens vreemd. Hy bestudeer morele rewolusies en vind dat eer 'n sleutelrol daarin speel; "nie soseer rede of godsdiens nie...maar deur die krag van eer...wat met menswaardigheid te doen het", kan morele wanpraktyke beëindig word. Eer, waaraan die humanisme geboorte gee, kan morele verval genees   -   hoor ek dié Godgeleerde reg? Nêrens in sy artikel lees ek dat, sou eerherstel wél voorwaarde vir morele herstel wees, dit sy vertrekpunt in God en Sy Woord vind nie. Moet ons, as Christengelowiges, dié uitsprake sonder meer kritiekloos aanvaar?




Monday 10 March 2014

Dié teologie kom Bybelvreemd voor

In sy veelseggende "Christene moet opstaan teen dié wette" (DB,05.03), trek dr. Donald Katts   -   moderator van die Volkskerk van Afrika   -   nie net sterk te velde teen Ugandese wetgewing wat homoseksualiteit in dié land vervolg-  en strafbaar maak nie, maar sy beskuldigende argumente kom ook Bybelvreemd voor. Katts hou dit teen die 84% Ugandese Christene se "interpretasie van die Bybel". Hy verwerp wetgewing wat sy vertrekpunt in Bybelse voorskrifte neem, want dit maak dit "vir die gay gemeenskap onmoontlik om tot volle potensiaal te blom". Waar, vanuit die Bybel, regverdig Katts dié standpunt? Hy sê dit is iets waaroor "hulle volgens wetenskaplike bevindinge nie beheer het nie". Sedert wanneer dra menslik-verstandsbeoefende wetenskap groter gesag as die Geesgeïnspireerde Bybel?

Vir Katts weeg " 'n wêreld van menseregte met die klem op menswaardigheid" baie swaar, en verbreek die Ugandese wetgewing die "hoop vir 'n respekvolle, verdraagsame, diverse en harmoniese samelewing". Katts kies duidelik vir 'n samelewing wat berus op die gesag van sekulêr-humanisties menseregtelike menswaardigheid eerder as een wat berus op gesagsvolle Bybelse voorskrifte. Laasgenoemde werk vir Katts "vertragend en verdelend in op gelykheid, wedersydse respek, geregtigheid en vryheid van identiteit", met die resultaat "om mense in vrees te laat leef", wat "meer as onmenslik" is, en "nie strook met die inklusiewe boodskap van die Bybel nie". Het Katts dan vergeet dat die Bybel ook 'n eksklusiewe boodskap bevat   -   dit sluit nie net in nie, maar ook uit! Mag ons oordeel vanuit só 'n eensydig-verwronge interpretasieraamwerk van die Bybel?

Geskape na God se beeld, is die toetsvraag vir 'n "menswaardige" bestaan dan nie óf dit tegelyk ook Godwaardig (Bybelgehoorsamend) is nie? Vind die "menseregte"-gedagte sy oorsprong in die Bybel, of eerder in 'n rewolusionêr anti-Bybels ontkoppelde dampkring? Katts se teologie kom my beslis Bybelvreemd voor.            (ngn)






Thursday 6 March 2014

Bloed en geweld kenmerk Afrika-politiek

Wat is die ware Malema-agenda agter die bedrieglike politieke masker van dubbelpratery   -   oor sy planne om myne en banke te nasionaliseer en grondonteiening   -   wanneer hy aan sakelui van groot internasionale maatskappye belowe; "Moenie vrees nie, ons sal met julle saamwerk"? (DB,04.03). Is dit dieselfde persoon wie se EFF-baniere lui: "Honeymoon is over for white people in South Africa", en: "A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate"?

Al het Malema en sy EFF oënskynlik teen Zuma en die ANC gedraai, is dié twee partye eintlik maar net die keerkante van dieselfde muntstuk. Beide partye is voorstanders van geweld. Tydens die onlangse DA-optog na Luthuli-huis vertoon 'n ANC-plakkaat die volgende bewoording: "Don't go there. You will poke the beast and then it will bite you" (DB,13.02). Een van dié "beast"-ondersteuners se uitroep was: "Ek soek Zille se bloed!"

Dit ontbreek die Marxisties-Leninisties georiënteerde ANC en EFF nie aan bloeddorstigheid om hul verkiesingskampanjes ook met intimiderende doodsdreigemente te voer nie. Voeg daarby ook die politieke moorde waaroor die media byna met reëlmaat berig. Hoewel deursigtig, maak Malema se onvoorspelbare dubbelpratery   -   treffend uitgebeeld deur Fred Mouton se spotprent (DB,05.03)   -   van hom 'n baie gevaarlike persoon. Dieselfde geld ook tot 'n groot mate die regerende ANC se willekeurige vertolking en hantering van die grondwet.

Kyk ons noordwaarts op in Afrika, kom jy tot die gevolgtrekking dat die voering van Afrika-politiek deur geweld en bloedvloeiing gekenmerk word. As deel van Afrika, is S.A. dan ook geen uitsondering nie.