Tuesday 6 April 2021

Geen einde in sig aan US-taalstryd


 

Destyds verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit (voorheen UPE), het 'n skrywe van my  -  'n bietjie meer as 18 jaar gelede  -  op Maandag 21-10-2002 in die Oos-Kaapse "Die Burger" onder die opskrif "Moenie taalverraad pleeg" verskyn. Na byna twee dekades blyk dit steeds relevant bydraend te mag wees tot die onverkwiklik tragiese US-taalstryd waarvan die einde nie in sig blyk te wees nie. Ek haal 'n gedeelte daarvan woordeliks hierin aan.

 "Die multidimensionaliteit en -funksionaliteit van 'n taal kan en mag nooit ontken word nie. Trouens dit word weerspieël in die diversiteit van legitieme invalshoeke van waaruit deelnemers aan dié taaldebat deelneem.

 Die kernkonteks van die US, soos ook by ander hoëronderwysinstellings, behoort gedefinieer te word as 'n onderrig-leer-konteks. Die wese van die US-taaldebat behoort te sentreer rondom die primêr opvoedkundig-onderwyskundige taalbehoefte van studente. Dit is binne dié konteks waar moedertaal innig verweef is met werklikheid, waarneming, verskillende denkvorme en -uitkomstes, betekenisgewing, retensie, denkontwikkeling en, uiteindelik, potensiaalontwikkeling.

 Tale dien as sleutels wat mensepotensiaal oop-/ontsluit, of nié oop-/ontsluit nie. In dié verband het Afrikaans hom reeds voldoende bewys as 'n sleuteltaal.

 Die US durf dus nie taalverraad pleeg teenoor almal vir wie die Afrikaanse taal 'n sleuteltaal was, is en sal wees in die ontwikkeling van hul potensiaal nie. Die US-taalbeleid moet nie toelaat dat Afrikaans ooit tot taalkarkas vir die taalaasvoëls gemaak word ten koste van die potensiaalontwikkeling van die Afrikaanssprekende jeug nie."

 

 


No comments:

Post a Comment