Wednesday 24 June 2020

Kan ons by Frankl oor inperking leer?


Was daar ooit tevore 'n periode van globale menslike inperking op dieselfde skaal soos deur Covid-19 teweeggebring? Histories kom inperkings wel in verskillende kontekste voor, soos voorbeeldgewys, tydens siekte-epidemies, asook militêre beleërings en/of konsentrasiekampe tydens oorloë.

'n Beleërde stad in Ou Testamentiese tyd is inperkend verhonger sodat inwoners tot kannibalisme gedryf is (2 Konings 6:28-29). Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die Boere Mafikeng en Kimberley aan die wesfront, en Ladysmith aan die oosfront, beleër, en het self 26 000 plus sterfteverliese in die Britse konsentrasiekampe gely.

Een van die mees aangrypende ervaringsgebaseerde verhale van Joodse inperkingslewe in Duitse konsentrasiekampe tydens Wêreldoorlog 2, is dié van Viktor Frankl soos meegedeel in sy boek Man's Search For Meaning.

Hoewel nie naastenby vergelykbaar nie, deel ons in sommige van dié Joodse ingeperktes se ervarings soos dié van vryheidsverlies, angsbelewing, doodsvrees, voedselskaarste, onsekerheid, familieskeiding en selfs selfdoodgedagtes.

Inperking werk sterk in op die mens se psigiese lewe, Frankl se spesialisgebied. Deur sy selfopgelegde stryd om die behoud van 'n positiewe geestesgesteldheid, het hy oorleef. Sy bekende To live is to suffer, and to survive is to find meaning in the suffering, dui daarop dat hy in alle omstandighede na 'n sinvolle bestaansbelewenis gestreef het.

Gevoed deur 'n diepgesetelde geloofsbasis het Frankl met 'n positief sinsoekende ingesteldheid die onmenslike konsentrasiekamptoestande oorleef.

Beskik ons ook oor dieselfde ingesteldheid om hom dit na te doen gegewe die Covid-19-pandemie, sowel as die oorkoming van die ekonomiese skadeberokkening veroorsaak deur die ANC-leierskap se gebrekkige hantering daarvan?






No comments:

Post a Comment