Wednesday 5 August 2020

Boerderygemeenskap kry nie erkenning nie





Thoko Didiza, minister van landbou, se veroordeling van die Hartswatermoorde word verwelkom. Nou moet pres Ramaphosa ook net erken dat sy 2018-uitlating in die buiteland, dat hy van geen plaasmoorde weet nie, 'n onjuiste vergissing was. Dit behoort veel by te dra tot die verbetering van verhoudinge tussen boerderygemeenskap en staat.

Ons almal is afhanklik van, en het belang by, die boere en plaaswerkers vir bestendige voedselvoorsiening, dog hulle word vir te lank reeds deur die ANC gekasty.

Die behandeling wat boeregemeenskappe as noodsaaklike voedselverbouers van die ANC-regering ontvang, sluit, onder meer, die volgende in: 'n onsekere en verwarrende landboubeleid, dreigende onteiening sonder vergoeding, voorkeur finansiële hulp eerder aan opkomende boere as kommersiële boere, poging tot sentralisering van boere se voedselhulp om onder ANC-vlag versprei te word, asook verdere destabilisering van dié landbou-ekonomiese sektor.

Die ANC misgis hom indien hy dink ons almal voer 'n doofstomblinde bestaan en nie weet wié hulle aan drank vergryp sodat hospitaalbeddens onnodig daardeur beset word nie. Die ANC aarsel nie om ook die onskuldiges te straf waaronder, veral, drank-  en wynprodusente en  -uitvoerders.

Tragies-ironies is dit veral Afrikaanse boere, die nasate van volksgenote wat  -  vanweë wan-  en ondervoeding in hul duisende in Britse konsentrasieklampe gesterf het  -  vandag vir die ganse bevolking in die voorste linie teen voedselgebrek moet veg.

Maar, toemaar, ook Josef, 'n Israeliet, het vir sewe "maer jare" alle Egiptenare van kos voorsien. Enige verskil? Hy het erkenning gekry. Waarom nie ook ons boere nie?




No comments:

Post a Comment