Wednesday 19 August 2020

Ommekeer in Skrifbeskouing skaad NG Kerk




Die Algemene Sinode (2019) van die NG Kerk se aanvaarding van verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag geniet volgehoue openbare publisiteit. So, vanwaar dié besluit?

My eie mening, en ek het een, hou ek op hierdie platform egter vir myself vanweë die omstredenheid van dié besluit. My kommentaar rus derhalwe op die kontroleerbaar feitelike.

In hoofsaak is dié besluit terug te voer na 'n omgekeerde (getransformeerde) Skrifbeskouing. Voorafgaande aan die afgelope vyftig tot sestig jaar, was die algemeen aanvaarde Skrifbeskouing in dié kerk dat die Bybel geskryf is onder die direkte leiding van die Heilige Gees as die geïnspireerde Woord van God.

Die heersend omgekeerde Bybelskouing verskil skerp van die voorgemelde. Die Bybel word vandag gesien bloot as 'n kultuurhistoriese geskrif, deur mense geskryf vir 'n bepaalde tydvak, en gekenmerk deur 'n "agterhaalde plataarde wêreldbeskouing", onbetroubaar vir vandag en daarom veranderbaar.

Dié ommekeer het tot gevolg dat geloofsekerheid en absolute waarheid vervang word deur verstandsgebaseerde historiese kritiek teen die Bybel, volgens 'n Skrifkritiese benadering, waarvolgens die Skrif by die gees van die tyd aangepas word.

Die vroeëre siening van die huwelik as Goddelike instelling as verbintenis tussen 'n man en vrou, word omgekeer na die aanvaarding van selfdegeslag huwelike weerspieëlend van die tydsgees. Vandaar die NG Kerk se noodsaak aan 'n nuwe huweliksformulier.

Vroeëre NG Kerkbesluite, Skrifbeskoulik-omgekeerd gebaseer, het tot grootskaalse ongelukkigheid, spanning en onmin gelei sodat duisende lidmate dié kerk reeds verlaat het.En die jongste besluit, waartoe gaan dit lei? Skrifbeskoulike verskille blyk onoorkomelik te wees om intern bygelê te kan word.                    (ngn)







No comments:

Post a Comment