Monday 30 November 2015

Ook NP het universiteite onderfinansier

Onder die opskrif: "Universiteite in SA verkrummel!", berig "Beeld' van Saterdag 21 Mei 1988   -   27 jaar gelede   -   soos volg: "Universiteite 'verkrummel' as sentrums van geleerdheid terwyl 'pragtige retoriek' uit mnr.F.W.de Klerk, minister van Nasionale Opvoeding, se mond bly rol.

"Só het prof.Charles Wait, voorsitter van die Komitee van Universiteitsdosenteverenigings (KUDV), gister in Pretoria op 'n nuuskonferensie gesê. Die KUDV het...sy misnoë oor...die staat se finansiering van universiteite en krimpende salarisse van dosente uitgespreek...universiteite se probleme is volgens prof.Wait dat die staat nie sy verantwoordelikheid nakom nie."

Ek is nie in die beste posisie om dié twee universiteitsbedelings, 1988 en 2015, as "appels" akkuraat met mekaar te kan vergelyk nie, dog vir my blyk daar in beide gevalle weinig verskil te wees wat betref 'n staat wat nie sy verantwoordelikheid nakom by wyse van behoorlike befondsing nie.

Die NP-bedeling van 1988 sou internasionale sanksies, boikotte, uitgerekte grensoorlog en die bekamping van binnelandse ANC-terreuraanvalle as redes vir sy onderfinansiering kon aanvoer. Van dosente, synde een van hulle, is verwag om onderbetaling te aanvaar   -   met behoud van volgehoue partylojaliteit   -   as bydrae tot die totale aanslag teen SA.

Watter verskonings bied die ANC aan vir sy lae prioritisering van universiteite soos die NP voor hom? Onoordeelkundige implementering van die ANC-vryheidsmanifes laat duisende swak gekeurde (indien wel gekeur) studente, met onstuitbare verwagtinge, universiteite oorstroom, gekenmerk deur 'n geldverkwistend hemelhoë druipsyfer.

Sy toegee aan studente se finansieel onhaalbare eise bied die ANC   -   wat eiebelang bó SA stel   -   egter 'n gulde geleentheid om verlore aansien en vertroue by sy kiesers te herwin deur middel van dié stemkoping met belastingsbetalersgeld.








2 comments:

  1. Ek dink die keuringsproses van studente moet dringend aandag kry. Wat sou die vergelykende "uitval-syfers" tussen "toe" en "nou" wees? Koerante is "polities korrek" en die berigte oor hoeveel studente uiteindelik klaarmaak ( binne die aantal jare per vakrigting bygesê) is uiters skraal. Elke student wat wegloop sonder om 'n kursus klaar te maak of in 'n langer tydperk klaarmaak, kos derduisende rande wat in die water gegooi word.

    ReplyDelete
  2. Hier is een van die min artikels (ook al 'n paar jaar gelede!): http://mg.co.za/article/2013-05-17-dropout-rate-points-to-lack-of-support

    ReplyDelete