Wednesday 4 March 2020

Is ons onderweg na Zimbabwe-Suid?




Die ideologies alles transformerende sosialisties-kommunistiese ANC met sy oorbesoldigde, onderpresterende amptenary op al drie regeringsvlakke  -  dikwels korrup en onbekwaam tot bevredigende dienslewering en produktiwiteit  -  het ons afwaarts gevoer tot op die rand van rommelstatus.

Die staatskas is tot ANC-toegeëiende beursie gemaak, parlementêre gesag en besluitneming na Luthuli Huis verskuif met staatsbelange ondergeskik aan ANC-belange. Die mislukkende ANC lei ons 'n mislukte staat binne.

ANC-dwaling dat die goudpot aan die einde van die reënboognasie onuitputlik is, lei tot roekelose geldvermorsing. Ons skuld is astronomies, ekonomiese groei volg 'n dalende kurwe , en die koronavirus wat ons nog nie bereik het nie, se suksesvolle hantering gaan leierskap verg waaroor ons nie beskik nie.

Werknemers moet oral, met traumatiese gevolge, verminder word. Oortollige staatsdienswerkers  -  die ANC se (stemmeversekerende) idee van werkskepping  -  moet verminder word. 'n Tot nou toe gevestigde rojale leefwyse word nou bedreig, terwyl die minder gelukkiges na die broodlyn, en daaronder, beweeg.

'n Omgewing vir landswye protes en klimaat vir rewolusie, wat vlak onder die oppervlak broei, word geskep, terwyl een van die grootste probleemoorsake, oorbevolking, kortsigtiglik steeds onaangespreek bly   -   simptome ooreenstemmend met ons onmiddellike noordelike buurstaat.

'n Vraag van oorlewingsbelang is of die voortgesette tentakelryke nasionale demokratiese rewolusie, volgehoue ideologiese transformasie en toepassing van die voorgenome onteiening sonder vergoeding, ons nie uiteindelik tot die naamsverandering van die Republiek van Zimbabwe-Suid gaan dwing nie?



No comments:

Post a Comment