Monday 14 December 2020

Militêre strateeg se mening hier nodig





 


 Danie Theron (12.12) se skrywe het betrekking. Ek bevraagteken die billikheid van sy kritiek op die Boere se guerillastryd daarin.

 Dalk nie so bedoel nie, vind ek sy skrywe onsimpatiek, kwetsend en onsensitief teenoor ons Boerekrygers wat goed en bloed, in 'n ongelyke stryd teen 'n Britse oormag, ter wille van volksvryheid opgeoffer het, al sou dit ook guerillataktiek insluit.

 Beskik Theron oor strategiese militêre kennis om die Boere se guerillataktiek gesaghebbend te kan beoordeel, of is hy 'n leunstoel kritikus? Sy "geploetery" van die Boere as "avonturiers" is onvanpas. Etiketteer ons dan diegene wat vir volksvryheid sterf as "avonturiers"?

 Theron beweer "Paul Kruger (het) in Switserland aan sy pyp sit en suig" terwyl honderde kinders in konsentrasiekampe gesterf het. Ek vind hierin 'n gebrek aan respek vir 'n heroïese figuur wat as die simbool van Afrikanernasionalisme  - opponerende Britse imperiialiste soos Rhodes, Jameson en Milner  -  beskou word.

 Dit was juis dikwels die Afrikanervroue en -moeders van sterwende kinders wat hul mans aangemoedig het om die vryheidstryd op die slagveld vol te hou, hul onbeskryflike ontberinge en lyding in die konsentrasiekampe ten spyt. Ons eer die nagedagtenis van dié dapper Afrikanervroue en -moeders.

 Ek distansieer my van Theron se mening, en verlaat my veel eerder op die mening van 'n ervare militêre strateeg wat objektief na die totaliteit van omstandighede tydens die ABO kan kyk, en 'n gebalanseerde en gesaghebbende oordeel oor die Boere se guerillastryd kan vel.

 


No comments:

Post a Comment