Tuesday 16 March 2021

Leiers van teleurgestelde verwagtinge


 

By nadere ondersoek mag ooreenkomste gevind word tussen "Slim Jannie" Smuts, oorlogstydse Boeregeneraal, en "Slim Wim" de Villiers, US-rektor.

 Intellektueel geniaal het Smuts, na die Anglo-Boereoorlog, sy in ellende gedompelde verslane volksgenote verruil in voorkeur vir die vriendskap van die Engelse oorwinnaar. Sy verslane volksgenote moes hul -erfenis verwerp en deel word van die Britse Empaaier  -  'n omstrede leier van teleurgestelde verwagtinge.

 In 'n onderhoud van Jan-Jan Joubert met die huidige US-rektor, gepubliseer in "Matieland" (Jaargang 58, 2015), was Joubert op soek na "die wese van die nuwe rektorsiel".

 As student het die US-rektor uitmuntend presteer. Hy was "lid van 'n groep genaamd 'Stellenbosch moet oop' (en) ten gunste van studente-aktivisme...'n goeie ding". Hy verwys na homself as " 'n sogenaamde linkse in 'n studenteraad van dertien".

 As skrander akademikus het hy blootstelling aan buitelandse Engelstalige universiteite soos Oxford, Harvard en Kentucky geniet; plaaslik ook Ikeys, 'n duidelike beïnvloeding waarvan hy sê: "ek het baie Amerikaner in my", en hy "vind dit vreemd dat 'n universiteit 'n taal moet bevorder", 'n duidelik nie-wetenskaplike uitspraak.

 Vanuit die staanspoor (2015) was hy van voorneme om teen 2020 die US tot 50% swart studente, van die totale studentetal, te diversifiseer.

 Soos wat Smuts die na-oorlogse Afrikanervolk se verwagtinge teleur gestel het, so word ook die Afrikaanssprekende studente aan die US se verwagtinge ten opsigte van onderrig in hul moedertaal, teleur gestel.

 


 

 

No comments:

Post a Comment