Wednesday 8 February 2012

Hieroor sal God self finaal oordeel

Die polemiek oor oud-genl. Johan van der Merwe se memorandum aan die NGK-moderamen het betrekking. In die lig van die verdoemende en veroordelende kommentare van NG Kerkleiers daarop, die volgende vraende opmerkings:

Sal hierdie kerkleiers asseblief vir ons in die Bybel uitwys waar Christus Sy volgelinge opdrag gegee/aangemoedig het om regerings, in die algemeen, en/of die Romeinse owerheid van Sy dag, in die besonder, gewelddadig omver te werp? Toe die kommunisties-geïnspireerde rewolusie op sy felste was, en die SAP en veiligheidsmagte moes voorkom dat S.A. in totale chaos en vlamme opgaan, wáár was dié veroordelende kerkleiers en die polisielede van destyds onderskeidelik? Is daar sprake van enige pastorieweduwees soos wat daar wel van polisieweduwees sprake is vanweë dié rewolusie?

Wié het hulself snags heerlik warm agter vroutjie se rug gekoester met slaaptyd, en wié moes die lewensgevaarlike taak verrig om die burgery se lewens en eiendom te beveilig? Is dit nie so dat die Bybel ons leer/waarsku dat God se Koninkryk nie deur geweld gedien word nie? En toe die bevrydinsteologiese geestelikes die pad van vernietigende geweld kies, was dit Bybels gefundeerd? En toe hulle kies vir geweld, teen die Gees van die Bybel in, kies hulle Marxistiese geweld, en loop skouer-aan-skouer in massa-optogte onder die vaandel van die anti-christelike hamer-en-sekelsimbool. Is dit nie so nie? Is dit nie ook so dat dié rewolusie, eens buite die NG Kerk as geestesvyand, nou ook dié kerk onbybels binne gedra is met verskeie frontaanvalle daarop, en dit vanuit eie geledere nie?

Liberale kerkleiers beskuldig Van der Merwe dat hy apartheid verdedig (DB,07.02). Die waarheid is dat húlle rewolusie verdedig. As Regter sal God self hieroor die oordeel vel.         (ngn)




No comments:

Post a Comment