Wednesday 11 March 2015

Geestelik- eerder as literêr volwasse

Ek en Perfidius Albion (PA) (DB,11.03) lees E.C.Botha (DB,09.03) se besadigd nie-aanvallende skrywe beslis deur twee verskillende brille   -   PA waarskynlik deur 'n literêr-kritiese, en ek deur 'n geloofsbril. Ek ondersteun Botha in sy standpunt waarvolgens hy sy "weersin oor die inhoud" van geskrifte, wat nié met ons Christelike geloofsetos versoenbaar is nie, verwoord.

By die lees van PA se skrywe vra ek, as Christengelowige, myself die vraag af: Wat bring diens aan die literêre afgode van ons dag   -   dink aan die onlangs druk-gedebateerde "Fifty Shades of Grey"   -   Christene in die sak? Daar is 'n streep, 'n grens, wat Christengelowiges net eenvoudig nié oorskry nie. Hierin is Woordgesag die gesagsmaatstaf vir alle ander woorde; ook "literêre woorde".

Wat ons lees, of nié lees nie, is 'n kwessie van persoonlike keuse wat op ons waardestelsel   -   Christelik óf sekulêr   -   berus. Nie net ons waardes, maar ook ons gewete is hierin deurslaggewend. Die Christengewete word deur die Heilige Gees gelei. Verder bely Christene dat hulle hul hande, voete, oë en ore vir Sy diens beskikbaar stel, en tegelyk tempels is waarin Hy woon. Hoe kán ons dan deur ons sintuie, willens en wetens, bewustelik dinge in dié tempel toelaat wat ons wéét nie daar tuishoort nie? 'n Fontein laat mos nie tegelyk vars-  en brakwater opborrel nie?

Hoor ek die oer-misleidingstem: "Het God regtig so gesê?" ook in die kontemporêre "literêrestem"? Saam met Botha verdra ek eerder beskuldigings van literêre onvolwassenheid, en streef na geestelike volwassenheid.                       (ngn)




No comments:

Post a Comment