Monday 23 March 2015

ANC-mensbeskouing laat verwoestingspoor

Een van die krities belangrike vertrekpunte vir opvoeding en onderwys is die mens-  en wêreldbeskouing van 'n gemeenskap en/of samelewing. In 'n multikulturele samelewing, soos SA, kom   -   vanweë kultuur-historiese faktore   -   mensbeskoulike verskille voor, en bestaan die moontlikheid derhalwe dat sommige deur die dominante beskouing (teenswoordig dié van die ANC) benadeel mag word.

Die skool   -   ouers veral dikwels onbewus daarvan   -   indoktrineer kinders subtiel   -   deur onderrig-leerinhoude, -metodes en  -doelstellings met die leerkrag as rolmodel   -   tot die aanvaarding van die staat se mensbeskouing met die doel van die kweek van owerheidslojale landsburgers.

'n Dominante faset van die ANC-mensbeskouing, met sy standaardverlagend vernietigende uitwerking op die onderwys en ander samelewingsektore, is sy populêre uitspraak: "Everyone has potential". Hoewel waar, is dit egter 'n halwe waarheid. Die volle waarheid is dat nie almal oor ewe veel potensiaal beskik nie. ANC-denke ontken dit heftig, en enige verwysing na potensiaalverskille word summier as rassisties verwerp.

Hierdie mensbeskoulike potensiaal-ontkenning het die erodering van SA se menslike potensiaalbron, wat in belang van SA en en al sy mense benut kon word, tot gevolg. Nie merietevol bewese potensiaal nie, maar partylojaliteit, nepotisme en ras is ANC-kriteria vir aanstellings en bevorderings. Nimmereindigend uitgerekte mannekrag-,  tyd-  en geldverkwistende hofgedinge, om die burgery teen endemiese korruptheid en uitbuiting te beskerm, is simptomaties hiervan.

Die argaïese en uitgediende ANC-mensbeskouing beskik nie oor die nodige lewensvatbaatheid vir die ontwikkeling van 'n moderne SA in 'n sterk mededingende wêreldomgewing nie. Dit is verstikkend en versmorend; 'n rasgesentreerde mensbeskouing waarvan die spoor van verwoesting duidelik sigbaar is.                   (ngn)






No comments:

Post a Comment