Tuesday 23 September 2014

Konteks en doel van Christus-volgeling

Ek kruis nie swaarde met T.du Preez (DB,22.09) oor sy steunende voorkeur vir die begrip Christus-volgeling bo die begrip Christen nie; dis sy reg. Ek wys egter op die konteks waarbinne, en doel waarvoor, dié begrip bevorderend gebruik word.

In haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", wys Tamara Hartzell op die Nuwe Spiritualiteit-konteks waarbinne Christus-volgeling gebruik word. Gemelde konteks wil alle Christene tot Christus-volgelinge transformeer ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World". Vir laasgenoemde is die begrip Christen té eng en eksklusief, en word geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeeldheid, vooroordeel, wettisisme en veroordeling.

Christene baseer hul geloof op die waarhede soos vervat slegs in God en Sy Woord. Christus-volgelinge kan aan enige godsdiens of geloof behoort; dade is belangriker as geloof; waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind. Die toenemend eenwordende wêreld benodig 'n eengeworde kerk wat Christene se God, as enigste erkende Weg, onaanvaarbaar vind. 

In die Nuwe Wêreldorde, met sy eengeworde kerk, sal Christus-volgelinge nie-dogmaties, versoenend, akkomoderend, nie-veroordelend en toegeeflik teenoor ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid en elkeen kan op eie manier die eie weg volg in die soeke na dié wese. Die Nuwe Spiritualiteit met sy "Emerging One Church" sal deur die wêreld verdra word, en self sal dit verdraagsaamheid bevorder.

Christus-volgeling is 'n subtiel gekose begrip om nié te verdag te lyk ter bevordering van dié sinkretistiese eenwêreldkerk nie. Is Du Preez hiervan bewus?             (ngn)




1 comment:

  1. Kom ons begin by die woord "Christus" wat dikwels in die Bybel in verband met Jesus genoem word, soos byboorbeeld Martha in Johannes 11 v 27:

    “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

    Dit kom van "christos", 'n Griekse woord wat beteken "gesalfde". Dit beteken dieselfde as die woord "mashiach" oftewel Messias. So om die Christus te wees of die Messias, beteken "die gesalde Een van God".

    Wie homself "CHRISTEN" wil noem, moet dus erken dat Jesus die Christus, die Gesalfde Een van God is. Baie mense soos die New Agers, het nie die vaagste benul van die oorsprong van die woord "Christen" nie en maak die woord goedkoop.

    ReplyDelete