Tuesday 16 February 2021

ANC-vure vernietig president Ramaphosa se "fynbos"




In sy 2021-SONA-aanbieding beweer president Ramaphosa dat ons "nasionale fynbos" simbolies aan die brand is. Voorbeelde van dié verwoestende brande is legio. Van die twintig gevaarlikste wêreldstede is ses daarvan Suid-Afrikaanse stede (onder ANC-bewind).

Vir die soveelste keer was ook die afgelope presidensiële voordrag 'n groot teleurstelling.Oor seker die mees endemies verlammende probleem onderliggend aan steriele groei en gebrekkige ontwikkeling  -  die kwessie van staatskaping en korrupsie  -  het die president weinig gesê.

Vir 'n baie lang tyd reeds is korrupsie en staatskaping ondergeskik aan ANC-belange met die belastingbetalende burgery wat vir vervalste staatsrekeninge en finansiële kaderknoeiery moet betaal.

Natuurlik was die SONA nie 'n geleentheid uitsluitlik oor korrupsie nie, maar waarom so weinig oor die Zondo-kommissie en die vervolging van korruptes? Suid-Afrika hou asem op; ons toekoms is by 'n waterskeiding. Dui dit op ANC-prioritisering van groter lojaliteit teenoor ANC-eenheid as nasionale belang en -eenheid?

'n Gebrek aan dringendheid van voorgenome optrede asook aan oortuigingskrag in aanbieding, bring die vraag na die geloofwaardigheid en nasionale inspirasie wat daar uitgaan van president Ramaphosa se leierskap, na vore.

In teenstelling met die wêreldkenmerk van ongelooflike vooruitgang en versnelde lewenstempo, ontwaak die Afrikareus maar langsaam. Vandaar dat SONA-inhoude van jaar tot jaar weinig verskil en onuitgevoerde beloftes teleurstellend toeneem.

Wat die president se simbolies brandende "fynbos" betref: wie of wat anders as die selfaangesteekte ANC-vure is besig om dié "nasionale fynbos" te vernietig?



No comments:

Post a Comment