Sunday 31 January 2021

Wetenskaplike rasionaliteit is 'n vorm van geloof




George Claassen (29.01) verwys in sy kritiek teen dr. Frits Gaum na "die irrasionele sprokies...wat so kenmerkend is van alle gelowe", impliserende daarmee ook die Christelike geloof. Hy beweer die "irrasionele sprokies" van die Christelike geloof word deur "wetenskaplike ontdekkings...weerlê".

Dit verbaas my dat Claassen nie laat blyk dat sy eie geloof, dié van wetenskaplike rasionaliteit, self ook deel uitmaak van die "alle gelowe" wat, volgens hom, gekenmerk word deur "irrasionele sprokies".nie.

Kan 'n rugbywedstryd volgens sokkerreëls hanteer word? Verseker nie. Dit is presies wat Claassen doen wanneer hy die interne spelreëls/kriteria van sy eie geloof  -  wetenskaplike rasionaliteit  -  ekstern toepas op die Christelike geloof. Dit is wetenskaplik ontoelaatbaar.

Claassen se kritiek hou geen bedreiging in vir ons geloof as Christene nie, mits ons dié toenemende vyandigheid teenoor die Christendom sien as die bevestiging van die Bybels profetiese voorspelling waardeur ons geloof juis verder versterk word.

Synde produkte van die wetenskap, bied Covid-19-entstowwe slegs begrensde antwoorde op dié pandemie. Die wetenskap bied geen algemene kuur teen die angs, vrees en onsekerheid wat daarmee gepaard gaan nie. Christene vind hieromtrent troosvolle vrede in 'n lewende verhouding met 'n transendente Wese in wie hulle gelowend hul vertroue stel.

Die wetenskaplik rasionalistiese geloof is begrens. Daarteenoor ken die Christelike geloof geen grense nie. Geen geloof laat sigself deur rasionele denke dissekteer nie, al blyk dit soms hoe noodsaaklik te wees  -  ook nie die Christelike geloof nie.



Tel. No. 041-9224522

No comments:

Post a Comment