Tuesday 26 January 2021

Ons kon tóé nog meer met minder doen


 


 

Elke maand het 'n eie bekoring. Leipoldt besing Oktobermaand; Desember dikwels 'n huweliksmaand  -  52 jaar gelede ook vir my en my vrou.

 'n Vrygeselkollega onderneem daardie somer 'n toer na Rhodesië, Mosambiek en Zambië. As deel van ons wittebroodsreis nooi hy ons saam op toer. 'n Eenmalig onherhaalbare geleentheid, aanvaar ons dié uitnodiging.

 Na ons Saterdagtroue, ontmoet ons hom die daaropvolgende Dinsdag in Messina. Onderweg daarheen oornag ons in Bloemfontein (R10), Pietersburg (R9-50) en Messina (R9) in hotelle.

 Ons motor, 'n Wolseley 1000, laat ons in Messina en reis saam met ons weldoener. Met slegs 'n bietjie kontant en R200 se reisigertjeks, vertrek ons na Rhodesië gebruikende die Britse geldstelsel met R2 vir 'n Britse pond.

 Verblyfkoste in hotelle te Umtali (R8-10), Beira (R12-30/480 escudos), Salisbury (R10-20), twee nagte by die Karibameer (R24-45), twee nagte by die Victoriawaterval (R34-20) en Bulawyo (R6-10), beloop soos aangedui. Ons visums vir Zambië daag nie op nie, en ons vlieg tussen Kariba en Victoriawaterval vir R34-20.

 Terug in Suid-Afrika kos 'n rondawel op Tshipise ons R1-90 per nag, Motel Numbi R5, 'n dagbesoek aan die KNP R3, en 'n Nelspruitse motel R7.

 Na aftrekkings het my Desembertjek R127-70 bedra; my vrou s'n minder. Ons het 'n totale afstand van 3312 myl in Suid-Afrika afgelê met 'n brandstofverbruik van 74 gellings wat R29-61 gekos het.

 Vyftig plus jare gelede kon ons met (relatief) minder meer doen as met vandag se meer waarmee ons toenemend al hoe minder kan doen, 'n vervloë era waarvan die huidige geslag waarskynlik weinig weet.

 

 


No comments:

Post a Comment