Monday 11 January 2021

Skrif- en Godsbeskouing onderlê gaygeskil




In sy "Kerkskeurders, laat God oordeel" (06.01), is Jan-Jan Joubert korrek in dié opsig dat God verseker oor kerkskeurders  -  die Kerk is Sy liggaam  -  sal oordeel.

Sy skrywe wek egter die indruk dat hy voorlopig dié Goddelike oordeelsrol wil speel, en God dit net moet kondoneer, met sy implisiet vingerwysende kritiek na die antigay kerklike groepering.

Myns insiens lê die kernverskil tussen die progay en antigay NG Kergroeperinge opgesluit in hul botsende Skrif- en Godsbeskouing.

Die Bybel, waaruit ons God en Sy wil vir ons lewe leer ken, word interpreteer: of meganies (aanvaar as onveranderbare Goddelik geïnspireerde Woord) of organies (aanvaar as menslike narratiewe oor God en Sy skepping in kultuurhistoriese konteks onderhewig aan verandering).

Ek debatteer die gaykwessie vanuit die meganiese Skrifinterpretasie en verwerp daarmee die organiese interpretasie. Ons kan nie op twee gedagtes hink nie; dis of die een of die ander waarvoor ons verantwoordelikheid aanvaar. Joubert stel nie 'n direkte interpretasiestandpunt nie, dog syne is, afleibaar, organies.

Aanvullend tot dié interpretasiespanning word sterk aanslae op die Bybel geloods deur dit te korrupteer deur vervalste vertalings en deur verkeerde vertolkings te diskrediteer. In soverre die Skrif gekorrupteer en gediskrediteer word, word dieselfde met die Godsbeskouing gedoen.

Joubert kies duidelik kant in dié debat, maar laat dit dan ewe vroom oor aan "die oordeel van God" wat hy in 'n organies geïnterpreteerde dampkring plaas. Nee, Jan-Jan, dit is nie die gaykwessie alleen wat die Kerk  -  en toekomstige soortgelyke kwessies  -  kan laat skeur nie, maar wel die onderliggende Skrif- en Godsbeskoulike interpretasie.



No comments:

Post a Comment