Friday 13 January 2012

Waarom word met vals grondteks volgehou?

Sedert 1983 vind daar 'n kommerwekkende grondteksverskuiwing in Afrikaanse Bybelvertaling plaas. Dit is nie meer dieselfde as die 1933-vertaling wat gebaseer is op die Textus Receptus, Tradisionele Teks of Meerderheidsteks vir Nuwe Testamentiese vertaling nie. Die 1983-vertaling gaan oor ontsaglik veel meer as net 'n Bybel in kontemporêre Afrikaans.

In sy boek, Tot hiertoe en nie verder nie, verduidelik W.P.D.de Waal dié grondteksverskuiwing. Twee Britse Bybelvertalers, B.F.Westcott (1825-1901) en F.J.A.Hort (1828-1892), was die Tradisionele Teks besonder vyandiggesind en wou dit, as grondteks vir Bybelvertaling, met hul eie geamalgameerde Codex Vaticanus (CV) en Codex Sinaiticus (CS) vervang. Laasgenoemde, terugdaterend na 350 n.C., is deur Konstantin von Tischendorf in 'n vullishouer in die St Katharina-klooster by Sinaiberg ontdek.

Om in hul doel te slaag om die Meerderheidsteks te vervang, moes hulle kon "bewys" dat hul geamalgameerde CV- en CS-teks ouer as die Textus Receptus is. Laasgenoemde word sedert 1624 so genoem, dog was voorheen as die Peshitta bekend   -   die heel oudste Bybel   -   en sedert 150 n.C. op die Tradisionele Teks gebaseer.

Deur middel van 'n oneerlike slenter slaag Westcott en Hort daarin om die veel ouer Meerderheidsteks met hul eie veel jonger geamalgameerde CV- en CS-teks te vervang vir toekomstige Bybelvertalings. Met die vertalingsuitgangspunt van "ouer-is-beter/geloofwaardiger" word die eeue-oue Tradisionele Teks verwerp en met die Westcott-Hort-leuen vervang.

Dit is tegelyk onverklaarbaar én kommerwekkend dat Bybelvertalers, predikante en selfs Christene wat van hierdie grondteksbedrog behoort te weet, swyg en nuwe Bybelvertalings kritiekloos aanvaar. Liewe Christengelowige, kry 'n 1933-vertaling , gebruik dit, bewaar dit soos goud en besorg dit aan jou nageslag ter wille van waarheidsbehoud.




1 comment:

  1. Alwyn Du Plessis wys my op 'n brief van TC Breitenbach vandag in Die Burger wat beswaar maak teen die sogenaamde grondteksverskuiwing in Afrikaanse Bybelvertaling wat afwyk van die Textus Receptus. Hy kla die huidige Bybelvertalers, predikante en selfs Christene aan dat hulle die grondteksbedrog aanvaar. Mensig!

    * Ek kan eerstens nie glo dat dit 'n debat is wat nog relevant is nie, 30 jaar na die 1983 vertaling die lig gesien het, en daar in elk geval 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel op pad is nie. En wat ek al gesien het daarvan, is uitstekend. Daar is al 9 vertalings beskikbaar: http://www.nuwekerkbybel.co.za/. Dit is juis 'n bronteksgeoriënteerde vertaling!
    * In die tweede plek: TC Breitenbach oorvereenvoudig die standpunte ernstig en maak boonop onder andere Westcott en Hort se navorsing verdag deur hulle van teksbedrog te beskuldig, sonder om dit met enige feite te staaf. Dit is doodgewoon onvanpas en nog onwaar ook! En dan verswyg TC ook nog die werk van Nestle en Aland, Metzger en vele meer wat daarna gevolg het!
    * In die derde plek: die Textus Receptus tekstradisie, wat hy aanhang as superieur, het net te make met die NT en is saamgestel uit Griekse tekste wat onvolledig was/is, en toe aangevul is uit die Latynse vertaling die Vulgaat, foute en al (bv Open 22:19 waar verkeerdelik "boek van die lewe" vertaal is ipv "boom van die lewe"). Dit kan dus glad nie aanspraak maak op 'n meer oorspronklike teksbasis nie! Alle tekstradisies is immers saamgevoegde en geredigeerde tekste van feilbare mense. Niemand kan staatmaak op absolute onfeilbaarheid nie. Die humanis Erasmus se Textus Receptus is dus ook feilbaar. En dan moet jy nog met die OT ook werk! Dit is immers deel van die volle Bybel!

    Wat geleerdes eintlik vandag doen, is om nie vas te val in die onvrugbare geveg oor watter tekstradisie nou meer oorspronklik is of nie, maar elke lesing op sy eie terme te beoordeel. Dit sou beter vir TC wees om oor vertalings te praat, en die meriete daarvan te beoordeel, as om oor die oorspronklike teks te gesels, want hy sal beter moet doen as om net verdag te maak.

    Lees meer oor die verskillende standpunte hieroor byvoorbeeld by http://www.bible-researcher.com/kutilek1.html wat 'n goeie standpunt hieroor het: "we refuse to be enslaved to the textual criticism opinions of either Erasmus or Westcott and Hort or for that matter any other scholars, whether Nestle, Aland, Metzger, Burgon, Hodges and Farstad, or anyone else. Rather, it is better to evaluate all variants in the text of the Greek New Testament on a reading by reading basis, that is, in those places where there are divergences in the manuscripts and between printed texts, the evidence for and against each reading should be thoroughly and carefully examined and weighed, and the arguments of the various schools of thought considered, and only then a judgment made."

    Chris van Wyk

    ReplyDelete