Tuesday 11 May 2010

Besorg oor kinders en kleinkinders

Chris se brief, "Ondersteun eerder jonges wat omgee" (DB,08.05), verwys.

Die slotsin van sy brief, "Moet ons in 2010 Dingaan se kraal besoek?", verwys na my vroeëre brief, "Verlede neig om homself te herhaal" (DB,04.05).

My antwoord aan Chris : Nee, Chris, jy hoef nie Dingaanskraal te besoek indien die hedegebeure jou nié besorg laat nie, maar moenie diegene wat dit wél wil doen   -   soekende na herhalende tendense   -   verkwalik nie.

In my brief (DB,04.05) het ek die ooreenkomste tussen twee stelle kontroleerbaar-feitelike gegewens probeer aantoon, die een stel van historiese, en die ander van kontemporêre aard. Hierdie ooreenkomste verskaf die brug vir tendensbepaling en sinvoller begryping van die kommerwekkende hedegebeure.

Hierdie ooreenkomste is nie in my brief (DB,04.05) geplaas nie, waarskynlik vanweë gebrek aan ruimte, en tog was dié ooreenkomste juis die essensie van my brief. Ek herhaal derhalwe dié ooreenkomste.

Ek sien 'n ooreenkoms tussen Dingaan (Zoeloeleier) en die huidige ANC-regering, 'n regering wat, ten spyte van 'n onderhandelde skikking wat in 'n grondwet-vir-almal kulmineer het, nié die belange van minderheidsgroepe   -   wit sowel as gekleurd   -   beskerm nie.

In Dingaan se verbod op vuurwapens in sy kraal, sien ek daarin 'n ooreenkoms met die ANC se vuurwapenwetgewing waarvolgens die "verkeerdes" ontwapen word ; ook in die afskaffing van die kommandostelsel vir landelike beveiliging.

Malema se "Kill the boer" kom ooreen met Dingaan se "Maak dood die towenaars!" Die Zoeloe-aanvalle op die niksvermoedende Trekkerlaers toon 'n ooreenkoms met die 3000-plus plaasmoorde dusver.

My besorgdheid oor die toekoms van my kinders en kleinkinders, dwing my om die hedegebeure ook teen die agtergrond van die verledegebeure te beoordeel, en daarom betyds na tendense van 'n moontlik herhalend-waarskuwende aard te soek.

No comments:

Post a Comment