Wednesday 31 March 2010

Evolusieteorie kan nie engele verklaar

In haar artikel, "Nog 'n spesie van die genus Homo gevind" (DB,27.03), propageer Elsabé Brits andermaal openlik die evolusieteorie.

Ek daag die ghoeroes van die evolusieteorie uit om die volgende verskynsels in terme van hul teorie te verklaar:

'n Plaasvrou in Zimbabwe werk in haar tuin toe 'n vreemde gevoel van onrus haar oorval. Sy is haastig huis toe, sluit die deure en begin bid. Algaande word sy rustig en hoor later 'n voertuig buite stilhou. Dit was lede van die weermag met enkele gevangenes by hulle.

Dié gevangenes vertel hulle wou die vrou en die plaashuis aanval, maar toe hulle op elke hoek van die huis 'n buitengewoon groot man, geklee in blinkwit klere en elk met 'n swaard in die hand, sien staan, het hulle gevlug en hulself aan 'n weermagpatrollie daar naby gaan oorgee.

Onlangs het Les en Liz (skuilname) en hul dogters (Engelssprekend), hier van Uitenhage, gebruiklikerwys aandgodsdiens gehou. In háár gebed vra een van die dogters die hand van veilige bewaring oor hulle vir die nag. Die volgende oggend vra Les se buurman of hulle die vorige nag enige probleme ervaar het. Natuurlik wou Les weet waarom dié vraag.

Die buurman vertel die vorige nag het sy hond onbedaarlik geblaf sodat hy genoodsaak was om te gaan kyk waaroor dié dringende geblaf. Hy het 'n buitengewoon groot man, geklee in blinkwit klere, net buite Les se erf sien staan met 'n blink voorwerp in sy hand. Les het hom glimlaggend verseker dat dit 'n engel was.

Evolusie-teoretici, sal julle dit asseblief vir ons verklaar?

Dié brief is gepubliseer in Die Burger (Oos-Kaap) van 31-03-2010.

No comments:

Post a Comment