Monday 5 March 2012

Benader "mediawaarheid" met perspektief

Die volgende is geen aanval nie, maar bloot die indruk wat ek kry dat mediaverbruikers toenemend bewus word van hoedanig die media met die weergawe van die waarheid omgaan. Ek noem dit "mediawaarheid". Die uitlig en beklemtoning van net sekere waarheidsfeite, die ooreenstemmende onderbeklemtoning en/of verswyging van kontekstueel verbandhoudende waarheidsfeite, dien as strategie vir waarheidsmanipulasie ten einde sodoende 'n vooropgestelde waarheidsbeeld aan die publiek voor te hou, en wel in die belang van persone, instansies, partye of ideologie.

Hierdie waarheidsmanipulering deur die media bring mee dat sy onderskrywing van die Suid-Afrikaanse Perskode se gestelde waardes   -   waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid   -   verdag, deursigtig en bloot lippediens is. Dit is die media wat vir die SA-burgery wil besluit wát waarheid is.

Die media hou Mandela, 'n voormalige Russiesgesteunde SAKP-lid, uitsluitlik voor as die verlosser-ikoon van die "onderdruktes", maar verswyg sy aandadigheid aan die agendas van ANC-moordbeplanninge. In "Mandela & the Church Street Bombing", sê die skrywer; "...for some reason...the media are ignoring all of this and misrepresent the actual situation" (Terrorist Watch!,16.08.2011) Waarom?

Oud-generaal Johan van der Merwe sê in sy memorandum aan die Moderamen van die NG Kerk oor die Belharbelydenis: "Ek het oor verskeie feite in die memorandum onder eed voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig. Tydens die aflê van my getuienis was die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke deur 'n senior advokaat en regspan verteenwoordig. Geeneen van hulle het my getuienis in twyfel getrek nie." Stel die media hoegenaamd in Van der Merwe se WVK-getoetsde waarheidsfeite belang om dié te rapporteer, of wel eerder belang in die kommentaar van sy kritici?

So sou verdere voorbeelde van die SA Perskode se vermoede waardes-kontradiksie vermenigvuldig kon word. Die media se manipulasie van die volledige waarheidspektrum is agterdogwekkend. Dit stel lesers voor die uitdaging om "mediawaarheid"  met die regte perspektief versigtig te benader.




No comments:

Post a Comment