Friday 17 June 2016

Biko-rassismekriterium nie meer geldig

Prof. Xolela Mangcu van die Uinversiteit van Kaapstad lê die blaam vir die volgehoue voorkoms van rassisme in SA voor die deur van wyle oud-pres. Nelson Mandela. Hy beweer: "Mandela se grootste mislukking was dat hy nie Suid-Afrikaners gedwing het om hul eie rassisme te konfronteer nie...hy het die rassekonflik...net uitgestel...daarom beskryf ek hom...as 'n tragiese figuur   -   die held sterf, maar die tragedie duur voort" (DB,13.06).

Synde self swart, sal Mangcu ongetwyfeld die swart rassebewussyn en  -psige baie beter kan peil as ek, maar of die nasionale psigiese klimaat gedurende die Mandela-era   -   waartydens versoening sterk beklemtoon is   -   daarvoor gereed was, het ek my bedenkinge oor.

Vanuit swart geledere moes wittes al dikwels beskuldigend verneem dat swartes onmoontlik rassisties kan wees. Elkeen, met dié selfverontskuldigende bewering gekonfronteer, hanteer dit maar volgens eie ervaring.

Vanwaar dié onwrikbare geloof dat swartes nie rassiste kan wees nie? Leopold Scholtz lig die sluier ietwat hieromtrent wanneer hy sê: "Steve Biko was, sover vasgestel kon word, die eerste swart Suid-Afrikaner wat beweer het dat rassisme 'n uiting van mag teenoor dié sonder mag is...swartes kan nie rassiste wees nie omdat hulle geen mag het nie" (DB,16.06).

Met magsmonopolie as kriterium gekoppel aan rassisme, en die direkte oorsaak daarvan volgens Biko, ontstaan die vraag vervolgens: Maar hoe kan wittes ná 1994 dan nog steeds van rassisme beskuldig (en swartes verontskuldig) word na die magsverskuiwing vanaf wit na swart wat vanaf dié jaar plaasgevind het? Met die magsmonopolie nou rustende by swartes, blyk hul ontkenning van enige skuldigmaking aan rassisme inkonsekwent en ongeldig te wees in terme van die Biko-kriterium vir rassisme.

Die Biko-kriterium is waarskynlik lank reeds vervang. Wat is, daarom, die jongste kriterium(a) waarvolgens swartes wittes van rassisme beskuldig, en hoedanig legitiem blyk sodanige kriterium(a) te wees?




1 comment:

  1. Die Afrika-mens se "logika" verskil al eeue lank van die Westerse idee van logika. East is east and west is west, and never the twain shall meet, het Kipling lank tevore al gesê, en dieselfde is van toepassing op die Westerse en Afrika denke.

    ReplyDelete