Saturday 1 May 2021

Dié bekentenis behoort ondersoek te word




Koos van der Merwe (VdM) oud-LP (30.04) beweer dat apartheid nog nooit tot misdaad teen die mensdom verklaar is nie. Die resolusie van die Algemene Vergadering van die VN in November 1973 was slegs 'n "aanbeveling" in verband met laasgenoemde, en nie bindend op VN-lede nie.

Die Internasionale Strafhof se verklaring van apartheid tot misdaad teen die mensdom in 1998, is "bloot gedoen op grond van die aanbeveling van 1973." VdM sê die "groot nasies (het) nie die 1973-aanbeveling ondersteun nie." So, waar laat dit ons met oud-pres. FW de Klerk se "bekentenis" van 17 Februarie 2020 dat "apartheid 'n misdaad teen die mensdom" was?

Watter doel dien so 'n "bekentenis", 26 jaar die nuwe SA binne, behalwe dié van die skepping van 'n gelegitimeerde platform vir ANC-vergelding in die vorm van plaasaanvalle en -moorde, brandstigting, vandalisering, regstellende aksie,SEB, rassediskriminasie en die vernietiging van ander se kultuurerfenisse?

Tot tyd en wyl De Klerk VdM se bewering bewysmatig weerlê, kan laasgenoemde se bewering nie sonder meer verwerp word nie. Sou die De Klerk-"bekentenis" as ongeldig bewys word, kan die verdere voortsetting  -  en die vernietigende uitwerking daarvan op ons Suid-Afrikaanse samelewing (lees: minderheidsgroepe)  -  nie langer toegelaat word nie. 

VdM se bewering behoort daarom ondersoek te word en, in die lig van die bevindinge daarvan, opgetree te word  teen die ongrondwetlike misbruikmaking deur die ANC van dié De Klerk-"bekentenis".


No comments:

Post a Comment